Elf vrae aan Edwin van der Walt, wat tans op die kassie in Waterfront en Sara se Geheim te sien is en die hoofrol speel in die fliek, Wonderlus:
Almal wat deel was van hierdie fliek is jonk en besig om loopbane te bou. Hoe verskil dit om saam met ’n jong span te werk, teenoor ouer, ervare akteurs?
Ek dink die enigste verskil is ’n jong energie. Ons deel in dieselfde belangstellings en probleme so daar het ‘n baie vinnige en sterk band tussen ons gevorm. Met ouer akteurs is daar ‘n tipe respek en rustigheid. Vir my is dit in albei gevalle baie verskillend maar broodnodig om te groei as akteur en mens.
Wonderlus is by die kykNET Silwerskermfees vertoon. Watter terugvoer kry jy van mense wat dit by die fees gesien het?
Ek kon nie die fliek sien by die fees nie – ek was op stel – maar toe ek wel die dag daarna by die fees aankom, was ek oorweldig deur die terugvoering. Mense het goed gesê soos: ‘dis die eerlikste fliek in ’n lang tyd, hulle kon so baie vereenselwig, hulle het uit hulle maag gelag, só mooi en ’n tipe fliek wat hulle nog nie in SA gesien het nie’. Ek is baie trots op die fliek.
Die rolprent het drie pryse ontvang, beste draaiboek, beste aktrise en beste manlike byspeler. Hoekom dink jy het die fliek soveel pryse ontvang, is dit nie onderwerp, bloot die toneelspel of waaraan skryf jy dit toe?
Ek sal dit aan die skrywer en regisseur, Johan Cronje, toeskryf. Ja, die akteurs het ’n groot aandeel daarin, maar hulle moes ’n visie van Johan uitbeeld en uitleef. Hy het ons gelei en altyd seker gemaak ons gaan dieper en nader aan die waarheid van elke karakter se situasie.
Die aktrise, Lea Vivier, wat die rol van die kelnerin speel, het vertel dat jy haar die idee gegee het om ’n dagboek vir haar karakter hou?
Ek wil eerstens sê ek het so baie respek vir hoe Lea die fliek aangepak het. Daar was baie uitdagende tonele in, soos naaktheid, wat sy met soveel dapperheid en erns aangepak het. Dit was amazing. Ek het voor my eerste film, Hollywood In My Huis, net goed gelees oor films en my helde soos Heath Ledger. Ek het al gehoor dis ’n manier om in die kop van ’n karakter te kom en ek het met my eerste film besluit as ek rêrig so eerlik as moontlik dié karakter se storie wil vertel, moet ek doen wat ek kan en wat nodig is om dit te vind. André Velts (onder meer die regisseur van Die Pro) het my geleer en gesê ek moet altyd my instink volg as dit by spelkeuses kom, en ek besef meer en meer dit klink na eenvoudige raad, maar dis van die beste raad.
Watter rol het sover in jou loopbaan vir jou uitgestaan?
Elke rol het sy eie manier of rede, maar Pieter in Wonderlus was een wat ek dink moontlik vir baie lank binne my sal bly sit.
Jy het amper professioneel rugby gespeel toe die Sharks Academy in jou matriekjaar vir jou ’n kontrak aangebied het, maar drama gewen het. Kan jy jouself as professionele rugbyspeler sien en het jy al spyt gehad oor jou besluit om drama te kies?
Ek het al baie gewonder hoe dit sou wees. Ek wou van kleins af daai nommer 10-trui van die Blou Bulle aangetrek het en op Loftus Versveld uitgedraf het, maar ek sal nooit spyt wees nie. Ek kon myself as ’n professionele rugbyspeler gesien het, maar as ek nou so na ouens soos Duane Vermeulen en Siya Kolisi kyk, besef ek ek moet dalk eerder hou by die fliekbedryf. Ek weet ek is geroep om nou te wees waar ek is.
Het jy 2018 met voornemens begin; is jy daardie soort mens en hoe lank neem dit jou om jou voornemens te vergeet?
Ek het gewoonlik nie voornemens nie, maar wel ’n woord wat ek glo God kom neerlê. Vanjaar se woord was vreugde. En ek het sover vreugde ervaar op ’n manier wat ek nooit gedink het ek sou nie, ook soms tussen deur moeilike tye en seer, was die vreugde daar. Dis malligheid as jy besef dat vreugde ’n keuse is, dat God dit elke oomblik beskikbaar maak en dat geluk meer voorwaardelik is – iets moet gebeur dat jy geluk kan ervaar, waar vreugde in alle omstandighede moontlik is.
Wat is jou sterkste eienskap en wat sal jou beste vriend sê?
Seker empatie. Ek en Beer Adriaanse het ’n tydjie terug hierdie gesprek gehad dat empatie so mooi en goed is maar soms nadelig kan raak as jy van jouself en eie welstand vergeet.
Watter rol wil jy graag speel?
Ek wil baie graag in ’n biografie-fliek speel oor iemand se lewe wat nou nog leef of geleef het. Ek wil daai persoon kan bestudeer, sy manier van praat, sy ritme, sy liggaamspostuur, sy gedagtes, om te kan probeer transformeer om iemand se storie so eerlik as moontlik te kan vertel.
Jy het iewers genoem jy wil meer reis en welsynwerk doen. Kan jy uitbrei?
Ek het ’n online-platform (Rock What You Got) begin, waar ons mense inspireer, ’n tipe aanlyn mentorrol, en ek potgooi onderhoude met bekendes en alledaagse mense wat ’n inspirerende storie het om te vertel; mense wat doen waarvoor hulle lief is. Ons het ’n webwerf ook www.rockwhatyougot.co.za
Is jy nie bang as jy die SA bedryf vir ’n wyle los om te reis dat mense van jou sal vergeet nie?
Daai reis(e) sal darem nie vir jare wees nie. My fokus is nie of mense van my sal vergeet nie, maar eerder of ek alles wat ek moes doen in hierdie een lewe wat ek gekry het, gedoen kry. Ek sal nooit ophou toneelspeel nie; ek sal vir die res van my lewe in flieks en teaterrolle speel, te maak en te geniet. En veral in SA. Ons het ’n verantwoordelikheid om – vir ons gehore en onsself – gehalte-projekte aan te hou maak.