Ons vra agt vrae aan die akteur en sanger, Richard van der Westhuizen
1. As ek jou beste vriende vra om jou te beskryf, wat sal hulle sê?
Daai ou kuier baie lekker en is darem nie te vervelig nie.
2. As jy kon, sou jy wou ophou optree of geniet jy dit?
Solank ek gehore in ’n teater met goeie klank kry, sal ek enige tyd sing, dis nou solank ek kan, natuurlik! Neil Diamond het maar nou die dag ophou sing bloot omdat hy Parkinsons gekry het. Bob Dylan is steeds op die never ending tour – dis mos waar wat jy doen solank as wat jy kan.
3. Waar en wat is huis is vir jou?
Ek woon die afgelope 20 jaar saam met my vrou, Suzanne, in Melville, Johannesburg, saam met vierbeenkinders, ’n reuse-Schnauzer, Bekkie en ’n DBV-brak, Blitz. Die definisie van huis is die plek waar my vrou en honde is. Dis mos maar jou plek, waar jy volkome kan ontspan.
4. Wat sal jy vir jou 20-jarige self kon sê?
Moenie soveel worry oor die geld nie. En dat jy van die begin af ’n band moes hê. Die groot vreugde van musiek is in die saamspeel, dis wanneer jy die diepte ontdek. Ek het nou ook baie meer empatie met mense.
5. Ná meer as 30 jaar in die openbare oog, word jy nog senuweeagtig voor ’n optrede?
Ja, dit raak nie beter nie. Jy kry maar altyd daardie krieweling voor jy opgaan. Jy moet gehalte lewer vir die mense daarbuite; jy het ’n sekere standaard gestel en sorg dat dit so bly. Maar dis goed dat dit so is, dit hou jou op jou tone.
6. As jy ’n nuwe liedjie skryf, wat kom eerste, die woorde of die musiek?
My liedjieskryf-proses het nie ’n vaste formule van woorde of klanke eerste nie. Ek verkies om nie gebonde aan een te wees nie. Maar ek is geneig om te sê dat die woorde eerste is. Soos met Isabella, kom twee lyne vinnig met inspirasie en daarna volg die perspirasie, want dan wonder jy ‘wat nou?’.
7. As ek ’n hele paar liedjies se woorde eerste geskryf het, probeer ek om ’n mooi stuk musiek te skryf en dan woorde by te sit; net om uit die groef te kom. Ek hou nie daarvan om in ’n roetine te verval nie.
Jy het ’n lêer agter in jou kop en daar file jy maar gereeld dinge, en as hulle rypword kom hulle tot uiting. My inspirasie kom meestal tot uiting as ek op my rug op die bed lê.
8. Vertel my van jou jongste album, Yster & Vuur?
Daar is 13 liedjies op die album en ek het alles self geskryf, behalwe Renoster waar ek die woorde en MD Greyling die musiek geskryf het, en “Duiwelskloof” waar Jacomien de Klerk van die woorde geskryf het.