Ses vrae aan Corné en René van Rooyen wat die boek, Vaselinetjie tot draaiboek verwerk het en waarvan Corné ook die regisseur van die film is:
Wat het kompetisies soos die Silwerskerm-fees vir die SA filmbedryf beteken?
René: Dit ontwikkel verskillende genres en nie net markgedrewe films nie. Dit ontdek ook nuwe mense en skep nuwe platforms. Ek het die eerste Silwerskerm-fees toekenning vir kortfilms, Nantes, gewen. Kort daarna het Corné die prys vir ’n vollengte film, Hollywood in My Huis, gewen. Sulke erkenning oortuig mense dat jy ’n film kan maak en dit maak deure vir jou oop.
Corné: Jy ontdek as jong filmmaker jou stem by kortfilms. Dit kan ons bedryf by een genre verby laat ontwikkel.
Wie is jou gunsteling filmmaker en film?
Corné: ET het my regtig die magiese van filmmaak laat besef. Steven Spielberg is dus ’n gunsteling. Ek geniet ook flieks soos Strictly Ballroom en Priscilla, Queen of the Desert – daardie lae begroting stories wat ’n mal bisarheid het.
René: Jane Campion wat onder meer The Piano en Bright Star gemaak het. Ook Alfonso Cuarón met Children of Men. Ek hou van die feit dat hy wat ook uit ’n derde wêreldland kom, temas van daardie land wat relevant is tot die res van die wêreld kan uitlig. Ek hou van Distopiese stukke wat ’n kykie in die werklikheid gee.
Hoe verskil jul aanslag tot filmmaak en draaiboek-verwerking?
Corné: Ek hou van kleur en extravaganza! Grootword en groeistories. René is die slim een, sy hou van die soekende psige.
René: Corné het so ’n unieke stem en anderse manier om na dinge te kyk. Ek hou van sterk vroulike karakters, swaar en donker met baie intrige. Ek hou van wroeg. Grootword en groeistories.
LEES OOK: Vaselinetjie is ’n moet-sien-fliek
Is dit nie vir julle ’n uitdaging om saam in die filmbedryf te wees nie?
Altwee: Nee, dis great dat ons in dieselfde bedryf is. Ons glo en ondersteun mekaar se visie. Film het ons saamgebring, want dit was eintlik eers op filmskool wat ons begin gesels het, al het ons ouers vir jare strandhuise regoor mekaar gehad op Hermanus.
Dis belangrik dat ons elkeen ons eie unieke stemme behou en mekaar nie verloor in mekaar nie. Ons vul mekaar goed aan; ons staan nie in konflik met mekaar nie, omdat ons ons aanslagte so verskillend is.
Waar woon julle?
Altwee: Ons het van Johannesburg na Jamestown buite Stellenbosch getrek en is baie gelukkig daar. Mense gee om vir mekaar, ons kuier oor en weer en niemand skuil agter hoë heinings nie.
Waaraan werk julle volgende?
Corné: Ek het pas teruggekeer van drie maande weg van die huis vir die verfilming van Susters.
René: Toorbos. Ek het al in 2012 met die beplanning begin en kan nou uiteindelik nadat ek finansiering gekry het, aan die werk spring.