Die Suid-Afrikaanse akteur Arnold Vosloo, wat die afgelope 32 jaar in Amerika woon, speel die hoofrol in die plaaslike rolprent Griekwastad. Maryke Roberts het met hom gesels
Ons gesels by die Silwerskermfees op Kampsbaai, waar die rolprent Griekwastad Moorde sy internasionale debuut gehad het. Hy is vir net vir ses dae in die land om die première by te woon en vir by sy ma, Joyce, en suster, Nadia Vosloo, op Alberton te gaan kuier.
Die fliek is deur die produksiehuis SCENE23 vervaardig; die Safta-wenners Tertius Kapp en Jozua Malherbe is onderskeidelik vir die teks en regie verantwoordelik. Die fliek kon weens die staat van inperking nie nasionaal in teaters wys nie, maar is nou op DStv beskikbaar. Die rolprent is gegrond op die moorde van Deon en Christel Steenkamp en hul dogter, Marthella (14), op hul plaas, Naauwhoek, buite die dorp. Marthella is ook verkrag. Hul seun, Don (15 ten tyde van die moorde) is in 2014 aan die gruweldade skuldig bevind. Arnold speel die rol van kolonel Dick De Waal, die ondersoekbeampte in die saak, in sy eerste Afrikaanse rolprent in meer as 30 jaar.
Arnold is gereeld op ons TV-skerms. Meer onlangs was hy op die kassie in Amerikaanse treffers as Marko Jankowics in een van die The Blacklist-episodes; hy was nege episodes as Rudy Tafero in Bosch en Armand Smit in Criminal Minds: Beyond Borders. Hy was ook al in 24, NCIS, Shark, Bones, Crisis, Voltron: Legendary Defender en vele meer.
Die Kampsbaai-strand is vol toeriste. Die branders breek spierwit op kobaltblou waters en die palmbome wieg effe in die oggendwindjie. Hy kyk oor die see en sê dis effortless om terug te wees in sy land.
“Dis regtig lekker om terug te wees in Suid-Afrika. Ek weet hoe warm of koud dit gaan wees, ’n ou voel dit in jou vel, dis so organies. My ma het vroeër een keer per jaar by my kom kuier, maar sy is nou 85 en nou kom kuier ek meer gereeld by haar. Terwyl ons Griekwastad geskiet het, het ek haar gelukkig baie gesien.”
Sy ma en suster het by die première langs hom gesit. “Dis spesiaal om vir my ma ’n Afrikaanse rolprent te wys. Enigiets in Afrikaans is ’n moerse gebeurtenis. My ma is nie beïndruk met Hollywood en hul flieks nie; sy dink dis stupid, maar enigiets in Afrikaans is amazing en dan weet al haar vriendinne by die haarsalon. As jou seun die talk of the hairsalon is, then you’ve made it!” Hy lag lekker.
“Dit was emosioneel om die fliek op die groot skerm te sien. Ek het die teks seker 20 keer gelees – voor die verfilming begin het en tydens verfilming en ek het langs die kamera gestaan, ek was voor die kamera. Ek het myself só ingeleef al het ek die storie só goed geken.
“Ek was aangeraak deur die storie. Ek het nie besef die man wie se karakter ek vertolk, Dick van Wyk – nou ’n brigadier in die polisie – sit aan die einde van die ry en kyk die fliek saam nie. Toe die eerste note van Starry, starry night aan die einde van die rolprent begin speel; steek hy sy hand uit en hou my hand vas. Hy het begin huil en toe my ma begin huil, was ek heeltemal in my moer in. Dit was asof daardie gebaar my laat verstaan het:‘You did okay.’
“Die emosies was ’n verrassing vir my, want gewoonlik is ek baie professioneel, maar dié ding het my gevang. Ek het Dick nie voorheen ontmoet nie, omdat ek bang was dat hy ’n nice ou is en jy dalk nie reg aan hom as mens laat geskied nie; of te veel van sy maniërismes sou wou weergee en nie reg aan die storie laat geskied nie. Dan worry jy oor hom, en nie oor jouself nie.
“In terugskouing is ek bly ek het hom nie ontmoet nie.”
Hulle het ná die vertoning saam gekuier, maar glad nie oor die rolprent gesels nie. Arnold sê vir hom is die rolprent klaar; hy het nie vrae vir Dick nie. “Ek het hom en sy vrou, die regte Henriëtte, ontmoet, ons het net oor die lewe gesels. Goeie mense, sout van die aarde. Daar is ongelooflike mense in hierdie land; wat deel van die oplossing wil wees, en hy is een van hulle.
“Hy het ’n ongelooflike brein. Ek het van sy notas gelees, dis ongelooflik. ‘Naauwhoek-plaashek, skakel die bakkie af, 17 sekondes om die hek oop te maak; 18 sekondes om die hek toe te maak; loop na die voordeur 24 tree …’ Van die oomblik wat hy op die moordtoneel gekom het, was hy switched on – ‘Ek is hier om ’n job te doen.’ Don het ses minute gehad om dorp toe te ry en dit was waar sy vertrekpunt was.”
Wat doen so ’n fliek aan jou as mens, wonder ek.
“Jy dink aan daardie 14-jarige meisiekind. Jy kyk na die foto van haar laggende gesig. Dis verskriklik. Dit breek jou. Dat ’n 15-jarige tot só iets in staat kan wees – teen sy eie mense. Ek soek nie vir redes nie, hy het dit gedoen en hy is skuldig. Mens kan net spekuleer wat daar gebeur het.”
Arnold sê hy het nie destyds die moordondersoek gevolg nie. “Ek lees daagliks Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe en tussen een van die honderde of duisende berigte van die skrikwekkende goed wat hier gebeur, het ek dit raakgelees, maar kon net vaagweg die saak onthou het toe die teks voor my beland.
“Ek het nie toe besef hoe ’n groot impak die gebeure op Suid-Afrikaners gehad het nie. Toe ek vir my ma en suster sê ek het vir Griekwastad ja gesê, het hulle onmiddellik gesê: ‘O, ja, die Don Steenkamp-ding.’”
Hy sê die draaiboek was die aantrekkingskrag. Die hele draaiboek was so mooi geskryf en die storie so interessant. Dit was nie ’n who dunnit nie, maar why.
Dit laat jou nadink oor van iets wat gebeur en wat die rimpeleffek van die gebeure is.
“Ek het die rol binne 24 uur aanvaar. Ek het ander aanbieding in Amerika gehad, maar ek het gesê: ‘Stop daai ding, ek gaan Suid-Afrika toe en om hierdie fliek te doen.’”
Hy sê dit was heerlik om weer saam met Suid-Afrikaners te werk, want daar is ’n groei in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf; dis algeheel meer gesofistikeerd – van die rolprentmakers tot die akteurs.
“My laaste Afrikaanse rolprent was die Boetie-flieks toe ek 21 of 22 was. In daai dae was ons passievol oor die projek, maar daar was nie goed soos woonwaens en ander luukses nie.
“Dieselfde met hierdie storie. Kobus, Tim en Tracey het gesê ons het net geld om die rolprent te maak; jy het nie eens ’n stoel nie, jy sit daar op ’n klip. So dit was baie dieselfde as die Boetie-ervaring – jy is net daar om die fliek te maak en almal staan saam.”
As hy op sy loopbaan terugkyk, is daar geen rol wat hy al gespeel het waarvoor hy onthou wil word nie – nie eens vir sy rol in Griekwastad nie.
“Die dinge waarop ek die trotsste is, is die feit dat ek 37 jaar ’n professionele akteur is. Ek betaal my kar en my huis en my water en ligte met my werk as akteur. Dis ’n lekker gevoel. Ek het ’n loopbaan oor soveel jare onderhou en dis moeilik. Jy raak uit die mode, te oud, mense wil jou nie sien nie, of wat ook al die rede is, maar om een of ander rede is ek gelukkig genoeg om nog daar te wees.”
Hy sê sy droom was nie van jongs af om hom in Amerika te vestig nie. “Ek wou oorsee gaan en daar gaan werk; ek wou in daardie arena meeding. Maar as ek nou vir my jong self kon raad gee, sou ek sê: ‘Moenie gaan nie.’ Ten spyte van al die wonderlike goed wat gebeur het, soos die oorsese rolprente, die geld en die wonderlike Amerikaanse vrou, Silvia, wat ek daar ontmoet het.
“Dis ’n moerse opoffering. Jy los jou mense; jy los jou ma en pa; jy los jou tribe. Op daardie oomblik dink jy nie dis belangrik nie, maar dit is.
“As ek nou terugdink, wens ek ek het meer tyd saam met mense hier deurgebring. Miskien voel ek so omdat ek sukses behaal het. As ek nie sukses behaal het nie, het ek dalk anders gevoel.”
Hy vertel dat hy in 1989/1990 Amerika toe is as deel van ’n Markteater-toneelstuk, Born in RSA, met Barnie Simon as regisseur. Hulle het deur Chicago, Seattle en San Fransisco getoer.
“’n Agent het my daarin gesien en gevra of hy my in Amerika kan verteenwoordig.
“Die eerste rolprent het gou daarna gekom: Hard Target. Daarna het dinge net gebeur. Ek bly van toe af in Los Angeles. Dit was baie alleen en emosioneel moeilik. Ek het vasgebyt en dit het makliker geword; natuurlik ook nadat ek my vrou, Silvia, ontmoet het.
“Ons het ’n reël dat ons mekaar nie langer as drie weke nie sien nie. Sy vlieg na my toe, of ek vlieg na haar toe. Ons is goeie pêlle, ons hou van mekaar en ons lag baie.
“Ons favourite tydverdryf is om in die hotelkamer te bly en room service te bestel. Ons is in hierdie amazing stede, maar besoek nie museums of gaan na restaurante toe nie. Ons bly in die kamer en lag saam.”
Hy vertel van al die akteurs saam met wie hy al gewerk het, Al Pacino sy voete onder hom uitgeslaan het. Hulle het saam op Broadway in die toneelstuk Salome gespeel.
“Ek het baie by hom geleer. Hy stel meer belang in die subteks en die tegniek wat hy gebruik om die subteks deel van sy karakter te maak, is een wat ek aangeleer het. Hy is professioneel en gee om vir die mense om hom. Ek was siek en hy het vir my sy ma se tuisgemaakte sop gebring dat ek kan sterk voel vir die aand se optrede.
“Die ander akteur is Leonardo di Caprio, wat nie net vir homself daar is nie – hy is daar om goeie werk te doen.”
Hy lag en sê Jean Claude van Damme is die “aakligste” mens nog saam met wie hy gewerk het.
Naas sy rol in Griekwastad, was hy ook in Jack Ryan se tweede seisoen op Amazon.
Nog vrae aan Arnold
Was jy al voorheen by die kykNET Silwerskermfees?
Nee, dit was my eerste keer by die Silwerskermfees en ek het nie besef hoe groot die fees is nie. Ek het ook nie geweet dis ’n kompetisie nie en toe dit hoor, wou ek natuurlik hê ons moet wen, want ek is mededingend. In nege jaar het hulle met hierdie fees só baie vermag en vir rolprentmakers en akteurs kanse gegee – in regte boer-maak-’n-plan-styl. Dis wonderlik om te sien dat daar positiewe dinge uit my bedryf kom in ’n land waar daar soveel negatiewe stories is. Ek wens daar was so iets toe ek 21 was!
Wou jy altyd akteur wees of het jy drome om rolprente te maak?
Ek wou nooit ’n regisseur wees nie. Ek is ’n sprinter, nie ’n marathonatleet nie. Om ’n fliek te maak, vat meer as ’n jaar van jou lewe. Dis ’n lang storie en ek het nie die geduld daarvoor nie. Ek vlieg net in, doen my ding en vlieg uit.
Wat mis jy van Suid-Afrika en is daar ’n ritueel wat jy elke keer volg as jy in die land is?
Ja, ek koop ’n Bar One en ’n Stoney-gemmerbier en dis nog net so amazing as drie dekades gelede. Hulle het nog nooit hul smaak verander nie en as hulle die resep verander, gaan ek vir hulle ’n brief skryf …
Wie van jou familie is nog hier?
My ma, Joyce, en suster, Nadia. My pa is lankal oorlede. Hulle woon albei in Alberton. Nadia is sewe jaar ouer as ek. Ek het ook ’n klomp niggies, nefies, ooms en tannies. Ons is erg familievas en ek is veral na aan twee neefs aan my ma se kant. My ma se nooiensvan was Vorster en my Vorster-neefs is soos my broers.
Sien jy veranderinge en verbeteringe elke keer as jy kom kuier?
Suid-Afrika is nog “huis toe kom” vir my. Maar elke keer as ek terugkom, is daar meer negatiwiteit onder mense. Daar is positiewe dinge ook, maar elke keer as ek kom kuier, blyk dit negatiewer te wees. Dis die rede hoekom ek nie by Suid-Afrikaners in Los Angeles kuier nie. Ek wil dit nie hoor nie – al is dit waar. My vrou werk vir Ernst & Young. Sy is ’n syfermens en kyk na die syfers van die land. Hoeveel kinders matrikuleer, wat in die skole aangaan. Dis die een ding van Suid-Afrika wat my baie kwaad maak – dis een ding as jy nie vir mense huise kan bou nie omdat daar ’n tekort aan sand of wat ook al is, maar daar is boeke en bordkryt en twee plus twee bly vier. Die feit dat kinders in graad 7 is en nie kan lees en skryf nie, is onvergeeflik. As jy hulle nie reg grootmaak en reg leer nie, dan is ons regtig in ons moer.
Is Imhotep in The Mummy die tipe rol wat jou loopbaan op ’n sukses-wentelbaan geplaas het, of watter rol het vir jou die deure in Amerika oopgemaak?
Hard Target was baie goed vir my. En dan ook die werksetiek. Goeie ou Suid-Afrikaanse werksetiek is die rede hoekom ek ná bykans 40 jaar steeds werk het daar oorkant. Ek dink die Mummy se fisieke teenwoordigheid het mense beïndruk – ek wou net ’n man speel wat verlief is – ongeag van sy storie.
Jy is sedert 1998 met Silvia Ahí, ’n Meksikaans-Amerikaanse bemarkingsdirekteur, getroud. Waar het julle ontmoet?
Ek het haar op my eerste en my laaste blind date in my lewe ontmoet. Ons is nou 20 jaar getroud. Die weird ding is dat ek binne ’n week ná ons ontmoet het, besef het sy is die een vir my. Ek het nie vir ’n lewensmaat gesoek nie, ek is drie maande in ’n hotelkamer, tuis vir twee maande en dan weer weg. Die gypsy-lewe het my goed gepas en ek wou nie nie kinders hê nie, so ek het nie ’n maat gesoek om voort te plant nie. Dit was net nooit ’n issue nie, maar toe ek Silvia ontmoet, het ek besef ek gaan hierdie vrou vra om te trou en onmiddellik die dorp verlaat. Ek het gevoel ek moet iewers ’n werk soek en sewe maande wegbly en van haar vergeet!
Sy is derde generasie Latino, haar voorouers kom uit Mexiko, maar sy is in Los Angeles gebore en getoë. Ek dink oor haar Hispanic-agtergrond, was die aanpassing vir my op ’n manier makliker.
Wat is die eienskap in Silvia wat jou die meeste aantrek?
Haar goedheid as mens, haar gaafheid teenoor almal om haar – mens en dier.
Is Los Angeles en Hollywood so oppervlakkig en alleen as wat mens dink?
Ja, dis so plastiek as wat kan kom. Almal het ’n agenda. Jy bly in ’n hotel en die persoon wat jou kamer skoonmaak vra wat jy doen. As jy antwoord: “Ek is ’n akteur,” wil hulle jou hul teks in die hand druk. Almal wil weet of jy hulle kan help om movies te maak? Almal, almal, almal, elke Uber-drywer, die vrou wat jou parfuum verkoop, almal het ’n agenda. Almal is daar oor die rolprentbedryf.
Hulle herken my nou, maar baie keer lieg ek sommer, veral noudat ek ouer en gryser is. Hulle vra: “Is jy die ou van die Mummy of van 24?” Dan sê ek: “Nee, ek is nie”, maar dis bleddie frustrerend, want mense nader my seker tien maal per dag om te sê ek lyk soos hy.
Mense sien my ook gereeld vir die Amerikaanse akteur Billy Zane aan en as Billy lelik is met aanhangers, dan dink hulle weer dis ek en dan glo hulle Arnold is ’n onsmaaklike mens.
Jy het die afgelope 15 jaar in twee ander Afrikaanse rolprente gespeel: Forgiveness en Blood Diamond. Albei het duidelike sosiale en geskiedkundige boodskappe van onreg wat gepleeg is. Kies jy doelbewus hierdie rolle omdat jy voel jy moet help regstel wat in die verlede op die kontinent verkeerd geloop het?
Dis bloot toeval en dit gaan altyd oor die storie en die skryfwerk. Ek het verskriklik baie respek vir die skrywers, wat nie genoeg erkenning vir hul werk kry nie. As dit mooi geskryf is, is die subteks minder belangrik. Daar was ’n paar ander aanbiedinge uit Suid-Afrika, maar ek het nie van die teks gehou nie.
Ek is ’n sucker. Ek lees verskriklik baie, ek is ’n boekwurm en konserwatief gesproke lees ek omtrent ’n boek ’n week. As ek enigsins tyd vir myself het, lees ek. Ek is juis besig met boek wat Jozua Malherbe op die stel van Griekwastad vir my gegee het: Ivan Vladislavić se Portrait with Keys. Ek lees enige ding – Afrikaans, Engels, kortverhale, enigiets.
Andy Warhol, wat gewoonlik so oppervlakkig was, het gesê: “Sex in the pages of a book is better than between the sheets of a bed.”
Ek het iewers gelees jou pa het ’n inry gehad toe jy kind was. Dis iets wat heeltemal by ons uitgesterf het. Het julle dit nog in Amerika?
Nee, daar is nie meer inrye in Amerika nie en ek is jammer dat ek nie my kleinseun, Joaquin Escarcega, daaraan kon blootstel nie. Ek het nie kinders nie, maar Silvia het ’n seun, Anthony Escarcega, en ons geniet ons kleinseun baie. Ek het sommer direk na oupastatus gevorder. Ek is bly ek het nie kinders gehad nie, maar geniet dit met hom; om met hom te gaan stap en die wêreld deur sy oë te sien.
My liefde vir toneelspeel kom heel moontlik van die inrydae en van my ouers af. Hulle was albei akteurs in die Johan Nel-geselskap wat van dorpie tot dorpie getoer het. Toe my suster, Nadia, gebore is, het my ouers die inry op Uitenhage gaan bestuur, om ’n meer gevestigde lewe te hê. Ek onthou daardie dae in my pa se DKW-stasiewa, waarmee ons flieks gekyk het. Ek dink dit het destyds iets in my wakker gemaak. Ek het ook lekker oor die inry se heuweltjies fietsgery.
Som jouself in vyf woorde op?
Hardwerkend. Beleefd. Nugter. Lojaal teenoor my vriende, my vrou en my medewerkers. Skuus, dis net vier.
Wat is jou swakste eienskap?
As ek nie iewers heen wil gaan of wil vertoef nie, gaan ek nie beleefd wees nie. Ek is impulsief.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.