Juanita du Plessis is op hierdie week se voorblad! Loer ook na nóg foto’s van haar fotosessie!
Juanita sê…
Vir my is die mooiste mooi die prentjiemooi sonsondergange in die Bosveld en op Hentiesbaai.
My lekkerste dag is om net in die bed te bly lê en reekse te kyk en popcorn te eet!
Ek voel geliefd wanneer ek in my man se arms kan lê.
‘n Groot bederf vir my is ‘n hele pizza met baie knoffel en rissiesous!
Wat my die ongelukkigste en hartseer maak, is ander mense se seerkry, swaarkry en pyn.
Wat my moedeloos maak is ons land se korrupsie, die betogings en optogte en plaasmoorde.
Ek droom oor my aftrede, kleinkinders en rustigheid in my lewe.
As ek my lewe kon oor leef, sou ek presies dieselfde wou doen, want in elke situasie deur my lewe – goed en sleg – het ek waardevolle lesse geleer wat my as mens sterker gemaak en my karakter gevorm het.
Ek het ‘n oorvloed sonder roem en rykdom: my gesin, geliefdes, geluk en gesondheid is oorvloedige seëninge.
My kosbaarste besittings is my Taylor-kitaar wat ek in Nashville gekoop het en ‘n diamantjie wat my oorlede pa, Piet, vir my ma as geskenk gegee het toe ek gebore is. My eie kinders se geboorte is vir my ‘n absolute wonderwerk en gawe uit God se hand.
Ek hanteer konflik moeilik. Ek wil nie ander mense seermaak nie. Maar ek het ook geleer dat jy soms jou sê moet sê en nie altyd moet stilbly nie.
Alles raak beter as jy ouer word! Soos die gesegde sê: “Met grysheid kom wysheid”
20 jaar in syfers
- CD-verkope: 2 028 244
- DVD-verlope: 439 592
- Konsertoptredes: 2 128
- Kilometers gereis: 1 100 000
- Gehore: 3 000 000 mense
- Musiektoekennings: 50 plus
- Goue en platinumalbums: 61 (drie goud)
- Top 10-treffers: 82
- Nommer 1-treffers 34
- YouTube-klieks: 6 640 000
- Aanlynstroom: 4 890 000 (slegs die afgelope drie jaar)
- Tydskrifvoorblaaie: 27
(Syfers teen dié skrywe – 1 Augustus 2018)