Tien vrae aan die akteurs, Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam, wat nou saam op die kassie is in Onder die Suiderkruis:
1. Watter van jou rolle wat jy al gedurende jou loopbaan vertolk het, was nog die naaste aan jou eie persoonlikheid?
Stian: Nie een nie. Elke karakter wat ek vertolk, het sy unieke eienskappe en elkeen het sy eie uitdagings.
Tinarie (laggend): Ek het só ’n gesplete persoonlikheid … Ek probeer om in elke karakter daardie ertjie van myself te vind. Dis soms onrusbarend as dit ’n leliker karakter is en jy wel daardie ertjie vind. Maar as ek een moet uitsonder, sou dit Mariaan van Hemelruim wees. Dieselfde storie word oor en oor vertel, maar met verskillende uitkomste. Die toneelstuk is só oop geskryf en het soveel oop interpretasie-moontlikhede. En ek dink die feit dat ek en Paul du Toit die voorreg gehad het om dit vir ’n lang speelvak by feeste én The Fugard-teater te speel, het daartoe bygedra. Die onmiddellikheid van die stuk om die gehoor se reaksie te verken, het dit amper soos improvisasie laat voel.
2. Watter rol was sover die grootste persoonlike uitdaging en hoe het jy dit ore aangesit?
Stian: Elkeen het sy eie uitdagings. Daar is niks makliks aan acting nie. Jy moet konstant in die oomblik wees; bewus wees van waar jy jou bevind. Jy kan nie bekostig dat jou gedagtes dwaal nie. Jy moet daai rol repeteer tot daardie goed in jou lyf sit.
Tinarie: Elke nuwe rol beteken dat jy elke keer weer van nuuts af aan begin – iets uit niks moet skep. Ek dink die andersheid van die rol van Vlooi, die hond, in Wild, was dalk die uitdagendste vir my. Dit gaan nou in Julie Vryfees toe en dis lekker om weer die rol ná vorige feeste te herbesoek.
3. Watter rol glo jy het jou loopbaan gevestig en mense van jou laat notisie neem?
Tinarie: Ek sal nie kan sê nie. Die definisie van sukses is maar troebel, want almal se idee van sukses verskil. Vol sale beteken nie goeie teater nie; leë sale beteken nie swak teater nie. Ek dink om in my eie taal te kan teater maak, is vir my die lekkerste ding. Soms wil ek oopbars van opwinding, dankbaarheid en die viering van my beroep en die wonderlike mense met wie ek werk.
4. Watter rol wat jy al vertolk het, is die een waarvoor jy (sover) onthou sou wou word?
Stian: Nee, ek sal eerder wil hê mense moet ’n produk onthou, hetsy teater, fliek of reeks. Die ervaring daarvan is belangriker.
Tinarie: Ek sou hoop dis vir teater. Die magiese van teater is daardie onverwagte aanraking van die onsigbare gehoorlid. Wanneer jy hul hartsnare roer en hulle iets kosbaars gee.
5. Hoe lekker was dit om weer voor die TV-kameras te wees?
Tinarie: TV is altyd vir my ’n uitdaging. Ek is baie gemakliker in die teater. Ek het nog so baie om te leer voor die kameras; dis ’n heeltemal ander milieu. Daar is ’n baie groter tegniese span en ’n hele skare mense agter die kameras, wat elkeen ’n belangrike rol vervul.
6. Binge watch jy ooit reekse?
Stian: Ja, beslis. Ek is nogal obsessief en wil graag iets klaar kyk as ek begin. Ek het pas The Alienist gekyk en baie geniet en was ook mal oor Dark.
7. Na wie gaan jy as jy groot besluite moet neem?
Stian: Ek het altyd na my pa gegaan, maar hy is verlede jaar oorlede. Ek het gelukkig ’n geweldige sterk ondersteuningstelsel wat uit goeie vriende bestaan en ek klop maar daar aan.
Tinarie: Omdat ek so ver van die stad woon, bring ek baie ure agter die stuurwiel deur. Dis my dinktyd. Maar ek stem saam met Stian. My vriende is my klankbord, maar ek volg ook my eie instink. Ek kry soveel insette as moontlik en sif dan alles tot ek met die antwoord tevrede is.
8. Waarin glo jy – het jy ’n lewensleuse of mantra?
Stian: Nee, ek is nie só ’n mens nie. Ek glo net dat jy moet goed wees teenoor mens en dier; met respek moet leef.
9. Wat is jou swakste eienskap?
Stian: Ek is net mens. Ek maak foute. As ek ’n bietjie meer soos my pa kon wees; of soos my ma, of soos my ouma; wat die liefde vanself was, sou dit goed wees. Oukei, kom ek erken maar dat ek nie so lelik wil praat nie.
Tinarie: Sjoe, ek het baie en ek is nie seker ek is reg om dit met die wêreld te deel nie. (lag). Maar ek het nogal die geneigdheid om te vinnig te ry …
10. Waarin sien lesers jou van Julie vanjaar af?
Tinarie: Ek is die regisseur van Swerfgoed wat by die Vryfees, dan die Baxter-teater, Aardklop en Woordfees opgevoer word. Dit het by die KKNK debuteer. Swerfgoed het drie Kannas verower: beste byspeler: manlik: Richard September; beste byspeler: vroulik: Nicole Holm en beste nuutgeskrewe teks. Ek speel ook in Wild by die Vryfees.