Dit is amper weer tyd vir Braaidag en ons het 8 vrae aan ons voorbladman, Jan Braai, gevra
1. Hoe gereeld braai jy vir ontspanning, as jy nie op toere is of werk nie?
Goeie vraag! Oor ’n langtermyn sou ek raai gemiddeld so drie keer per week. As ek getoer het en vir twee weke lank drie keer per dag gebraai het, kom ek tuis en wil ek soesji eet, en na so twee dae begin ek lus raak vir kerrie of pasta. Ná so paar dae as ek ’n vuur begin mis, dan gaan ek na ’n pizzarestaurant waar hulle die pizza met houtvure maak en dan is ek weer reg vir braai!
2. Wie het jou al die beste braai-raad gegee?
Ongetwyfeld my pa, Jan. Hy het my leer braai.
LEES OOK: Jan Braai se braaibroodjie
3. Wat was jou spesiaalste braai-oomblik tot dusver?
Daar is heelwat. Een wat my altyd sal bybly, is om boereworsrolle saam met Desmond Tutu te braai.
4. Watter spesiale herinnering het jy van braai toe jy nog in die huis was?
Al my braaiherinneringe saam met my familie is spesiaal. Ek kom uit ‘n hegte gesin en familie wat gereeld braai.
5. Watter tipe terugvoering kry jy van kykers van Jan Braai vir Erfenis?
Die miljoene gereelde kykers is baie ondersteunend en positief. Ons is in die bevoorregte posisie dat ons net lekker goed doen, so daar is nie veel om oor te kla nie. Sportsterre wat bekend is, soos rugbyspelers of krieketspelers – maak nie saak hoe goed hulle is nie, soms gaan hulle die pale mis skop, of die bal laat val, en soms gaan hulle wedstryde verloor, maar ʼn mens verloor nie juis ’n braai nie. En as ek per ongeluk die vleis brand, wys ons dit net nie op TV nie (nie dat dit ooit gebeur nie, ek belowe). So daar is regtig nie veel om oor te kla nie, ons wys vir jou mooi plekke en braai lekker kos.
LEES OOK: Jan Braai se derde kookboek net betyds vir Erfenismaand én Braaidag
6. Wat is jou gunstelingbraaivleis en gunstelingspesery of bestanddeel?
Ek diskrimineer nie en braai alle diere. Hoenderkerrie-potjie, lekker verouderde steak, lamtjops, varkribbetjies, vars vis, wildsosaties, en so meer.
7. Is daar een braairesep wat jy oor en oor maak?
Tradisionele braaibroodjies. Wit-toaster-brood, aan die buitekant gebotter. Binne-in het hy kaas, tamatie, uie, blatjang, sout en peper. Jy braai hom oor matige kole tot goudbruin aan die buitekant en die kaas gesmelt is.
8. Waar kom jou resepte in jou boeke en op TV vandaan?
‘n Mens leer nogal baie in die lewe as jy na ander mense luister. Dit is algemene raad, maar ook waar vir braaitegnieke, raad, en resepte. Uit die aard van die saak weet jy niks aan die begin nie so alles wat jy weet, leer jy êrens. Omdat ek meer toer en meer regoor die land en wêreld braai en saam met ’n baie wye verskeidenheid mense braai en kosmaak, gaan ek uit die aard van die saak baie leer en weet van braai. Dis maar net hoe dit werk. Ek kyk ook graag wat ander mense met kosvoorbereiding doen. ‘n Mens kan byvoorbeeld kyk wat die wêreld se bekendste sjefs met ’n steak doen in hul restaurante en dieselfde beginsels met ’n steak op jou vuur toepas.