Ons vrae 10 vrae aan Sophia Kapp wat onlangs haar negende roman, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, bekendgestel het
Droom jy al van jou kinderdae af van skrywer word?
Nee, dis iets wat ek eers in my veertigerjare aangepak het. Hierdie soort romantiese fiksie kan jy net skryf as jy self al ’n keer of twee teen die planke was en jy deernis vir menslike leed en begrip vir die menslike psige ontwikkel het. Om oor trauma soos egskeiding of die gekompliseerde verhouding tussen ’n tiener en ’n enkelouer te skryf sonder dat jy daar was, is ’n waagstuk.
Jou jongste boek, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, is ’n baie dik boek waarin die held en heldin by mekaar uitkom, maar dis gekompliseerd. Hoekom was dit belangrik om soveel struikelblokke op haar pad te sit?
Simoné se struikelblokke is allermins uniek of buitensporig. Daar is vroue wat uit huwelike loop wat vir jou sal vertel dis ’n piekniek hierdie. Die soort goed waarmee sy spook, is deel van elke vrou se heelwordproses, en die aanpak van ’n verhouding ná soveel seer en teleurstelling, is vir niemand maklik nie. Barnard Richter is baie spesifiek geskep vir elke vrou wat mank uit ’n verhouding gekom het: Hy is mooi, jonk en ryk, maar hy is ’n volwassene. Hy het nie ’n ma nie, hy het nie kinders nie en sy hoef nie sleg te voel dat hy nie by haar gaan kinders hê nie. Maar boweal is hy viriel – die skade wat Simoné in haar huwelik gely het, was enorm, en haar selfvertroue is aan flarde. Sy het ’n mooi man nodig, iemand wat kan byhou en iemand wat haar waardeer en geniet en bederf en vertroetel, nie iemand wat elke tweede aand hoofpyn het nie.
Jy is self deur twee egskeidings. Wat het jy van jouself geleer in die proses en is skryf deel van die helingsproses vir jou?
Ja, skryf is helend. Maar die grootste les wat ek geleer het, is dat almal ‘n innerlike stryd voer. Niemand se lewe is so rooskleurig dat dit net goed gaan nie. Baie mense steek hulle seer weg omdat hulle skaam vir hul omstandighede of vir hul eie dom keuses is, maar dit beteken dat hulle nie agterkom ander mense is in soortgelyke situasies nie. Diva was ‘n poging om raakpunte neer te skryf vir vroue wat te moeg is om verder te worstel en te eensaam is om te praat. Dit was ‘n boek wat gesê het: Jy is nie die enigste een wat nog ooit ‘n oordeelsfout gemaak het nie, en jou lewe is nie waardeloos omdat jy hierdie een ding nie kon regkry nie.
Watter raad het jy vir ander vroue wat deur soortgelyke probleme worstel?
Daar is ‘n Persiese fabel waarin ‘n magtige koning sy wyse manne aansê om ‘n spreuk uit te dink wat in alle omstandighede waar sal wees. Hul antwoord was “This too shall pass” (maar in Persies, natuurlik). Dis die beloop van die lewe: Niks is permanent nie, nie die vreugde nie, maar ook nie swaarkry nie. As jy nou op ‘n donker plek is, haal asem. Dit raak beter. Nie oornag nie en nie vanself nie, maar dit raak beter.
LEES OOK: Tien vrae aan Karin Brynard en Deon Meyer
Hoekom is dit belangrik om kwessies soos egskeiding en selfvertroue in boeke aan te raak?
Want die meeste vroue het hierdie swaarkry aan hul lywe ervaar. As hulle nie self geskei is nie, moes hulle ‘n suster of ‘n ma of ‘n dogter of ‘n vriendin daardeur begelei, en dit is regtig so seer as wat almal sê dit is. Dis belangrik om lesers te laat verstaan hulle is nie snaaks of vreemd of melaats of onaanvaarbaar omdat hulle ‘n menslike ding oorgekom het nie. Hulle is ook nie mislukkings omdat ‘n verhouding misluk het nie. En dit is ook nie nodig om jouself vir die res van jou lewe te verguis omdat jou huwelik nie gewerk het nie. Dit is oukei om in jouself te glo en van voor af te begin. Iewers in jou menswees is daar genoeg waarde om ‘n nuwe begin te laat werk.
Glo jy nog aan die liefde of is dit net vir romans beskore?
Ek glo absoluut aan die liefde. Ek dink nie dis maklik nie, maar ek glo daarin. Ek weet net dis op meer plekke as in ’n liefdesverhouding te kry, en ’n mens moenie die liefde en ondersteuning wat ’n mens van vriende en familie kry, minderwaardig ag nie. Uiteindelik gaan vervulling oor die waarde wat jy uit jou eie lewe haal, en as jy vir ander iets kan beteken, as jy die mooi kan raaksien en waardeer, as jy kan liefde gee, as jy iemand wat seer het, kan troos, as jy iets kreatiefs kan skep, as jy dit met ander kan deel, dan is jou lewe sinvol.
Jy skryf ongeveer elke jaar ’n boek of twee, hoe gedissiplineerd is jou skryfproses?
Ek probeer om elke dag aan my storie te werk, maar dit kan nie altyd nie. Soms is ’n mens net te moeg. Maar as daar twee weke verby is waarin ’n mens nie daarmee besig was nie, moet jy weer van voor af in die storie inklim. Dis lastig.
Het jy ’n lêer met idees/karakters en storielyne waarin jy gereeld vir inspirasie gaan grawe?
Nee, glad nie. Alles gebeur in my kop. Ek beplan ook niks op papier nie. As ek iets skryf, is dit reeds klaar bedink en is dit reeds ʼn storie.
Waarna soek jy in ’n goeie boek en sit jy maklik ’n halfgeleesde boek neer of druk jy deur?
Ek lees goedvoelstories, maar ek hou van geloofwaardige karakters. LaVerle Spencer is ’n absolute meester daarmee. As ’n boek my verveel, slaan ek sulke laaaaaaang paragrawe oor en lees so hier en daar die eerste sin tot ek weer iets kry wat my boei. Maar ek lees vir hom klaar – ek moet daardie aha-gevoel aan die einde hê. My ander skryfhelde is Tryna du Toit, Spencer, Eva Ibbotson, Rosamund Pilcher en Nora Roberts.
Hoe ontspan jy?
Ek hekel. Nie vreeslik goed nie.