Ons vra 10 vrae aan hierdie week se voorbladvrou, Lika Berning PLUS deel nog foto’s van haar voorbladfotosessie
Wat doen jy vir ontspanning?
Ek is mal oor kuns, kunsflieks, galerye, uitstallings. Ek verf self! Maar deesdae is daar min tyd vir lees en verf, want my rus-oomblikke is meestal tussen die kinders. Ons stap, gaan parkie toe, speel by die huis, bad, lees boekies! Ek geniet ook Bikram-joga.
Binge watch jy ooit reekse?
Ja, mees onlangs – Jane Campion – Top of the Lake.
Hoe gesteld is jy op jou privaatheid?
Dis vir my belangrik, ek hou my huwelik en my kinders uit die media uit soveel ek kan. Ek wil ook egter deel van my gemeenskap wees en ek geniet dit om met mense oor my werk te praat.
Het jy ’n gunstelingmedium?
Ek het lanklaas teaterwerk gedoen. Ek is nogal geïntimideer deur teater – dis harde werk, dis vermoeiend om jouself elke nag vir weke lank, so weerloos te maak vir ’n gehoor. Op die oomblik voel fliek en TV makliker – veral met drie jong kinders.
Wat is die mooiste woorde wat jy al gehoor het?
I love you mommy.
Watter eienskappe het jy van jou pa en watter van jou ma geërf?
My pa droom groot en is ’n wonderlike, sagte mens met empatie vir almal – ongeag die situasie. Hy sien altyd die vele kante van ’n storie – dit maak hom ’n goeie regisseur. Ek hoop ek kan só wees. My ma sien detail, sy het ’n fyn intuïsie, ’n vinnige oog en oor. Ek vertrou altyd dat sy ’n situasie te goed ontleed, sy gee die beste raad – ek hoop ek het dit geërf!
Wat is die beste raad wat jy al by jou ouers ontvang het?
Doen waarvoor jy lief is. Vat jou tyd. Vertrou God.
Wat beteken huis vir jou?
Waar my familie is. Maar ek is nogal iemand wat hou van ’n plek. Ek wil my mooi goedjies uitpak, skilderye hang, blomme uit sit, tuinmaak. My huis is my safe space. Op die oomblik is dinge meer prakties as enigiets anders – die kinders verniel my banke, beddegoed, tapyte en elke bord is omtrent gechip. Maar ek droom oor my “grootmenshuis”.
Hoe na was jy aan jou ouma Bettie?
Baie na aan haar. Sy het my soveel geleer oor vrouwees en mawees. Om te doen waarvoor jy lief is, om nie bang te wees nie. Om groot te droom, hard te werk.
Was daar spesifieke goed wat jy gaan op soek het in Parys tydens die verfilming van French Toast om haar spore as’t ware na te volg?
Sy het verskeie kere ’n ateljee in Parys besoek en daar steendrukke saam met ’n kunstenaarsvriend gemaak. Ons het fantastiese argiefmateriaal gehad daarvoor. Ek het hom nooit ontmoet nie, hy is lankal oorlede, maar ek sou graag met hom wou gesels oor my ouma, jonk en voortvarend – in Parys in die veertigerjare – die wonderlike tyd met die koms van modernisme. Vol skuiwings in kuns en filosofie.
Waarvan droom jy?
Ek wil die wêreld sien met my kinders! Ek wil graag nog amazing flieks maak! Soveel dinge …