Jaco Fouché se jongste jeugverhaal, Somer, het pas verskyn. Vrouekeur het ’n paar vrae aan hom gestel.
1. Die ryk van die rawe, jou debuut, is geskryf ná ‘n besoek aan Engeland. Het jy intussen nog reise onderneem? Watter plekke sal jy nog wil besoek?
“Ek was nog net een keer weer buite die landsgrense en dit was toe ek ’n konferensie in Zimbabwe bygewoon het. Ons het in ’n hotel by die Victoria-watervalle gebly. Ek en Lorraine, my vrou, dagdroom daaroor om Ierland toe gaan. Ek glo dit is ’n land van storievertellers en musikante. Ek sal graag daar by ’n klooster wil uitkom, een met ’n ou biblioteek en ’n kamer waar ’n mens kan oorbly.”
2. Dink jy jeugverhaalskrywers word deur ’n hunkering na hul eie jeugjare daartoe gedryf om dié soort boeke te skryf?
“Absoluut. Ek verlang verskriklik na my kinderjare. Die volwasse lewe is skrikwekkend. ’n Mens sê so maklik dat jy jou onskuld kwyt is, maar wat ’n verlies is dit nie eintlik nie!”
3. Glo jy aan die liefde?
“Ja, ek glo vas aan daardie band met ’n spesiale iemand. ’n Mens kan redeneer oor die aard daarvan en redes daarvoor, maar as jy regtig alleen is, is jy toegerus met ’n oorweldigende begeerte om die kloof te oorbrug en na ander uit te reik.”
4. Dink jy Somer sal ook by volwasse lesers aanklank vind?
“Ek dink tog so. Die twee hoofkarakters in die boek is redelik verteenwoordigend van die ouens wat ek as tiener geken het; volwasse lesers kan met hulle vereenselwig.”