15 vrae aan Koos Kombuis, wie se jongste CD, Langpad na lekkersing, in Maart bekendgestel is:
Sal jy crowdfunding vir ander kunstenaars aanbeveel?
Sjoe, ek weet nie of ek dit sal aanbeveel nie. Dis verskriklike harde werk en het meer as ’n jaar van my tyd geneem om dit reg te kry. As daar egter geen ander uitweg is nie, is dit die moeite werd om dit ’n kans te gee. En werk deur webwerf wat werk met rand, nie dollar nie.
Jy het nie deur ’n agent of platemaatskappy gewerk nie. Hoe verskil die proses van voriges?
Daar was geen agent wat kon instap en kritiseer nie. Daar is geen amptelike bekendstellings en handtekeninge uitdeel nie. Ons is te lui daarvoor. Mense koop die CD omdat hulle by ander mense daarvan hoor en ons is vry om te sing en maak soos ons wil.
Hoeveel het jy ingesamel en was dit genoeg?
Ons het op die ou einde R170 000 ingesamel en die CD het meer as R200 000 gekos.
Wie sing en speel almal saam met jou?
Anna Davel, David Kramer, Pietman Geldenhuys en Corné Crous sing saam en die musikante sluit onder meer Albert Frost, Nick Turner, Schalk Joubert en Kevin Gibson in. Schalk het ook die verwerking van die liedjies gedoen.
Waar het julle oral opgeneem?
Sommige snitte in die ateljee, sommige in die Hidden Cellar, sommige in Schalk Joubert se sitkamer. Ons het oorlede oom Ollie Viljoen se klavier gebruik in die Drostdy-teater op Stellenbosch en by Sunset Studios die vermenging gedoen.
Hoe lank het die opnames geneem?
Gewoonlik is ‘n mens so drie dae in die ateljee, maar ons het meer as twee maande se opnametyd ingewerk.
Watse terugvoering kry jy?
Geen negatiewe terugvoering sover nie – en RSG speel vir die eerste keer my hele CD. Op Facebook het een ou geskryf hy kan nie besluit watter een sy gunstelingsong is nie; toe besluit hy om sy minste gunsteling te kies. Hy kon nie. Dis vir my ’n moerse kompliment.
Jy is meer as 35 jaar in die kalklig – is daar ’n loopbaanhoogtepunt as jy nou terugkyk?
Die laaste Oppikoppi waar ek opgetree het, was vir my ’n hoogtepunt.
Het jy die vertoning Beatles, JFK en Groep 2 by vanjaar se US Woordfees geniet?
Ja, dit was heerlik. Ek het saam met Amanda Strydom, Lynelle Kenned en Brandon October by die Spier-amfiteater gesing. Dit was nie diepgang nie, net lekker vermaak. Dit laat jou en die gehoor goed voel en is terapeuties.
Is mense meer ontvanklik vir sosio-ekonomiese en politieke boodskappe as dit in kabaret of musiekteater gelewer word?
Ja, mense neem dit in en gaan dink later daaroor. Delarey was ’n baie goeie liedjie vir daardie rede. Jy kan nie die musiek van die ideologie skei nie. Voëlvry het vir daardie rede gewerk; ek is nie seker mense het almal die boodskap gesnap nie, maar dit het mense laat besef daar is ander maniere van leef.
Wat het pawees jou van jouself geleer – verstaan jy dinge beter of het jy meer simpatie met jou ouers?
Ek besef nou my ouers het hel gehad: ek was sekerlik die moeilikste tiener in menseheugenis! Ek is lief vir al drie my kinders, Maryke, Simon en Marleen. Maryke woon in Port Elizabeth en ons sien mekaar baie min en het mekaar die laaste paar jaar eers regtig leer ken. My seun, Simon, het my geleer om van Tsjaikofski se musiek te hou. Ek het aanvanklik gedink dis die Here wat my straf, maar dit was lekker om te ontdek hoe ongelooflik dié musiek is. En Marleen is presies soos ek – sy gee my alle hel, soos ek my ouers gegee het.
Geniet jy dit nou weer om te toer?
Nee. Ek is gelukkig getroud en wil eerder tyd saam met my gesin deurbring. Ek tree nou minder op, maar gee in elke vertoning my alles. Dit gaan oor gehalte vir my.