16 vrae aan die gewilde geleentheidsbeplanner en televisie-aanbieder, Aleit Swanepoel, van Tyd met Aleit:
1. Vertel my van die rol van jou ouers in jou lewensbesluite. Is hulle die eerste mense na wie jy gaan as jy groot besluite moet neem?
Ek het baie onafhanklik en streng grootgeword. Daar was ongelooflik baie dissipline in ons huis en omdat geld nie geredelik beskikbaar was nie, was ons ouers nog harder op ons. Ek was my hele lewe versigtig vir my ouers. Hulle werk nog albei en boonop baie hard en my sin vir sukses is hieruit gebore. Ek het baie liefde vir my ouers.
2. Jy het ’n stoor vol dekor-elemente en meubels waarvoor jy gereeld nuwe goed aankoop. Is dit ’n versoeking om nie elke week jou huis se meubels te ruil as jy iets raakloop nie?
Nie meer nie. Ek is gelukkig met wat ek het. Ek is nou baie streng met myself. Ek moet ophou koop, maar ai, dis so moeilik om by ’n mooi skildery, kristal of ’n Madonna-beeld of kunswerk verby te stap.
3. Hoe ontspan jy?
Ek geniet dit om met ’n glas wyn te ontspan; by gewone kuierplekke Indiese- of Portugese kos te gaan eet en met my vriende te kuier. Ek is ook mal oor kook en my tradisionele geregte het altyd ’n effense Italiaanse flair. En o ja, ek is mal oor braai. Ek krul graag in die bed op met ’n reeks soos Law & Order Special Victims Unit – ek volg nie die nuutste reekse nie.
4. Watter gebeurtenis het die grootste indruk op jou lewe gemaak en jou van rigting of oortuiging laat verander?
Om in my laaste skooljare van hoërskool te verander en nie net my kultuurliefde te kon uitleef nie, maar ook my akademiese prestasies verbeter en op die leerlingraad dien. Maar meer onlangs, het die boek, Who will cry when you die my tot ander insigte gebring.
5. Hoe gereeld onthaal jy en is dit nie uitputtend nie?
Ek onthaal gereeld en maak dan groot events van gebeure wat events verdien. Ek is mal oor mense, maar hoe ouer ek word, hoe meer sif ek my vriende. Dis nie lekker om omring te wees met mense wat net vriende is omdat jy iets vir hulle kan beteken nie. Ek nooi ook groter groepe mense; sodat hulle met mekaar ook kan gesels. My sielkundige het my geleer dat ek ’n vrygewende mens is en dit nie gaan verander nie, maar my emosionele ondergang sal beteken. Hy het my geleer dat jy moet begin gee vir ander vrygewiges; nie net vir dié wat net altyd bakhand staan om te ontvang nie. Dis ook belangrik dat jy nooit gee omdat jy iets terugverwag nie. Ons word oorval met navrae vir skenkings vir liefdadigheid en ek moet ook daar baie meer oordeelkundig wees.
6. Jy reis baie vir werk, watter rituele het jy nou al opgebou?
Ek reis al minder vir gesellighede, want my span hanteer dit baie goed. Ek reis wel baie vir praatjies regoor die land en selfs na ander lande. Ek bid baie dat ek met elke praatjie ’n verskil in selfs net een mens se lewe kan maak. My storie is nie anders as mense nie; maar as iemand daaruit kan baat vind, laat dit my tick.
7. Wat geniet jy van pawees?
Ons is baie teatraal saam, dans, kyk flieks en lag baie. Ons deel ’n liefde vir diere en geniet tye by die huis of om vis en tjips te gaan eet in die onderdorp en met gewone mense te lag en gesels.
8. Jy het vier honde, vyf katte en visse in die visdam, hoe belangrik is dit vir jou om terug te kom huis toe en viervoet-vriende wag hier?
Naas Kateline, is my diere die belangrikste in my lewe.
9. Jy vier aanstaande jaar 20 jaar as geleentheidsbeplanner? Wat is die neigings en giere wat die uitermatigste verander het en wat het maar basies dieselfde gebly?
Ek dink goed soos gehaltelinne bly tydloos, maar kerse was ’n paar jaar gelede die mode, nou kan jy enigiets wat kan hang, inspan. Al meer feetjieliggies, lanterns en oordaad, is in. Jy kry seker maklik meer as 50 soorte eetgerei; ingevoerde blomme was voorheen iets waarvoor jy goed moes beplan; nou is die norm. Gewone wynglase is vervang deur kristal; waterglase is nou boheems in mosterd, groen, blou, pienk en niks is meer snaaks nie. Installasies en interaktiewe funksies is nou baie gewild. En oordadigheid bly. More is more.
10. Skryf mense in met vrae na Tyd met Aleit, of hoe bly jy op hoogte van gewone mense se behoeftes?
Ons kyk na celebs wat ons in daardie spesifieke episode gaan besoek, se huis en dan brainstorm ek en my span oor hoe ons daar ’n slim en unieke tema gaan laat werk. Dit wat ons doen, is ’n voortsetting van die persoon se persoonlikheid.
11. Julle is tans besig om die vyfde seisoen van Tyd met Aleit te verfilm. Hoekom dink jy is dit so gewild?
Jy kan nie glo hoe gewild dit is nie! Ek kan nie in die strate in Windhoek stap, sonder dat mense my voorkeer en vir selfies vra nie. Dit is een van die gewildste programme op kykNET. Ek dink die gewildheid lê daarin dat mense – soos ek – nuuskierig is en wil sien wat in celebs se huise aangaan.En dan, kykers het seker ook ’n liefde ontwikkel vir my! Die dekor-insetsel is baie gewild, omdat ek vir mense wys hoe jy iets uit niks kan maak.
12. Som jouself in vyf woorde op?
Sensitief. Dinamies. Stylvol. Normaal. Soms baie meer insecure as wat mense besef.
13. As jy ’n drankie kon wees, wat sou dit wees?
Sauvignon Blanc.
14. Het jy ’n leuse waarvolgens jy leef?
Ek hou van Robin S. Sharma se aanhaling: “Kindness, quite simply, is the rent we must pay for the space we occupy on this planet.”
15. Waaroor het jy spyt in die lewe?
Ek het al baie hartseer ervaar in my lewe en daarom is ek baie hard op myself. Ek werk daaraan om minder krities te wees.
16. As jy vir jou 20-jarige self kon raad gee, wat sou dit wees?
Vat soms ’n bietjie langer om ’n besluit te maak en luister na daai stemmetjie in jou binneste. Sien sielkundiges vroeër in jou lewe. Dis glad nie ’n skande nie.