Ons voorbladman antwoord ‘n paar vrae
As jy vandag terugkyk oor jou loopbaan, is dit beter as wat jy verwag het?
Ja, dis baie beter as wat ek verwag het. Ek het die hele wêreld deur gesing, was op die verhoog saam met Amy Winehouse, Queen en Elton John. Ek koester elke oomblik of dit nou in Cafe Roux in Noordhoek is of Hydepark in Londen, dis almal kosbare herinneringe. Ek geniet nou weer die intieme optredes met net twee kitare en my stem.
As jy jouself in een woord moet opsom, wat sal dit wees?
Passievol … oor alles. Nee, dalk eerder lewenslustig?
Hoe het jul lewenstyl verander sedert julle Kaap toe getrek het?
Ons is omring deur ongelooflike goeie restaurante en wynplase; ons gaan piekniek by Warwick en lê ’n hele dag op ons piekniekkombers en kyk na die bome. Ek geniet dit om tuis te wees en met Kyrah te swem, haar eindelose kere van die swembad se rant af te vang; om rustig te wees met Dunay. Ons dink die Kaap is fantasties. Dit leer jou dat jou volgende treffer nie altyd die belangrikste ding in die lewe is nie.
Het julle nou vir goed die Gautengse stof van jul voete afgeskud?
Nee, ons is steeds mal oor Gauteng, maar in hierdie stadium van my lewe voel dit of ek vryer kan asemhaal in die Kaap en ook rustig kan wees in die wete dat my gesin veilig is tuis. En boonop is hier meer plekke met speelparkies vir kinders.
Ek lees op jou webwerf jy sê jy kan nie sonder jou foon, DVD’s en musiek leef nie. Is jou selfoon ’n verlengstuk van jou hand?
Nee, maar my foon is my kantoor. Sonder hom is daar nie werk nie en dus geen inkomste nie, maar ek is nie vasgegroei daaraan nie.
Hoe ervaar jy Suid-Afrikaanse gehore?
Suid-Afrikaanse aanhangers is baie vergewensgesind teenoor sangers – ongeag hoeveel slegte publisiteit hulle kry – solank daar net ’n nuwe treffer uit is, waarna almal kan luister. “Hulle is toegeeflik én krities,” vertel hy.
Wat geniet jy as jy nie sing nie?
Ek hou van die buitelewe en hengel graag, geniet skubaduik, gholfspeel, snorkel en wildritte. Ek is ook mal oor lees.
Jy het jou eie wyn en eie bier?
Ja, die Val de Vie Kaptein-wynreeks is al ’n rukkie beskikbaar op die landgoed en ook by Checkers-takke en die “Kaptein span die seile”-bier word binnekort bekendgestel. Ek het nog nooit gehuiwer om van lekker rooiwyn in my lirieke te praat nie en die bemarking van dié wyn berus op die idee dat “’n goeie bottel rooiwyn ’n bottel vol lirieke is wat net wag vir die regte melodie”. Die Rhône-versnit is presies die styl waarvan Kurt hou.
Wat geniet jy en Dunay as jul reis?
Ons was al op baie plekke van die ski-hellings van Oostenryk tot die Bahamas en Jamaika, maar Venesië en Frankryk is ons gunstelinge. Ons hou van goeie kos en wyn, die geskiedenis van die historiese plekke. Ons hou van ten volle leef en het al soveel goed op ons lewens wenslys gedoen: lugballon oor Vallei van die Konings in Egipte, parasail in Montego Bay, paragliding in die Alpe. Ons wenslys is eerstens om hierdie dinge saam te kan doen.
Wat is Dunay se mooiste eienskap?
Daar is soveel kosbare eienskappe wat my hart warm laat klop vir my vrou: haar geduld, haar mooiheid met mense, liefde vir diere, haar sagtheid met ons kinders. En daardie beeldskone gesig van haar is natuurlik. Sy staan soggens só op!
As jy dinge weer kon oordoen, sou jy die 13 jaar in klein kroegies en korporatiewe optredes wegwens?
Nee, dit was nodig vir my groei. ‘n Mens leer daar om met mense te werk. Jy kry die selfvertroue om selfs kragonderbrekings en ander krisisse te hanteer, as jy genoeg ondervinding het van mense.