Het jy geweet Manuel Escorcio is versot op karamelkondensmelk, ‘n koordirigent en hou glad nie van komkommer in sy slaai nie? Hy is ‘n baie interessante man! Lees meer hier
Deur CHRISTIAAN J DE SWARDT
“Jy gaan teëspoed op jou pad raakloop, maar dit beteken nie jy moet dan moed verloor en ophou stap nie. Daar is ‘n oase op die horison,” meen Manuel Escorcio wat bekendheid verwerf het as die geliefde Portugese Boertjie – met treffers soos Donkerbruin oë, Vrygesel en Feestyd se wyse (in duet met Janita Claassen). Hy vier vanjaar vier dekades in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.
Die sangmeerster Wilhelmina Dunbar was sy eerste sangslyper en prof George van der Spuy het Manuel se stem en tegniek aan die Konserwatorium by die Universiteit Stellenbosch ontwikkel. Manuel se goue, liriese tenoorstem is die eerste keer in 1974 oor die radio gehoor in Esmé Euvrard se program Esmé se musiek-album. As hooftenoor by die provinsiale kunsteraad Kruik het Manuel in meer as 30 operas opgetree. En met sy sjarme het hy die liefhebbers van ligte operamusiek in treffende styl bekoor.
Hy het saam met Janita Claassen, die Jubelatum-sangers, Gé Korsten en Philip Kotze (as Die Drie Tenore), Charl van Heyningen, Rina Hugo en sy geestelike kwartet Melody 4 opgetree en opgeneem. Sy huidige sangmaat is Belia Lourens, ‘n ligte sopraan van Porterville. Hulle toer nou deur die land met hul duetproduksie, Sy en satyn.
Talle toekennings het Manuel te beurt geval: van die SAUK se Artes vir die beste sanger en die Nederburgprys vir sy operadebuut in se L’Elisir d’amore by Artscape in 1977, twee Springbokradio- Sarie-pryse (beste album en beste sanger in 1982), Samro en ATKV-Liertoekennings, ‘n SAMA-benoeming in 2009 – en die medalje en titel Comendador van die Portugese regering vir sy diens tot musiek.
In 2009 is hy by Skouspel as ‘n Suid-Afrikaanse musiek-ikoon vereer en in 2010 was hy die wen-afrigter van Supersterre.
“Toekennings, eerbewyse, roem, geld en al daai dinge is bloot die stempel op dit wat jy goed gedoen het. Dit is ‘n bonus wat volg op harde werk en algehele toewyding aan ‘n nering waarvoor ek lief is: musiek! In die konteks van erkenning op en die goedkeuring van professionaliteit is dit belangrik. Dis nie om mee te brag of om jou toestemming te gee om windgat te wees en jou belangriker as iemand anders te ag nie!” meen Manuel.
Dit is 2017 en Manuel kan spog met 53 albums, CD’s en DVD’s (met goue en platinumstatus) en 4 500 optredes in Suid-Afrika en regoor die wêreld. Manuel is inderdaad ‘n internasionale kunstenaar. Hy het al nagenoeg 50 keer na die buiteland gereis vir optredes daar; 23 keer na Amerika. Tussen sy ander oorsese optredes is Australië, Brasilië, Kanada, Nieu-Seeland, Portugal, Venezuela, die Filippynse Eilande en selfs Fiji en Alaska. “Ek het twee keer daar gaan sing – met ‘n temperatuur van -35 °C!”
Vaardighede
Manuel is ‘n ongelooflike goeie motiveringspreker, koordirigent en hoogaangeskrewe beoordelaar van koorsang. Hy was vier jaar lank die koordirekteur van die Hottentots Holland-koorvereniging op Somerset-Wes. As regisseur het hy produksies van Handel se Messiah, Hayden se Creation, Bach se Coffee Cantana en Steiner se Crucifixion behartig. Manuel se kundigheid word gereeld met meesterklasse in die buiteland verbind.
Presisie is een van sy beste eienskappe en wanneer die kar se kattebak gepak moet word, is hy in sy element! “Ek kan enige ding mooi regpak, want ek hou van orde en dinge moet bloot netjies wees.”
Omkrapdinge
- Sangers met ‘n attitude.
- Ek haat taxi’s.
- Moenie komkommer of spruitkool in my slaai sit nie!
- Luidrugtige, onbeskofte, materialistiese, oppervlakkige vroue.
- Dit was besig is om in ons land te ontvou. Ek wil ook ‘n boek skryf: Cry Louder, the Beloved Country.
Kwelkwessie
“Die musiekbedryf het baie verander – in sekere opsigte ten goede en in ander opsigte ten slegte. Dit is vir my asof ons iets langs die pad verloor het. Dit is asof talent geensins waarde het nie; eerder met wie en in watter kamp jy jouself bevind. Dit klink vir my soos die Mafia. In dié proses vergeet ons die ouer sterre. Hulle word gemarginaliseer en in een hoek ingevee. Elders in die wêreld, soos in Amerika, word ouer kunstenaars as legendes gereken; nie as has-beens, soos hier nie!
“Wel, daar is geen oplossing nie en in die proses kwyn baie van ons gevestigde kunstenaars, want ons pas bloot nie meer in die raamwerk van TV en radiostasies se nuwe Afrikaanse klank nie.”
Onverwagshede
- Ek verpes rook (sigaret en pyp!). Ek was kleintyd asmaties en het twee keer by die dood omgedraai.
- Ek het een aand laat by een van hierdie spoedkameras stilgehou en probeer om die paal af te breek!
- Ek wil nog eendag daardie wreedaarde wat renosters vermink se knaters met koeëls verpletter.
- Sjuut, maar ek slaap graag kaal …
Genietinge
Hy is versot op karamelkondensmelk, ‘n siësta, ‘n bord lekker tradisionele Portugese kos, om ‘n week lank op Mauritius te sit, niks te doen nie en net te ontspan, ‘n stoomtreinrit enige plek in die wêreld, ‘n warmlugballonrit oor die berge vroegoggend, ‘n wintersaand voor die kaggelvuur in ‘n cottage in die middel van die Sederberge in die Kaap of die sonsondergang op Montagu se strand. Hy geniet ‘n goeie boek, kuns en onderdakkrieket.
Herinneringe
Sy paadjie het met talle bekendes gekruis en hy omvou die herinneringe met nostalgie. “Wat ‘n voorreg was dit nie om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat in Sun City se Superbowl op te tree nie. Daardie dae was dit mos net vir oorsese kunstenaars bestem. Ek het saam met Gerrie Bosman se 18-stuk-orkes opgetree. Dit was soos ‘n droom toe ek op daardie verhoog stap.” Manuel vertel ook van die keer toe hy Muhammad Ali by sy huis in Michigan ontmoet het en daar weg is met ‘n paar rooi bokshandskoene wat dié bokslegende vir hom as geskenk gegee en boonop geteken het! Manuel het Luciano Pavarotti ná ‘n opvoering in Wene ontmoet. “Ek het lank in die ry gewag en die oomblik was groot toe ons blad skud en hy my program teken. Maar wat ek nooit sal vergeet nie, was 1966 toe ek en my ouers Suid-Afrika toe gekom het. Dit was die begin van ‘n nuwe lewe!”
Die Toekoms
“Ek skryf nou ‘n boek oor my lewe. Dis interessant en baie pret. So baie stories, so baie herinneringe, so baie episodes … Ek oorweeg dit ook sterk om my doktoraal in musiek te doen. Ek hou van uitdagings!”
Manuel sê hoop en optimisme is deel van sy resep. “Ek bly optimisties, want ná die nag kom die sonlig, ná die donker kom lig, ná die ‘uphill’ kom die ‘downhill’. Ná moeilike tye kom verligting.”
- Manuel Maria Lamarque Escórcio verjaar 16 Desember (1949)
- Konsertbesprekings: [email protected] of belialourens.co.za vir Sy en satyn-optredes