Elf vrae aan die veteraan-akteur, aanbieder, vervaardiger, Elsabé Daneel, wat nou in Suidooster en Die Recce te sien is:
In jou loopbaan aan TV-aanbieder het jy met ’n hele gros indrukwekkende mense gesels, selfs Jean-Claude van Damme en Shirley Bassey. Watter onderhoud staan vir jou uit?
Tim Rice. Hy is ’n ongelooflike man. Hy is welbelese, intelligent en ’n ware heer. Ons het met sy besoek aan Suid-Afrika in Johannesburg gesels. Hy is ook baie gesofistikeerd. Maar dan moet ek byvoeg dat ek baie gewone mense met buitengewone stories ontmoet het en dit was ook hoogtepunte in my loopbaan. Dalene Matthee staan ook uit. Sy kon ver agter die gewone sien.
Wat geniet jy van sepies?
Dis lekker as jy lank by ’n sepie is en die geleentheid kry om die karakter te ontwikkel.
Linda Jordaan was ’n versukkelde vrou wie se man haar vir ’n ander vrou verlaat. Toe kry jy die kans om ‘die ander vrou’ ’n lekker klap te gee. Vertel my daarvan?
Sjoe, ons het lank saam met ’n stunt-man gewerk om die klap oortuigend te laat lyk sonder om mekaar seer te maak. Die oggend voor die skoot verfilm word, kom fluister Gita (Jo da Silva) in my oor dat ek haar met mening moet klap. Ek was skoon verbouereerd. Die stunt-man sê toe hy sal my leer hoe om dit te doen. Toe die oomblik aanbreek, haal ek uit en ek klap vir Gita. Ons al twee se oë was so groot soos pierings en daar was enkele oomblikke van stilte. Ná ’n paar sekondes begin my vier vingers bloedrooi oor haar wang verskyn. Ek was so geskok, maar die kameraspan was baie beïndruk!
Jy is veelsydig – SAUK TV-dramaproduksies, oorklanking, radiowerk en advertensies, teater, sepies. Watter een is jou eerste liefde?
Elkeen het sy eie magnetisme, bekoring en uitdagings. In die teater is ons as akteurs die instrument in die magiese kragte van die teater. Ons hou ’n spieël voor die gehoor en trek refleksies na die oppervlak wat soms baie lank begrawe was. Dis wonderlik om te sien wat die storie aan mense doen; hoe dit emosies ontsluit en hoe mense hulself in daardie situasie herken.
Wat beteken huis vir jou?
Hawe, holte vir die voet, plek om te ginnegaap.
LEES OOK: Dís wie hierdie bekendes bewonder
Wat was die grootste les wat jy al in die lewe geleer het?
Draai jou gesig soos ’n sonneblom na die lig.
Watter raad sal jy aan jou 20-jarige self gegee het?
Niks, want met tyd kom raad.
Wat is jou wens vir jou kinders? Roeline, Pieter en Xander?
My Hoërskool Jan van Riebeeck se leuse: WEES JOUSELF. Want dan sal hulle gelukkig en tevrede voel.
Wat maak jou woedend?
Wreedheid teenoor die weerloses. Domastrantheid.
Wat maak jy kinderlik gelukkig?
Kuier, kos, son, reis en my staffie Nala.
Waaraan werk jy volgende?
Drie projekte is in die pyplyn: ‘n musiek-en-gedigte-program, ‘n play deur ‘n bekroonde dramaturg/regisseur, ‘n Silwerskerm-kortffliek wat ‘n TV-reeks word.