Nog vrae aan die akteur, Christo Davids, wat ook naam maak as regisseur en teksskrywer:
1. Jy het geen akteursopleiding nie? Hoe doen jy dit?
Wel, ek is al my hele lewe lank betrokke by hierdie bedryf. Ek kom uit ’n familie van teatermense so vir my is dit maar tweede natuur. Ek speel al toneel – op een of ander manier – vandat ek kan onthou.
Ek geniet wat ek elke dag doen en hierdie is my bydrae tot die samelewing. Dis vir my lekker om mense te vermaak. Om ‘n spieël om te hou vir die samelewing en te wys dat ons almal deur dieselfde emosionele stryde gaan. Om mense te laat lag en huil op dieselfde tyd is waarvoor ek lewe.
2. Jy het ’n LLB-graad – hoekom die regte en hoe gebruik jy daardie kennis?
Ek gebruik dit nie in praktyk nie, maar ek het al meer as een karakter geskryf wat ‘n prokureur is. En ek weet ook waarvoor om uit in ‘n kontrak te kyk.
3. Sal jy ooit die teater kan los en prokureur word?
Nooit is ‘n lang tyd … Maar hopelik kom ek nie voor daardie beslauit te stane nie. Ek is baie lief vir die teater en sy het my in my jonglewe baie goed behandel so ek sou nie graag wou afskeid neem van haar nie.
4. Mis jy nie die Kaap nie en wat geniet jy aan Johannesburg?
Ek sal altyd die Kaap mis. Dis waarvandaan ek kom. Ek is ’n Kaapse kind. Johannesburg het ander tipe geleenthede wat dit my bied en ek is gelukkig hier.
5. Jy is ’n platjie, waar kom jou sin vir humor vandaan?
My hele familie het basies dieselfde humorsin. Daar is altyd iets om oor te lag en as daar nie iets is nie, gaan soek ons daarvoor. Lag is die beste antidepressant.
6. Watter fliek het die grootste indruk op jou gemaak?
Daar is so baie, maar die een waar ek elke keer op dieselfde plek begin huil, is beslis Roberto Benigni se Life is Beautiful.
7. Jy is ewe tuis op die verhoog, in sepies en in film. Waar lê jou liefde as akteur?
Beslis op die verhoog.
8. Wat het jy by jou oupa geleer?
Respekteer almal en alles rondom jou.
9. Klop jy ooit by jou ooms, Lloyd Davids en Peter-John Davids, wat baie betrokke by jeugteater, dramaregisseurs en beoordelaars is, aan vir raad as regisseur?
O ja, baie. Ek kom uit ’n familie waar mense om die etenstafel stry oor teater.