Tien vrae vir Antoinette Louw, wat tans die rol van Karen le Roux in Swartwater vertolk en ook in twee films te sien is:
Hoe verdeeld is jou hart oor film, televisie, verhoog?
Die verhoog sal altyd my eerste liefde wees, want dis waar ek begin het. Maar ek is lief vir al drie mediums. Dit gaan vir my oor ’n goeie storie. Goeie stories kan ’n groot invloed hê op mense – dit kan lewens verander; mense bietjie anders na die lewe laat kyk; empatie kweek.
Hoe voel dit om te gaan inkopies doen en jou gesig op ’n tydskrif voorblad te sien?
Dis ’n vreemde gevoel. Maar ek is dankbaar wanneer ek wel die eer het om op ’n voorblad te verskyn. Dis egter nie iets wat my definieer of spesiaal maak nie. Dis deel van my werk.
As daar een ding aan jouself is, wat jy kon verander, wat sou dit wees?
Om minder krities op myself te wees.
LEES OOK: 10 vrae aan Jo Black
Waaroor in jou lewe het jy spyt?
Ek glo nie daaraan om met spyt te lewe nie. Ek is tevrede waar ek nou is in my lewe. Goed wat gebeur het of nie gebeur het nie, moes so wees. Nee wag, ek is spyt dat ek nooit leer klavier speel het nie. Ja, daaroor is ek wel spyt.
Wat is jou lewensleuse?
“Saggies vat en kry reg; ruk en pluk en gooi weg.” – CJ Langenhoven
As ek jou beste vriende sou vra, wat sou hulle sê is jou beste eienskap as vriendin?
Ek luister.
Hoe ontspan jy?
Ek is baie lief vir lees. En ek doen ten minste vier keer ’n week warm joga (wanneer ek by die huis is). Verder geniet ek ’n lekker glas wyn saam met vriende.
Waarin sien ons jou op die verhoog ná Augustus?
Ek wag nog vir die regte teaterprojek om oor my te pad te kom. Ek wil nie halsoorkop in ’n ding betrokke raak nie.
Oral waar jy lees, merk mense op dat jy soveel sterker is as ’n paar jaar terug. Wat het verander?
Ek vermoed dis maar die groeiende aanvaarding van die self. Die rustigheid daarvan. En ’n vertroue dat alles uitwerk soos dit moet. Die geduld daarvan. Dis ’n lekker gevoel.
Jy is ’n eenkantmens. Neem die behoefte toe soos jy ouer word?
Die behoefte is nog altyd daar. Ek is net meer gemakliker daarmee en sal eerder by die huis bly as wat ek na ’n geselligheid toe moet gaan. Ek voel nie meer dat ek op iets gaan uitmis soos toe ek jonger was nie.