Vyf vrae aan Armand Aucamp en Christia Visser, wat tans te sien is in Knapsekêrels op kykNET:
Daar is darem baie karakters in Knapsekêrels. Is dit nie verwarrend nie?
Ons het ook aan begin van die verfilming gedink daar is baie karakters en baie storielyne, maar het gou besef elke gesin en ook elke karakter is baie netjies afgebaken en die kykers het gou twee en twee bymekaargesit om die verwikkelinge te volg.
Die families het eintlik niks met mekaar te make nie, maar word deur ’n sameloop van omstandighede aan mekaar verweef. Hulle is uiteenlopend en boonop reageer elke gesin verskillend op dieselfde probleem.
Hoe het julle enige kritiek oor jul vorige films verwerk en wat haal jy uit kritiek?
Armand: Ek haat dit. Dis moeilik, maar hang ook baie af van wie dit kom. Ek leer daaruit in die sin daarvan dat ek leer om dit te laat gaan.
Christia: Ek is eintlik heel goed daarmee. As dit van iemand kom wat ek bewonder, sal dit nie net kritiek wees nie, maar opbouend en ek kan groei. As dit van die publiek kom en op ‘n openbare forum geskied, antwoord sy altyd elke klagte. My werk het my gehelp groei en as dit my gehore kan laat groei, is ek tevrede. Dit gaan natuurlik nie in almal se smaak val nie, maar dis oukei.
Wat bewonder julle in mekaar as akteurs?
Armand: Hoe moeiteloos sy in diep emosionele rolle ingly en na baie weerlose plekke gaan.
Christia: Armand se werksetiek en fokus is regdeur die bedryf bekend. Hy spoor my aan om harder te werk.
Watter rol het sover vir jou uitgestaan?
Christia: Tess, altyd Tess. Dis die rol wat my as mens die seerste gemaak het. Dit het my perspektief op die lewe verander en beskou dit as ’n enige aktrise se droomrol. Daardie karakter het ek voorheen veroordeel, want ek het die lewe van ’n prostituut nie verstaan nie. Ek was vir baie lank na die verfilming voltooi is, in ’n diep depressie oor die indruk wat sy op my gemaak het. Ek het ook geweet daar gaan nie gou weer só ’n rol oor my pad kom nie. Gelukkig het ek later besef dat elke nuwe rol sy eie uitdagings bring.
Armand: Ek smag na ’n Tess-rol. Daardie een fliekrol wat definierend sal wees. Boekklub staan wel vir my uit, nie noodwendig die rol van Tom nie, maar die ervaring; die mense. Daar was nasionaal só ’n groot gevoel van ondersteuning en opwinding. Die lengte van die reeks het my kans gegee om elke dag akteur te wees. Daardie rol het my vastigheid gegee; my gemaklik in my eie lyf gemaak.
Het jy die jaar met Nuwejaarsvoornemens begin?
Armand: Ek wil my graad 4-8 musiekeksamens oordoen. Ek wil vanjaar graad 4 en 5 voltooi.
Christia: Ek wou ophou rook, maar my karakter in Onder die Suiderkruis rook, so nou sal ek maar wag tot die reeks klaar is en dan weer probeer!