Tien vrae aan Armand Aucamp, wat nou te sien is in die tweede seisoen van Die Boekklub en ook die manlike hoofrol in Krotoa speel, wat op 4 Augustus landswyd begin draai:
Wat is jou hoop vir Krotoa?
Ek hoop mense sal na die teaters stroom en die film gaan kyk. Ek hoop dit maak hul koppe oop en dat hulle met ’n onpartydige gemoed sal gaan en die film ’n eerlike, oop debat sal ontlok.
Jy het al teenoor Idris Elba, Cuba Gooding Jr en ander groot name gespeel. Het jonger akteurs baie geleentheid op stel om met hulle te kuier en van hulle te leer, of is dit maar baie afgesonderd en elkeen kom in vir sy toneel en gaan weer?
Ek weet baie minder bekende akteurs vertel dat hulle nie geleentheid gegun word om met die groot sterre te gesels nie, maar ek was nog altyd gelukkig. Ek het onlangs lank langs Laurence Fishburne gesit en ons het heerlik gesels. Hy was toeganklik en belangstellend en het uitgevra oor die SA bedryf en het sy eie verhaal oor sukses gedeel. Ek was baie beïndruk met hom as mens.
LEES OOK: Krotoa se amptelike lokprent pas vrygestel!
Hoe verdeel jy jou tyd tussen Kaapstad, Joburg en Los Angeles?
Ek was vir ’n paar jaar so twee maande in Los Angeles, maar was lanklaas daar. Kaapstad is nou weer my permanente huis, hoewel ek baie min tuis is.
Saam met watter akteurs en regisseurs sal jy nog wil werk?
As regisseur is dit beslis Katinka Heyns. Ons het baie ongelooflike, jong akteurs maar ek sal graag met die veterane en pioniers van die bedryf wil werk. Ek mis mentorskap in ons land. Ons het nie ’n kultuur van mentorskap nie. Ek sal ook graag saam met Brett Michael Innes wat Sink gedoen het, wil werk. Ek dink hy gaan jou druk tot jou allerbeste en jou nie toelaat om lyf weg te steek nie.
As akteurs moet ek erken dat die akteurs in Die Boekklub right up there was. Maar ek sal ook graag saam met Sandra Prinsloo en meer saam met Stiaan Bam wil werk.
Het jy enige drome van jou eie fliek maak, of verkies jy om voor die kameras te wees?
Beslis, ek sal graag regie wil behartig, maar nie nou al nie. Ek sal eers baie meer wil leer dat ek die veiligheidsnet vir almal op die stel kan wees. Ek is ook nog lank nie klaar toneel gespeel nie. Ek sal ook eerder filmregie as televisieregie wil doen; die begrotings en tydsduur is ruimer.
LEES OOK: Ons gesels met: Neels van Jaarsveld
Na watter akteurs kyk jy op?
Daniel Day Lewis, Gary Oldman, Cate Blanchett en Annette Benning.
By wie het jy al die beste raad gekry wat jou loopbaan verryk het?
Van my ouers. Ek was ingeskryf vir Bcom Rekeningkunde gaan studeer en kom toe by die huis met die nuus dat ek eintlik ’n akteur wil word en drama gaan swot. My ouers se reaksie was dat ek moet doen wat reg is vir my.
Is jy ’n werkolis, of werk en partytjie jy ewe hard?
Ek werk harder as wat ek partytjie hou. Ek hou meer van rustige etes of ’n braai, as baie mense en laat kuier.
Is daar iemand spesiaal in jou lewe en waarna soek jy in ’n maat?
Ek soek ’n gelyke. Ek wil nie hê iemand moet voel hulle moet by my probeer byhou nie, maar ek wil ook nie voel ek moet by hulle byhou nie. Iemand wat net soveel insit en gee as ek.
As jy een ding aan jouself kon verander, wat sou dit wees?
Ek sou meer buigsaam wou wees – meer ander sieninge oor die lewe wou toelaat.
Waarna soek jy in rolle voor jy “ja” sê?
Dit moet ’n geloofwaardige karakter wees en die storie moet goed geskryf wees. Ek sê gereeld “nee” vir rolle as my gut my daarteen waarsku. Ek sit ook dan nie en tob oor die besluit nie; ek beweeg aan.
Wat beteken huis vir jou?
My ouerhuis op Stellenbosch voel steeds vir my soos huis, omdat ek so baie getrek het en so baie reis. Ek het daar gewoon van my negende jaar af. My ouers het dit gebou en ek voel hul teenwoordigheid in die mure. Huis is vir my die plek waarheen ek wil gaan as ek moeg is; waar ek kan ontspan en waar my koffiemasjien is!