Die treffers Die Oukraalliedjie, Die padda wou gaan opsit, Daar is niks soos ware liefde, Dink jy darem nog aan my? en Kumbaja is volksbesit!
Deur CHRISTIAAN J DE SWARDT
Maar Gert van Tonder, die een helfte van die duo Groep 2 (saam met Sias Reinecke), wat in die jare sewentig die Afrikaanse musiektoneel oorheers het en ook in die buiteland welslae bereik het, het as kind geen drome van roem in die vermaakbedryf gekoester nie.
Hy, sy ouers, Johannes en Susanna, en sy vier broers, Machiel, James, Johan en Burnard, was deel van slegs 32 gesinne in daardie Bergplaasgemeenskap.
“Ek was tien jaar jonger as my broer wat net ouer as ek was. Die ouderdomsgaping was groot en gevolglik het ek en my broers mekaar nie goed geken nie. Ek het alleen grootgeword en dalk is dit ook die rede waarom ek eintlik ‘n introvert is.
“My ouers was egter dierbare, Godvresende en wetsgehoorsame mense en ek is in daardie milieu grootgemaak. Ek is elke dag dankbaar dat ek in daardie pragtige omgewing saam met die dierbaarste mense kon groot word.
“My pa wou graag dat ek medies op Stellenbosch moes gaan studeer, maar omdat my ouers reeds amper 40 was toe ek gebore is, het ek verkies om te gaan werk sodat hulle in hul laaste jare vóór aftrede ‘n bietjie finansiële vryheid kon geniet. Baie jongmense van daardie tyd het maar stede toe gegaan om werk te soek en siende dat twee van my broers in Port Elizabeth gewoon het, het ek besluit om daar ‘n werk te soek. Só beland ek toe in die laboratorium van ‘n buitebandfabriek, waar ek deel van die kwaliteitsondersoekspan was.
“Aan die einde van die jaar het ‘n ander broer, wat in Durban gewoon en gewerk het, vakansie by die huis kom hou. Onderweg het hy my opgelaai en ons het vir my ouers gaan kuier. Die fabriek het tussen 15 Desember en 3 Januarie gesluit. Tydens die vakansie het my broer voorgestel ek bedank wanneer die fabriek heropen, werk my kennismaand en gaan dan Durban toe waar ek verder kan studeer, by hulle kom bly en dat hy my studiegeld sou betaal. Ek het die aanbod met albei hande aangegryp!”
Die volgende jaar het Gert by die destydse tegniese kollege in Durban ingeskryf vir ‘n driejaarkursus as gesondheidsinspekteur. Hy kon egter nie verwag dat sy broer vir alles moes betaal nie en het begin soek na ‘n werk waar hy Woensdagmiddae kon afkry vir die klas van eenuur die middag tot seweuur die aand. Ná twee onderhoude – waar hy nie die werk kon aanvaar nie, omdat hy nie Woensdae kon afkry nie, het hy uiteindelik ‘n pos by die SAUK as ‘n bedryfsassistent gekry. Hy kon skofte werk en sodoende reël dat hy sy klasse kon bywoon.
Die uitsaai-ikoon Verna Vels het hom daar sy eerste rol in ʼn radio-jeugdrama aangebied en Gert het meteens besef wat hy regtig wou doen: “Ek het besef ek wil sing, ek wil liedjies skryf, ek wil omroepwerk doen en romantiese rolle in rolprente vertolk.”
En hy hét.
Dit was bloot bestem dat daardie mooi, diep stem wyd gehoor moes word: in radioverhale, Kleinteater en Radioteater, oorklankrolle (onder meer Goeiemôre Alaska) ‘n klomp TV-produksies (as akteur en 14 jaar lank mede-aanbieder van Wielie Walie) en agt rolprente (onder meer Die Rebel).
Maar dit is sy sangstem wat die meeste mense goed ken. Hy was immers ook ‘n lid van die duo Groep 2, Suid-Afrika se suksesvolste duo nóg – met plateverkope wat volgens nie-amptelike syfers oor die tweemiljoenkerf strek. Gert het ook in sy loopbaan oor die 160 liedjies geskryf, waarvan die bekendste oorspronklike liedjie (musiek en woorde) sekerlik Haas Das se Nuuskas is. Sy lirieke vir die liedjie Sproetjies, op ‘n Amerikaanse wysie, het aanvanklik in die snippermandjie beland, maar is gelukkig opgediep en dit het toe sy sangmaat, Sias Reinecke, se suksesvolste treffer geword. Saam met die Belgiese sangeres Dana Winner se opname daarvan is oor die 300 000 plate en CD’s verkoop.
Dié bekroonde ikoon is 75 jaar oud en vier vyftig roemryke jare in die vermaakbedryf.
Leer ken hom beter as mens in Vrouekeur van 7 April.
- Verjaardag: 29 Junie (1941)
- Konsertoptredes: 082 782 8191 of [email protected]