‘n Paar vrae aan die Kwêla-aanbieder en -inhoudsvervaardiger, Therese Benade, wat in Oktober met Christian Bam getroud is:
1. Wat is sy mooiste eienskap wat jy elke dag waardeer?
Hoe baie hy omgee. Hy is so vrygewig: veral met sy tyd en aandag. As hy met jou praat, kan jy sien hy stop, luister en neem in wat jy sê.
2. Wat leer Christian jou van jouself wat jy in vorige verhoudings ervaar het nie?
Selfaanvaarding!
3. Reis julle graag?
Ja, ons was al in Amerika en nou met die wittebrood by ’n paar plekke. Ons is albei baie lief vir SA, was al saam in die wildtuin, in Natal (waar ek grootgeword het in die Drakensberge), ’n paar plekke teen die kus op in die Wes-Kaap. Ons is mal oor reis – dis so maklik om saam met hom te reis! Hy reël en beplan als, en ek klim net in. Hy bederf my hopeloos te veel – ek sê gereeld vir hom dat hy my gaan lui maak!
4. Wie het jou al die beste raad in jou lewe gegee?
My lewensafrigter, Christa van Onselen. Sy het my geleer om meer respek vir myself te hê, my oordeel en intuïsie te vertrou. Dat dit goed is om uit te kyk vir myself, en eerlik te wees daaroor dat ek ‘’n keuse het: ek mag kies wat my gelukkig maak, en vir my werk. En om nie so hard op myself te wees nie! En om altyd ’n e-pos twee keer te lees voor jy hom stuur! Dieselfde met dit wat jy sê: dink mooi.
5. Hoe lyk jou werksweek, is jy baie weg van die huis en probeer Christian om saam te reis, of hoe maak julle?
Ek probeer by kantoorure hou, Maandag tot Vrydag. Soms is dit nie moontlik nie en moet ek naweke na ure werk. As ek reis vir werk, gaan ek om te werk. Dis vir my nodig om dit te doen en lekker. Dis al so deel van my, ek kry cabin fever as ek nie nou en dan op die pad is agter stories aan nie! My man verstaan dit. So ek verstaan ook wanneer hy moet reis vir werk, maar dit gebeur gelukkig nie baie nie. Want dan sulk ek en die honde te veel!
6. Wat was sover jul reishoogtepunt en wat het julle daaraan geniet?
Sjoe, daar was al ’n paar. Ons reis na die VSA – ons het ’n motorfiets gehuur en saam kus op gery van New York na Boston. Ongelooflik lekker. En natuurlik, die wittebrood. Ons was ook op ’n stapsafari na die Kruger saam met ’n klein groep – dit was onvergeetlik!
7. As Christian jou in vyf woorde moet opsom, wat sal dit wees?
Oe, dit moet jy vir hom vra! Ek weet dat hy beslis sal sê: “haar kos is bedonnerd!” Hy waardeer my kookvernuf. Onder meer natuurlik!
8. Leef jy volgens ’n leuse of mantra?
Ja – ek is konstant bewus daarvan dat die lewe kort is. Ek probeer om dit te onthou, en uit te leef. En ek dink altyd: Wat is die ergste wat kan gebeur? Alles wat jy doen in die lewe, is ’n keuse. Dis belangrik dat jy kies wat goed is vir jou!