14 vrae aan Brett Michael Innes oor sy boek, Sink, wat by NB-Uitgewers verskyn het en op die suksesvolle gelyknamige fliek volg:
Jy skryf ’n boek en maak ’n fliek en dit maak skoonskip op feeste en doen ongelooflik goed internasionaal. Hoe voel dit?
As ek terugkyk oor my paadjie met Sink is dit daardie tipiese ding van “vertel jy ’n grap om mense te laat lag, of om te bewys jy kan”? Sink was presies dit. Ek het aan myself bewys ek kan ’n boek skryf en ’n fliek daarvan maak en suksesvol wees. Ek skryf die rolprent se sukses toe aan die ongelooflike span wat saam met my gewerk het. Dis ons fliek, nie myne nie. Dit was ook ’n nuwe ervaring vir my om ’n span te lei; ek is gewoond aan solo vlieg. En boonop was die grootste genot die feit dat ’n hele groep mense my storie verstaan en ingekoop het daarin.
Kom skryf natuurlik vir jou?
Dit kom natuurlik, maar soos enige spier, word dit fikser hoe meer jy dit oefen en nou geniet ek dit geweldig. Maar ’n goeie redakteur is noodsaaklik. My spelvermoë en grammatika laat veel te wense oor!
Wat is jou droom vir die toekoms van Sink?
Ek hoop die onderwysdepartemente kies my boek en fliek om deel van die skoolkurrikulum te word.
Hoe verloop jou dae?
Ek reis geweldig baie en dit vul my siel. Ek is mal daaroor. Ek lei eintlik ’n sigeunerbestaan en vlieg solo.
Hoe voel jy oor die toekoms van gedrukte boeke en Afrikaanse flieks in SA?
Afrikaanse boeke en flieks is op ’n goeie plek. Daar word egter te veel Afrikaanse flieks gemaak. Sewe, agt jaar gelede was daar een elke jaar of twee; nou is daar ’n nuwe een elke drie, vier maande. Sanksies en sensuur het ons soveel jare afgesluit van die wêreld en ons het in isolasie gewerk. Nou is die Netflix-generasie hier en dit gaan opwindend wees om te sien wat die toekoms bring.
Wat was jou grootste uitdaging met die fliek?
Om die kapitaal te genereer en danksy kykNET het daardie droom waar geword, maar begrotings is altyd beperk en om flieks sonder geld te maak, is uitdagend. Die logistiek van fliekmaak is ook ’n groot uitdaging. Ek het ook besluit om die fliek – net soos die boek – te laat rondspring tussen verskillende tydperke in die karakters se lewe, sonder om kleurtoon te verander. ‘n Mens loop dan die risiko dat die kyker nie sien wat jy hulle wil laat sien nie of aanvanklik verstaan waar die storie nou is nie, maar ek vertrou kykers se intelligensie.
Wat beteken huis vir jou en waar woon jy?
Ek het ’n woonstel in Johannesburg, maar huis is ’n plek waar ek mense en roetines het wat ek herken; die bekende koffiewinkel, of gimnasium of hoekwinkeltjie. Ek het ’n ietwat sigeuneragtige opvatting oor die begrip huis.
Leef jy volgens ’n leuse of oortuiging?
Ja, daar is twee opvattings wat my lewensleuse as ’t ware verwoord. Die eerste een is David Mitchell uit Cloud Altas: “Our lives are not our own. We are bound to others, past and present, and by each crime and every kindness, we birth our future.” En die tweede uit Khaled Hosseini se The Kite Runner: “There is only one sin, only one. And that is theft. Every other sin is a variation of theft. When you kill a man, you steal a life … you steal his wife’s right to a husband, rob his children of a father. When you tell a lie, you steal someone’s right to the truth. When you cheat, you steal the right to fairness … there is no act more wretched than stealing.”
Na wie gaan jy vir raad?
My ouers, Chris en Cynthia, en vir fliekadvies, na Jan du Plessis by kykNET.
Is daar iemand spesiaals in jou lewe?
Nee. Ek is tans ’n solokunstenaar. Ek reis geweldig baie en sou nie eens goudvisse aan die lewe kon hou nie.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om aan te hou doen wat ek geniet. Sink was nie ’n trapklip nie, maar presies wat ek wil doen en meer van wil doen. Ek wil die lewe ten volle ervaar.
Mooiste kompliment wat jy al oor jou werk gehoor het?
Dis nie soseer iets wat ek by iemand gehoor het nie. Ek hou daarvan om in teaters te sit waar Sink vertoon word en mense se reaksie dop te hou. As iemand lag waar ek hulle wou laat lag, of huil of na hul asem snak, is ek gelukkig.
Is daar immigrant/ontvanger van die werk wat jy doen, wat jou diep geraak het oor die jare en wie se beeld jy saamdra?
Met die boektoer het ek by een Exclusive Books ’n vrou teëgekom wat vir my kom sê het my boek is haar ma se storie. En dat sy die dogter is wat oorleef het. Dit verras my en raak my diep.
Vertel my oor jou betrokkenheid by Joint Aid Management (JAM)?
Nie-regeringsorganisasies kom gereeld onder skoot en veral hul “kreperende Afrika-beelde” lok baie kritiek uit. Maar hierdie soort organisasies voed daagliks miljoene kinders. Wanvoeding en hongersnood is ’n groot probleem en om oorkant ’n sterwende kind te sit, wat tot in jou siel kyk en jy besef dis net so ’n sielvolle mens, ruk jou. Dit maak jou oë oop vir die ware nood daarbuite.