Agt vrae aan Leah, sangeres, aktrise en nou aanbieder van Boer soek ’n vrou PLUS loer na nog foto’s van haar fotosessie
Waarvan droom jy?
Ek wil regtig graag die wêreld sien en as ek dalk tussenin in plekke soos die Royal Albert Hall of ‘n Broadway Teater kan sing, sal dit nogal ‘n paar drome waar maak. En ek droom van ‘n lang, gelukkige, bevredigende bestaan. Ek is baie gelukkig en sal net graag so wil bly!
Na wie sien jy op?
My liefste ma, Christa Ekermans. Sy is al deur baie en staan nog sterk! Musikaal is Laurika Rauch alles – ’n ongelooflike mens wat jare al die mooiste musiek maak en steeds in sy tydloos. Dis inspirerend.
Wat is die beste raad wat jy al by jou ouers ontvang het?
Daar sal altyd iemand beter, mooier, slimmer en talentvoller as jy wees en dis oukei! Wees net jou eie unieke self dan is daar geen kompetisie nie.
Na watter tipe musiek luister jy?
Na alles! Ek luister enigiets wat my hart raak, van country, kontemporêr, rock, hip-hop … Ek het vanoggend konsertkaartjies vir Ed Sheeran gekoop – ek is ’n groot aanhanger!
Jy was nou al ’n model, aktrise en aanbieder. Watter een geniet jy die meeste en watter een sal jy voortaan meer wil ontgin?
Ek dink ek het nog bitter baie om te leer as aktrise en sal graag nog verskillende rolle wil speel. Ek geniet aanbieding sover vreeslik baie en wil vir seker hierop voortbou. En as die geleentheid opduik om model te speel, sal ek, maar dis nie my fokus nie. Sang sal seker altyd my eerste groot liefde bly.
Hoe voel jy oor jou privaatheid op sosiale media? Deel jy net sekere dinge of is jy ’n oop boek?
Ek is wie ek is en wat jy sien, is wat jy kry. Ek bly wel weg van sekere onderwerpe op sosiale media, want ek voel Facebook is nie ’n dagboek nie en sommige dinge hoef jy nie op daardie manier uit te basuin nie.
Wie help jou met groot besluite?
My man, Hennie. Hy is meestal meer realisties as ek en is altyd die eerste persoon wat ek vir hulp vra!
Wat sal jou beste vriendin van jou sê?
Ek hoop sy sal sê ek sal enigiets vir haar doen en ek sal altyd daar wees vir haar! Vriende is so ongelooflik belangrik, hulle dra jou deur alles en hou jou ‘sane’. Sy sal ook sê dat ek hard werk en my drome volg.