Die gewilde Paartieprinse – oftewel die Campbell-broers, die tenoor Tony (39) en die bariton Harry (41), se splinternuwe album, Bloed is dikker as water – hul 17de ateljee-album, is hul lewenslied in harmonie.
Hier is hul selfies, hul drome, hul tekortkominge, hul trots, hul mooi, hul lekker en hul gunstelingklank en -geur in enkelreëls.
Deur CHRISTIAAN J DE SWARDT
Tony, die naelloper
“Ek is soos ‘n naelloper: doelgerig en gereed. Ek sou graag ‘n argitek wou word. Ou geboue fassineer my. Ek hou daarvan om iets uit niks te maak en daaraan te kan raak. Ek sou selfs graag ‘n renjaer wou wees. Kleintyd was my droom om eendag ‘n Formula 1-ren by te woon. Dit is in 2012 in Barcelona bewaarheid. Ek is betroubaar, maar ek is dikwels ongeduldig. Ek sou graag die hoelahoep wou doen, maar my heupe wil nie saamwerk nie! Maar daarsonder kan ek steeds liefde en geluk ervaar.”
- Daar is niks mooier as … my vrou en kind nie.
- Daar is niks lekkerder as … goeie rooiwyn nie.
- Die mooiste klank is … reën op ‘n sinkdak.
- Gee my die geur van … braaivleis op ‘n houtvuur.
Harry, die krokodil
“Ek is soos ‘n krokodil wat in die son lê en bak … ‘n Malvalekker van binne. Ek sou graag ‘n plastiese chirurg wou word. Ek hou daarvan om met my hande te werk en ek meen ek sou baie mooi face-lifts kon doen. Ek help graag waar ek kan, maar ek hou van baie slaap. My kinderdroom was maar om musiek te maak tot ek my laaste asem uitblaas. Tot dusver is ek nog op dreef … My lewensfilosofie is bloot: Doen wat jy moet doen vandag, want môre het sy eie uitdagings. Ek wens ek het die moed gehad om te sky dive, maar ek kan darem probeer om te strewe om in vrede te lewe. Woede maak tog niks reg nie.”
- Daar is niks mooier as … ’n mooi vrou nie.
- Daar is niks lekkerder as … yskoue bier op ‘n warm dag nie.
- Die mooiste klank is … spek wat braai.
- Gee my die geur van … my liefste se parfuum.
KONTAKBESONDERHEDE
- Verjaardae: Tony 7 April (1977) en Harry 8 April (1975)
- Optredes: Sandra Campbell by 082 341 5006 of [email protected]
- Bewonderaarspos: Die Campbells, Posbus150, Broederstroom 0240