Willie Burger kyk na Christiaan Bakkes se werke
Christiaan Bakkes het baie lesers se verbeelding aangegryp met die verskyning van Die lang pad van Stoffel Mathysen (1998). In hierdie roman het lesers kennis gemaak met ‘n jong veldwagter wie se roekelose lewe daartoe gelei het dat hy sy arm in ‘n onderonsie met ‘n krokodil verloor het. Ten einde weer rigting in sy lewe te vind en om met homself vrede te maak, pak Stoffel ‘n lang reis aan – van Kaapstad, deur die Sederberge, Namibië, Botswana, Zambië en Malawië tot in Tanzanië.
Tydens dié lang reis beleef hy baie avonture, maar vind ook sy roeping as wildbewaarder in Afrika. In verskeie kortverhaalbundels ná Die lang pad van Stoffel Mathysen, het Bakkes verdere avonture van Stoffel vertel: Stoffel in die wildernis (2000), Stoffel by die afdraaipad (2004), Stoffel se veldnotas (2007), Stoffel in Afrika (2010) en Stoffel op safari (2012). Al hierdie Stoffel-verhale spruit uit Bakkes se eie ervarings as natuuurbewaarder en safarigids.
In sy jongste toevoeging, Krokodil aan my skouer. Stoffel toe en nou, vertel Bakkes met kenmerkende bedrewenheid Stoffel se storie van sy skooldae, sy dienspligervaring en ook van die tyd ná Die lang pad van Stoffel Mathysen.
Naby aan die einde van Krokodil aan my skouer vertel Stoffel Mathysen van sy werk in die Kaokoveld: "Ek word deel van die woestynlandskap van die wye Kaokoveld en wilde Damaraland (…) Ek ontdek ‘n deel van ou Afrika waarvan ek altyd gedroom het. Die werk is opwindend en soms gevaarlik, veral as ons met woestynolifante te doen kry. Daar word van my verwag om vleis te jag vir die plaaslike gemeenskappe. Almal lyk beïndruk oor hoe ek die geweer met my stomp linkerarm hanteer. Vir drie jaar lewe ek ongebonde in die wildernis. (…) Wanneer ek nie op safari is nie, sien ek om na die welsyn van woestynolifante, swartrenosters en woestynleeus."
Hieruit blyk Bakkes se onopgesmukte, boeiende vertelwyse wat sy Stoffel-stories so gewild gemaak het. ‘n Ander rede vir sy gewildheid blyk ook hieruit: Stoffel se stories gaan oor "’n ou Afrika" waarvan baie mense droom – daardie ongerepte Afrika van jagtogte en avonture waarin wilde diere en afgeleë landskappe vir ‘n opwindende en gevaarlike lewenswyse sorg.
Juis hierdie droom spoor baie mense aan om viertrekvoertuie te koop, om in die wildtuin te gaan vakansie hou of om ten minste na Nat Geo Wild-programme te kyk.
Die verlange na ‘n ongerepte stuk wildernis is ‘n romantiese, selfs nostalgiese droom van ‘n ongeskonde, eerlike bestaan ná aan die natuur, sonder die valsheid wat dikwels met die moderne ekonomie en industrie verbind word.
Die klassieke voorloper van romans wat hierdie droom uitdruk, is Jack London se The Call of the Wild (1903). In dié bekende roman word Buck, ‘n kruis tussen ‘n St Bernard en ‘n skaaphond, in rustige gemak op ‘n plasie in Kalifornië groot. Hy word egter ontvoer en as ‘n sleehond in Alaska ingespan. Onderworpe aan wrede eienaars en gevaarlike omstandighede hoor Buck hier in Alaska die "roepstem van die wildernis". Die roepstem is meer as die wilde wolwe se gehuil – dit is ‘n roepstem in sy eie bloed wat hom aanspoor om te word wat hy eintlik bestem is om te wees. Die roepstem word so sterk dat hy by ‘n trop wolwe aansluit en hulle met sukses deur die wildernis lei.
Buck verander dus van ‘n mak hond met ‘n rustige lewe en ná baie swaarkry aan die hand van gemene eienaars en blootstelling aan die ongenaakbare woesterny van Alaska, in ‘n bloeddorstige, woeste en onafhanklike hondwolf.
Die leser ervaar hierdie verandering as iets positiefs, want jy besef dat Buck uiteindelik homself geword het. Hy word veel meer as ‘n gehoorsame werfhond. Buck word dít wat hy werklik is: ‘n sterk, heldhaftige meester van sy eie lot wat almal se respek en bewondering afdwing.
Die verband tussen Stoffel en Buck spreek vanself. Pas klaar met skool besoek Stoffel en ‘n vriend ‘n wildsplaas aan die Limpoporivier waar hulle een nag skielik ‘n trop olifante in die rivierloop sien en hy besef: "Vir my jong gemoed is dit van ontsaglike betekenis. Hierdie is meer as ‘n uitnodiging – dis ‘n bevel. ‘n Oproepinstruksie. Die wildernis het my geroep."
Soos die leser van The Call of the Wild met Buck se aflê van die mak lewe ten gunste van die wildernis identifiseer, kry ‘n mens ook groot respek vir Stoffel wat, ten spyte van baie terugslae (hy presteer nie akademies of op sportgebied nie en verbrou sy kanse as wildbewaarder in die wildtuin), aan die roepstem van die wildernis getrou bly.
Uiteindelik is Bakkes se passie vir die natuur en die bewaring daarvan inspirerend. Maar voordat jy jou bakkiesleutels gryp en jou kollegas vergeefs in die vergaderkamer laat wag, moet jy tóg ook ‘n slag mooi krities nadink oor wat presies jou roep: nostalgie na ‘n ongerepte Afrika, weg van die kompleksiteit van jou stedelike bestaan, of ‘n roepstem na harde werk om ‘n balans tussen industrie en natuur te vind?