Ons vra 10 vrae aan Suid-Afrika se nuwe sangsensasie, Jo Black, wat vroeër vanjaar sy eerste album, Skepe, bekendgestel het.
Deur: Dané de Klerk
Jo Black (eintlik Engelbrecht) se album, Skepe, het binne ses weke goue status bereik. Jo staan ook bekend as die man agter die BTG-projek. BTG staan vir Be that guy/girl, ‘n projek waar Jo mense by skole, universiteite, kerke, en manne-groepe toespreek. Hy probeer so ‘n platform skep vir mense om te besef dat almal se storie nie altyd maklik is nie en daarom is dit belangrik om almal soos ‘n iemand te laat voel. Hy is hierdie jaar vir die eerste keer by Liefde By die Dam, wat 6 Augustus plaasvind by Emmarentia Dam in Johannesburg.
1. Waar kom die verhoognaam “Jo Black” vandaan?
Daar is ‘n lang storie en dan tien korter weergawes, dis eintlik net ‘n noemnaam wat ek al vir die laaste tien of so jaar ronddra omdat niemand my van oorsee kon uitspreek nie.
2. Waar kom jou liefde vir musiek vandaan?
Toe ek 15 was, was my grootste begeerte om ‘n rockstar te wees (soos meeste laaities) en ek het my eerste kitaar toe gekry en van daar af is die res geskiedenis.
3. Was jou eie CD nog altyd op die kaarte?
Nee, nie eintlik nie. Dis snaaks hoe mense sekere van jou drome eers besef as ander mense jou daarvan bewus maak. In my geval het die idee nooit by my opgekom voordat Johan Vorster my laat besef het dat dit ‘n droom van my is nie.
4. Vertel ons meer oor jou debuutalbum, Skepe.
Die hooftema is hoop, ek glo dis die een ding waarvan almal ‘n bietjie meer nodig het. Wat jy gaan hoor is my hart met ‘n melodie, wat jy gaan ervaar is hopelik hoop en inspirasie.
5. Hoe het Be That Guy ontstaan?
Ek en twee vriende wou iets begin wat ‘n positiewe bydrae tot die samelewing bring. Stories wat opbouend is en mense motiveer om ‘n verskil te maak.
6. Die Be That Guy Roadshow het al meer as 100 skole oor die land besoek. Waaroor gesels jy met hulle?
Ons staan tans op 242 skole. Dis iets wat ek nooit sien kom het nie. Ek deel my storie. Ek glo almal het n storie om te vertel. Ek skep ‘n platform waar die kinders moet besef dat almal se storie nie altyd maklik is nie en daarom is dit belangrik dat ons almal soos ‘n iemand laat voel.
7. Is daar ’n storie agter jou baard?
Dis om ‘n dubbelken weg te steek.. Haha nee, dit was ‘n simbool van my oupa se stryd teen kanker, nou is dit net ‘n gewoonte.
8. En jou tatoeërmerke?
Hulle vertel my storie. Sodra ek iets ervaar wat baie betekenisvol is vir my maak ek dit permanent vas in my tatoeëermerke.
9. Die video van jou liedjie, Skepe, is in die eerste paar dae ná bekendstelling byna ‘n miljoen keer gekyk. Het die gewildheid jou verbaas? Hoe voel jy oor die nuwe loopbaan?
Dit was oorweldigend, ek is nou nog verstom oor hoe goed Skepe ontvang is. Ek is dankbaar vir al die veranderinge, maar op die ou einde is ek maar steeds net Jo.
10. Dit gaan jou eerste keer wees wat jy by Liefde by die Dam optree. Sien jy uit om saam met ‘n klompie van SA se gunstelingsangers en –groepe op te tree? En na wie se musiek luister jy graag?
Dit is vir my ‘n groot voorreg om die verhoog te deel met daai tipe kaliber van musikante. Ek meen Laurika, Heuwels, Riana, Francois, Majozi en Loki is amazing kunstenaars. Hierdie gaan een vir die boeke wees.
Ek is ‘n groot fan van goeie musiek. Musiek moet driedimensioneel wees, dit moet met jou hart, siel en ore praat. Bruce Springsteen, Dewald Wasserfall, Roan van As, ek kan die heeldag aangaan.
Luister hier na Jo Black se liedjie, Skepe
Luister hier na die liedjie: Bring Die Hoop Weer Terug
Jo Black is hierdie jaar vir die eerste keer by Liefde by die Dam. 2 lesers kan elk dubbelkaartjies na dié geleentheid wen! Klik hier om meer te lees oor Liefde by die Dam en om in te skryf vir die kompetisie