Elf vrae vir die lede van die Kaapse Affodille Boereorkes, Mariaan Wiese, Rena Smuts, Luzette Stemmet, Marietjie Willemse, Charmaine Willemse en Leonie Pelteret:
Wat is jou definisie van boeremusiek?
Mariaan: Voetjie-klop-kuier-musiek.
Leonie: Lekker stamp-musiek wat die dansvloer vol maak.
Rena: Dis kuiermusiek met ’n stamp, wat jou voete laat jeuk.
Luzette: Dis dansmusiek met konsertina en/of banjo.
Wie is jou boeremusiek-helde?
Mariaan: Fanie le Roux (konsertina). Ek is bevoorreg om aan ‘n baie goeie konsertinaspeler (Tobias Keyser) verloof te wees en hy help my baie. Tobias Keyser snr. Manie Bodenstein, Willie Botha; Fanie Bosch, Neels Matheus en Nico van Rensburg.
Leonie: Nico van Rensburg, Ollie Viljoen, Nico Carstens, Manie Bodenstein en Manie Groenewald (Baarskeerders Bos) en ook Klipwerf.
Marietjie: Theo Slabbert.
Wat is die lekkerste liedjie wat julle orkes speel en hoekom is dit jou gunsteling?
Mariaan: Bosveldvastrap se verwerkte weergawe, wat ons op Vastrap-kompetisie gespeel het.
Leonie: Definitief Bosveldvastrap of Donkerhoek. Die enjin hardloop dan seepglad. Die ‘skud’ in die konsertina verhewe die liedjie wat jou as musikant daardie warm-hartklop-gevoel gee.
Rena: Ou waenhuis, daar is net iets daarin, wat my lekkerkry-spiere kielie.
Waar kom jou belangstelling in boeremusiek vandaan?
Mariaan: Van jongs af het ek plate in die huis geluister en my ma het my in graad ses op ’n Platjie Lombaard-bandopname leer dans. Daarna het ek ’n dominee se boerekonsertina geleen en toe begin konsertinalesse neem by Fanie le Roux.
Leonie: My oom, Paul Avenant, het altyd kitaar gespeel. Hy is reeds op 28 dood aan kanker. Ek het hom nooit ontmoet nie, maar sy foto’s van sy orkesdeelnames het my altyd interesseer. Ek het ook destyds van RSG se openingsliedjie gehou, Connie met die rooi rokkie, wat Fonnie du Plooy altyd gespeel het.
Charmaine: As jy só saam met musiek grootword soos ek en my suster, kan jy nie anders as om belang te stel nie. Ek speel al van jongs af kitaar.
Is daar plek in 2017 vir boeremusiek?
Mariaan: Daar sal altyd plek wees vir boeremusiek, want dit is deel van ons diverse kultuur in die land.
Leonie: Alle kulture en musiekgroepe in Suid-Afrika verdien hul plekkie in die son. Ons moet mekaar respekteer.
Rena: Boeremusiek kan voortbestaan en groei, as ons net die jonger geslag kan betrek.
Het jy enige ander familielid wat in ’n boereorkes speel?
Mariaan: My verloofde, Tobias Keyser, speel nog gereeld.
Leonie: Nee glad nie, maar ek wens ek het.
Luzette: Al die van Blerks speel iets, behalwe my broer, Jacques.
Watter rol het ’n boereorkes in jou lewe as kind gespeel?
Mariaan: Ek het eers op 21 begin boeremusiek maak en dit was op ’n stadium my hele lewe. Werk en swot was ’n bysaak.
Leonie: Ons het na verskeie musiekgenres geluister. Dit is eers toe ek ouer word dat ek ’n diep liefde vir die genre ontwikkel het.
Marietjie en Charmaine: Ons het op die verhoog grootgeword en het van kleins af saamgegaan as die hele familie saamgespeel het. As dit slaaptyd was, het ons onder die tafel geslaap. Selfs op die familieplaas was daar nie ’n oom of nefie wat nie ’n instrument kon speel nie. As hulle braai of pot gemaak het, was dit ook meestal musiekaande.
Speel enigeen van julle ’n oupagrootjie of ouma se instrument?
Mariaan: My pa speel bietjie kitaar en my oupagrootjie het boerekonsertina gespeel in Gansbaai-omgewing.
Marietjie: My oupa het banjo gespeel en ek speel op sy Gibson-banjo in die Affodille.
Wat was jou persoonlike hoogtepunt as deel van die orkes?
Mariaan: Toe ons oorsee gegaan het (Duitsland en die Japanese Toerskip) en alle feeste is altyd ‘n hoogtepunt.
Leonie: Die optredes voor groot gehore oorsee, die samesyn as orkes, en die maak van ons tweede CD, Padlangs.
Rena: Die oorsese reis sowel as die voorreg om deel te wees van 2 cds wat die lig gesien het.
Is daar enige instrumente wat julle gebruik wat anders is?
Lucette: Ons gebruik die dwarsfluit (silwer fluit) saam die konsertina as duet. Dit gee ’n klasieke klank. Dit werk veral met walse.
Neem julle gereeld aan kompetisies deel?
Charmaine: Ons was deel van die TV-kompetisie, Vastrap op kykNET, wat op Lourensford Landgoed buite Somerset-Wes gehou is. Dit was ’n baie opwindende ondervinding. Dit was nogal senutergend om lewendig op TV te speel, maar definitief die moeite werd. Daar is ook jaarlike gildekompetisies (streek en nasionaal). Ons het al daaraan deelgeneem, maar daarvoor het jy ongelooflike baie oefentyd nodig om die liedjies te verwerk na ons sin.