Antoinette het onlangs die rol van Sara in Die verhaal van Racheltjie de Beer vertolk
Hoe hanteer jy kritiek?
My ma het vir my gesê sy het gehoor Ellen DeGeneres vertel dat as jy die slegte goed wil glo wat mense jou toesnou, jy ook die goeie dinge moet glo. Wees konsekwent. Dit het nogal vir my baie waarde.
Jou hare verander die afgelope ruk baie, jy het al genoem dat die afskeer van jou lang hare destyds ’n afskeidsproses vir Die laaste tango was. Hoe beleef jy dit?
Die afskeer was totaal en al bevrydend! As dit nie vir my werk as aktrise was nie, het ek my hare afgeskeer. Dit het my heeltemal los gemaak! Ek hou van verandering en Reenen sê elke keer as ek my hare verander dat hy nou ’n nuwe girlfriend het!
Waaroor het jy spyt in jou lewe?
Ek het nie spyt oor veel goed nie, maar die ding waaroor ek die meeste spyt is, is dat ek in my jonger dae te veel omgegee het oor wat ander mense dink.
Is jy bang vir oudword?
Nee, ek kan nie wag dat my hare grys is nie. Daar is deesdae so baie op sosiale media om ouer word te vier en te koester. Ek is egter bang ek herhaal dieselfde foute en leer nie daaruit nie. Ook dat niemand vir my gaan kom kuier as ek oud is nie.
Julle is mal oor reis, wat hou 2020 op die reisfront in?
As dinge goed gaan en uitwerk, gaan ons Turkye toe.
Wat sal jou beste vriendin van jou sê? (Sy lag uit haar maag uit)
Sy sal sê: ‘Gee haar te veel wyn, dan raak sy op die bank aan die slaap en as sy middernag wakkerskrik, wil sy gesels!’
Jy het ’n rak vol pryse. Is daar een wat vir jou uitstaan of wat jy in ’n moeilike tyd in jou lewe ontvang het?
Ek waardeer elke liewe toekenning en benoeming. En tog het die Safta vir Die laaste tango ’n spesiale betekenis. Dit het gekom nadat iemand in die bedryf, vir wie ek hoë agting gehad het, vir my gesê het ek moet maar eerder nie film doen nie (ná sy die fliek gesien het). My hart was gebreek, maar die Safta het my weer eens laat besef niks in die kunste is objektief nie. En dis oukei.
Is daar raad van jou ouers wat jou bybly?
My ouers is steeds vir my emosionele kompasse. Dis baie raar en ek hou dit na aan my hart. My ma het my geleer om nooit bang te wees om buite die boks te dink nie. Om my individualiteit en kreatiwiteit te vier en te koester. My pa sê weer van kleins af: “Dis nie wat jy sê nie, dis hoe jy ’n ding sê.”
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.