Tien vrae aan Amalia Uys, wat nou die rol van Lara in die drama, Spoorloos op kykNET, vertolk
Hoekom het jy besluit om die rol van Lara in Spoorloos aan te gryp?
Die regisseur, Ilse van Hemert, het vir my gesê: “Jy is Lara. Oukei wag, jy het intussen al ’n kalmte gevind, maar Lara is Amalia in haar twintigerjare.” Dit het my die kans gegee om as’t ware terug te gaan na wie ek tien jaar gelede was. En daarmee kon ek natuurlik goed identifiseer.
Kyk, ek stem nie noodwendig saam dat ek presies soos Lara was/is nie. Dis meer die wildheid van natuur, die rebelsheid, anti-sisteem, challenging houding wat sy het en dat sy nog nie geleer het hoe om werklik vir haarself die beste besluite te neem nie. Die wending vind wel plaas in Spoorloos vir Lara en nuwe horisonne lê vir haar voor. Nes ek ook meer beheer geneem het oor my eie lewe en beter besluite begin neem het.
Hoe voel jy oor al die Suid-Afrikaanse flieks wat ons nou te sien kry?
Dit maak my baie opgewonde, maar dit voel vir my ons kan nog brawer wees en meer kanse vat. Maar die groei die afgelope paar jaar is opmerklik. Die gehalte van die inhoud het verbeter en ons sien nou driedimensionele stories. Ek dink wel ons kan nog harder werk aan meer intergrasie oor die kleurgrens. Ek sou graag ’n hoofrol wou vertolk in só ’n fliek. Dis ook vir my lekker dat mense gemaklik daarmee is om hul eie werk te skep. Dis ook my langtermynvisie dat jy nie vir werk hoef te wag nie, maar dat jy dit self laat gebeur.
Watter Suid-Afrikaanse fliek het jy die afgelope paar maande gesien, wat jy regtig geniet het?
O gaats, ek wil baie graag Five Fingers for Marseille kyk. Het gehoor dit was amazing maar nog nie gesien nie.
Watter rolprentmakers, akteurs en regisseurs moet ons dophou?
Ek dink ons moet almal dophou. Party mense het al verder gevorder en ander het nog hul ‘training shoes’ aan maar almal is besig om te woeker en te werskaf aan ’n droom en dis goed. Ons het nodig om ons visie te verbreed en as Suid-Afrikaners verteenwoordigende inhoud te skep, sonder die politiek wat saam met die Afrikaanse bedryf kom. “Yes to inclusion, no to exclusion!”
Jy is nou drie jaar in die Kaap. Wat mis jy van Johannesburg?
Natuurlik my vriende en die windlose, wonderlike somersdae. Die pragtige Jakarandas, maar dit voel vir my of ek in die Kaap hoort. Toe my ouers aftrek Kaap toe en my suster oorlede is, het ek nie gevoel daar is iets wat my daar hou nie en ek voel ook nie meer die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf is net om Johannesburg gesetel nie.
Jy het vir sewe jaar San-Mari van Graan in 7de Laan en Margot Brink, Jana se regterhand in kykNET se Binnelanders, vertolk. Mis jy ooit sepies?
Ja beslis, die hoekom dit so lekker was om in Suidooster te wees. Ek was maar in totaal twee weke lank daar, maar dit het my net weer laat besef wat ek mis: daardie lekker familie-gevoel en die tempo van daagliks toneelspeel. Dis heerlik om saam met ’n klomp mense te wees, is wonderlik. As vryskutter is jy maar baie geïsoleerd en ek kan nogal maklik ’n kluisenaar word. Ek voel wel dat vryskut met ’n klomp voordele kom en dat ek dit vir so lank as moontlik sal wil doen. Variasie is die teenmiddel vir stagnasie!
Is daar iets waaroor jy spyt het in jou lewe?
Dat ek nie op universiteit harder gewerk het nie! Ek het dit net te veel geniet om student te wees. Ek wens dat ek en my suster mekaar beter kon leer ken voor sy ons verlaat het.
As dinge so moeilik gaan met akteurs, dink jy ooit dat jy die verkeerde besluit geneem het om aktrise te word?
Ek het oomblikke waar ek voel ek moes miskien iets anders geswot het. Maar dan wonder ek hoe ek sou voel as ek nie akteur was nie. Ek is baie gelukkig: die langste wat ek nog tussen rolle ledig was, is twee maande. Ek is baie lief vir dit wat ek doen en ek sal dit maak werk: come hell or high water!
Na wie gaan jy met groot besluite in die lewe?
Ek gesels met my man en my ouers.
Wie het jou al die beste raad gegee?
My ma, pa, Shaun en goeie vriendinne soos Christel van den Bergh, Wilmien Roussouw en Christi Panagio. Ek is geseënd met ‘n ongelooflike interessante vriendekring en hulle almal het al my lewe verander op hulle eie unieke manier.
Waarheen reis jy volgende vir vakansie?
Ek het die afgelope tyd Italië en Griekeland ontdek en danksy ’n Duitse advertensie, was ek ook in Duitsland. Dit was heerlik. Ek sal graag die Ooste, Turkye, die Filippyne en Viëtnam wil gaan verken.
Waarin sien ons jou nog in die volgende paar maande?
In twee Deon Opperman-flieks wat direk TV toe gaan: Vat ’n Kans en Die Skandaal. Ek is ook in die fliek, Relatief Jonk, te sien wat waarskynlik teen Desember in fliekteaters sal begin draai.