Charl-Johan Lingenfelder se lewe is op die film Kanarie gegrond
Jy het al meer as 30 musiekblyspele en 100 toneelstukke op jou kerfstok. Is daar een teaterproduksie wat as hoogtepunt uitstaan, of wat gebeur het op ’n moeilike tyd in jou lewe?
Daar is beslis een laagtepunt, ’n produksie wat ek vir die Civic Teater gedoen het, van Phaedra, die Griekse tragedie, waar ’n misverstand tussen my en ’n Britse regisseur uitgeloop het op ’n geweldige teleurstelling vir my. Wat ek gedink het dis my beste, was net nie wat sy wou gehad het nie. Die ander een was die tweede musiekblyspel wat ek geskryf het, Follies 3 vers 16, in 1995. Geopen in Grahamstad, uitverkoop, al die toekennings gewen. Toe ons in die Kaap kom, het Die Burger my uitmekaar getrek. Die resensie het geëindig met die reël: “Ag nee, Lingenfelder, gee terug die geld, jy verdien dit nie.” Later daardie jaar het hulle my ook in ’n artikel uitgesonder as ’n voorbeeld van ’n verraaier van die Afrikanervolk.
Dit het my só diep getref en die effek wat dit op my familie gehad het … Ek was nog altyd die swartskaap en ek wou altyd bewys ek is nie net daardie ou swak sissie-moffie wat hulle dink ek is nie; ek is meer as dit. Ek het eenvoudig ophou skryf en Kanarie was die eerste grootskaalse oorspronklike ding wat ek weer aangepak het.
Hoogtepunt: Almost the sound of music. Ek was baie jonk en is verstom oor die guts wat ek gehad het.
Hoe werk jou kreatiewe proses? Waar begin jy met die musiek as iemand jou nader en hoe kies jy waarby jy betrokke wil wees?
Die musiek is amper heel laaste in die proses. Ek is ’n nuuskierige mens – ek wil alles sien en weet; ek wil die dekor; die kostuum-ontwerp sien; ek wil weet wat in die regisseur se kop aangaan en dan begin my navorsing. Een van my gunstelinggoed wat ek gedoen het, is Babbelagtig – want dit was so anders. Mens word gevra en dink: Wat de hel is dit. Ek het soveel moontlik repetisies bygewoon om te kyk hoe Janine met hulle gewerk het om hul inner-clown te vind. Ek het die akteurs so een-een in die badkamer laat brabbeltaal praat en hulle dan opgeneem. Iewers in die proses word ’n saadjie geplant. Daai een wat wortel kan skiet. Dan loop dit.
Hoe meer inligting ek oor die projek het, hoe beter.
Met die fliek, Griekwastad, het ek ure saam met Jozua Malherbe, die regisseur, bestee om uit te vind wat dit is wat hy wil bereik met hierdie fliek. Tragedie en patos. Dit het my mantra geword. Met rolprent, glo ek: “Moenie my laat hoor wat ek sien nie, daar moet spanning wees tussen die twee”. Met Griekwastad is al daai tonele bekend; jy ken daai plase; jy voel of jy self daar staan. Ek wou alles daarop skoei. Dis hoekom die idee van die saag as musikale instrument posgevat het. Dis iets bekend wat jy op alle plase sal vind. Soms was die musiek so in jou gesig; soms hoor jy dit glad nie. Maar die beginproses van enigiets is pynlik stadig.
Ná 20 jaar agter die skerms, speel jy die hoofrol van Emcee in Cabaret. Hoe was dit om weer op die verhoog te wees?
Die laaste keer wat ek op die verhoog was, was vir Marthinus Basson – ook as Emcee. Ek ken die karakter, ek ken die rol en met 20 jaar se lewenservaring was dit ’n absolute plesier om dit weer te kan verken. Hele ander siening van die karakter en die stuk het ontwikkel. My oudisie-tapes is bisar. Ek het vergeet wat dit beteken om op die verhoog te gaan. Ek werk die heeltyd met mense wat op die verhoog moet gaan en ek dink ek is soms te hard met hulle. Ek vergeet hoe fragiel daai proses is om jouself só voor ’n gehoor te ontbloot.
Hoe sien jy jou rol as musikale regisseur?
My werk is om die beste uit mense te kry. Ek werk ná my optrede van Emcee meer omsigtig met mense. Ek moet jou bemagtig met wapen en pantser, dat jy nie eers agterkom waarmee jy besig is nie. Ek glo nie daarin om mense te verneder of te verkleineer nie. Maar jy moet weet hoe om die nodige hoeveelheid druk toe te pas om die beste uit hulle te kry.
Wat maak jou opgewonde van die teaterbedryf in SA in 2020?
Die groter prentjie van teater is opwindend. Ons is besig om op ’n knelpunt af te stuur, waar ons ons gehore verloor. Bywoning is nie meer wat dit was nie. Mense raak meer selektief, en ek dink dis ’n baie gesonde situasie, want dit forseer ons om te herevalueer wat ons op die planke bring. Sekere goed het net nie meer ’n plek op die verhoog nie. Maar die opwindende uitdaging wat ons in die oë staar, is wat is die volgende stap? Ons het ’n redelike goeie teater-scene in ons land, al is ons ’n derde wêreld land. Ons is een van die eerste plekke in die wêreld waar jy die effek van die ekonomie, politiek en sosiale vlak in die teater kan sien. Hier gaan mense nie teater toe omdat hulle moet nie, hulle gaan omdat hulle wil en kan.
Dis radikaal en gevaarlike tye, maar mense moet stilsit en besluit wat die volgende stap is. Ons moet vra: Wat kan ek in my toolkit gebruik om gehore te wow! Ons kan nie veilig en gerus raak nie. Veilig is tien teen een veilig.
Wat inspireer jou?
Mense, veral mense met ’n ander uitkyk en wat my tot ander insigte kan bring. Ek is nooit te oud om te leer nie. Mense wat my oë oopmaak vir ander dinge. Ek glo ongelooflik baie aan verandering. Ek probeer elke aand voor ek aan die slaap raak, om een ding uit te sonder wat ek daardie dag geleer het.
Watter musiekblyspel, toneelstuk of boek het jou nog die meeste aangegryp?
Soveel goed gaan deur my kop: David Copperfield, die hele idee van magic; die ongelooflike goed wat voor jou oë gebeur; ek het die hele show deurgehuil. Hy het my iets laat voel; iets wat jy so min voel, daardie absolute childlike awe. Ek soek dit nie altyd in teater nie, maar partymaal is dit wonderlik. Ons is almal kinders binne ons.
Het jy ’n lewensmantra?
Ek dink ek het. Ons dramahoof het vir ons gesê: “Being creative is knowing your options.” Dis baie waar. Ek hou nie van die konsep van steel nie. Ek hou van vervorming en hervorming, nuutskeppinge, om idees so half voort te sleep in ’n nuwe era in. Maar soveel negatiewe goed kom in my kop wat my ma en pa in my kinderdae vir my gesê het: Wees altyd die minste, jou naam gaan vooruit, jy kom agterna. Dis beslis nie my mantra nie.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.