Agt vrae aan Christia Visser, aktrise en nou ook sanger wie se eerste enkelsnit-musiekvideo vroeër vanjaar vrygestel is:
1. Hoe lyk jou dae?
Elke dag lyk anders. As ek nie op ’n rolprent- of sepiestel is nie, dan gaan meeste van my tyd in administrasiewerk in. Tussendeur doen ek oudisies, werk saam met my agent om my dagboek te sinchroniseer en voor ek weet, is die dag verby. Maar ek het gewigte en apparaat en oefen elke dag in my woonstel om my lyf gesond te hou. Ek hou egter van ’n middagslapie en probeer by daardie ritueel bly.
2. Waarin is jy in die volgende paar maande te sien?
In die BBC Noughts and Crosses-reeks wat in Oktober uitgereik word. Ek praat met ’n swaar Londense aksent en het lank daaraan geoefen. Ek speel ’n ondersteunende rol van ’n ondergrondse rebel met dreads en tattoes! Ek plant bomme en geniet die aksie; ek wil in die toekoms meer aksierolle speel, want ek is ’n sterk vrou. Ek het die Britse akteurs baie geniet. Hulle maak maklik vriende met ons Suid-Afrikaanse akteurs en vir hulle gaan dit om die kuns van toneelspeel. Hulle was vir my anders as Amerikaanse akteurs.
3. Wat sal jy vir jou 17-jarige self sê?
Hou op worry wat mense dink. Doen dit net.
4. Wat maak jou bang?
Sjoe, baie dinge. Ek het ’n tatoeëermerk op my pols wat sê “Courage over Fear” om te onthou dat ek altyd moet deurdruk. Ek is bang dat ek nie goed genoeg is nie. I want to be good at what I do. As jy ophou leer, moet jy ophou act.
5. Dink jy daaraan om jou vlerke in Hollywood te gaan sprei?
Ek was lank terug daar en ná ’n paar dae besef dit sit nie lekker met my nie. Dis te materialisties. Dis alles oor aansien en geld en dis nie hoekom ek dit doen nie. Ek is mal oor Suid-Afrika en my taal. As ek oorsee gaan werk, sal dit tydelik wees en net omdat ek my horisonne wil verbreed.
6. Watter raad het jou ouers jou gegee wat jy onthou?
My ouers het my geleer dat jou voete op die grond; jou kop in die wolke en jou hart by die Here moet wees.
7. Met ons vorige gesels het jy genoem dat jy wil ophou rook? Het jy toe?
Nee. Maar ek rook nou ’n gesonder weergawe, die Iqos. Jy raak gewoond daaraan en ek mis nie meer die sigarette nie.
8. Hoe kies jy nuwe rolle?
Dit kan iets so eenvoudig wees soos ’n lyn wat my roer; of dalk is dit ’n regisseur saam met wie ek graag wil werk. Of die rol gaan iets verander: of in myself of in kykers. Ek wil nooit ophou groei nie.