Agt vrae aan die skrywer, Peet Venter, wie se nuutste boek, Brand, by Lapa Uitgewers verskyn het:
Thys Krige is nie jou eerste spanningsreeks nie?
Dis my eerste gepubliseerde spanningsreeks. In my skooldae het ek reekse geskryf wat nie vir Rooi Jan of Die swart luiperd sou skrik nie, maar dit was net jeugdige vingeroefeninge.
Brand lewer geweldige sosiale kommentaar op ’n mislukte land. Was dit die bedoeling of kon jy jouself nie weerhou nie?
Ek moes net iets sê, of gek word. Ek dink in die geval van so ’n aktuele politieke “back story” wat ons almal raak en die lesersmark wat die boek teiken, is dit redelik veilig om jou sê te sê. Andersins, in goeie fiksie, behoort die leser nooit van die skrywer bewus te wees nie, altyd en net van die karakters.
Die storie speel in Gauteng af, waar jy woon. Hoe belangrik is dat skrywers hul boeke plaas in die omgewing wat aan hulle bekend is?
Dis die veiligste, maar dit moenie beperkend wees nie. Danksy die internet en genoeg verbeelding kan mens deesdae op plekke wees, waar jy nog nooit was of sal kom nie.
Jy skilder en komponeer musiek. Hoe bring jy ingenieurswese by sulke kreatiwiteit byeen, of glo jy ingenieurswese is ook ’n vorm van kreatiwiteit?
Deesdae skilder ek net wanneer ek tyd het. Die musiek moes maar agterweë bly omdat daar net soveel ure in ’n dag is. Ingenieurswese is maar net funksionele kreatiwiteit. Dit behels die ontwerp en ontwikkeling van vorms. Om ingewikkelde tegniese spesifikasies te skryf, is net ’n ander manier van skryf. Daar is musiek in die klank van groot kompressors, pompe en waaiers, net soos daar wiskunde in Bach se musiek is.
Wat en wie se boeke lees jy graag?
Ek lees fiksie en niefiksie, laasgenoemde meestal vir navorsing. Wat fiksie betref, lees ek omtrent enigiets van rillers tot fantasie. Skrywers wat ek onder meer geniet is Victor Hugo, Dostoevsky, Ayn Rand, John Connolly, Peter Temple, WA de Klerk, André P Brink, Madelein Rust, Irma Venter en Deon Meyer.
Watter boek het die grootste indruk op jou lewe gemaak?
Twee. Albei van Ayn Rand. Atlas shrugged (fiksie) en The romantic manifesto (filosofie).
Het jy ’n Kindle of lees jy gedrukte boeke?
’n Watse ding?
Is daar ’n genre of storielyn wat jy nog wil aandurf?
Ek wou nog altyd wetenskapsfiksie skryf. Weet nie of ek ooit sover gaan kom nie. Ek dink om ’n ideaal te hê wat jy nooit bereik nie, is wat jou aan die gang hou.