Willie Burger kyk hierdie week na twee vroue se uiteenlopende reise
Willie Burger
Wie is ek? Hierdie vraag word deur twee vroue uit radikaal uiteenlopende omstandighede gevra. Fatima se Ek’s g’n Slams. ’n Moslemvrou vertel (Lapa) en Zarine Roodt se Enkelreis (hemel & see boeke) verskil radikaal van mekaar, omdat die agtergronde van die twee vroue hemelsbreed verskil. Albei vroue soek na ’n antwoord op die sentrale vraag oor wie hulle is. Zarine Roodt ondersoek die vraag as ’n bevoorregte individu, as iemand wat byna onbewus van haar eie kulturele omstandighede, die vryheid en luukse het om reise te onderneem (waarin sy deur gesin en familie en vriende ondersteun word). Fatima wil dieselfde vraag beantwoord, maar word in haar soektog geheel en al deur haar gesin, haar gemeenskap, haar kultuur en haar godsdiens bepaal.
Sy het nie die luukse om op reis te gaan en van “buite” na haarself te kyk nie. Vir nie een van die twee is daar maklike antwoorde nie. In albei se lewe speel ’n soort spirituele ervaring ’n sentrale rol en albei vind baat by die neerskryf van hul ervarings. Roodt vertel hoedat sy as suksesvolle sakevrou, as iemand oor wie daar in saketydskrifte geskryf is, en wat boonop ’n ma en gelukkig getroude vrou is, besef het dat sy nodig het om haarself te vind, régtig te vind. Enkelreis vertel die verhaal van hoe sy, soos so baie van ons, in haar middeljare skielik besef dat sy, ten spyte van sukses, nie regtig meer weet wie sy eintlik is en wat sy wil wees nie.
Vir haar word die soektog, soos die titel aandui, ’n hoogs persoonlike reis – in die spoor van Jung se idee van ’n individuasieproses. Baie lesers wat Eat, Pray, Love (2006) deur Elizabeth Gilbert gelees het (of die fliek met Julia Roberts in die hoofrol gesien het) sal iets hiervan in Roodt se boek herken. Gilbert vertel in haar boek hoe sy na drie lande gereis het om eers kos (liggaamlike genieting) in Italië te ontdek en daarna geloof in Indië te ondersoek voordat sy in Indonesië verlief raak en uiteindelik, na al hierdie ervarings, ná haar egskeiding, genesing vind. Roodt se memoire volg ’n soortgelyke patroon: Sy vertrek eers na Engeland, waar sy verskeie labirinte besoek.
Daarna besoek sy ’n Griekse eiland voordat sy uiteindelik (weer op ’n eiland) ’n kursus in skryfterapie volg en ’n “heel” vrou word. Fatima se vertelling is ook outobiografies. Sy gaan haal die verhaal in haar kleintyd, waar sy as lid van ’n Indiërgesin in Distrik Ses grootword. Haar ouers is Moslems en sy en haar suster en vier broers word volgens die streng kulturele gebruike van hul ouers grootgemaak. Hulle kan nooit deel van die Moslems rondom hulle wees wat nié Indiërs is nie en natuurlik ook nie van die Christene tussen wie hulle woon nie. Boonop word hulle uiteraard deur die apartheidswetgewing op talle ander terreine verder uitgesluit. Fatima se ouers hou streng by die kulturele gebruike van hul gemeenskap in Indië. Vroue ken in hierdie kultuur geen vryheid nie. ’n Dogter is haar vader se besitting totdat sy die dag trou – met iemand wat deur haar pa uitgesoek of goedgekeur word.
Hierna trek sy by haar skoonfamilie in en moet vir die skoonouers sorg. Haar man bly altyd veel nader aan sy ouers as aan sy vrou. Fatima se suster Aisha word deur hul pa aan ’n welgestelde man gegee wat haar na die Midde-Ooste saamneem. Sy sê vir Fatima: “Sien jy hoe Mama geword het? Wil jy weet hoekom sy so lyk, paranoïes, met vreesbevange en verwilderde oë? Moet ek dit vir jou uitspel? Sy is een van miljoene vroue wat ’n stadige dood sterf, want hulle kan nie na hul ouers teruggaan nie. Ongeletterd, verward en sonder toevlug iewers. Om te weet jy is ’n besitting in plaas van ’n mens vir die res van jou lewe, berokken skade en los groot litttekens aan jou siel. Hulle skuil agter hul kultuur.”
Die boek gee, in Afrikaans, ’n merkwaardige blik van binne op Indiërs se gebruike, op die houvas wat familielede op mekaar het, op die baie reëls wat nagekom moet word en die prys wat mense (veral vroue) daarvoor moet betaal. Maar uiteindelik is dit nie slegs ’n verhaal van iemand wat in ’n onderdrukkende kultuur grootword nie, dit is ’n verhaal waarmee vroue uit alle kulture kan identifiseer. Dit is ook ’n verhaal wat ’n interessante blik bied op die prys wat ’n vrou moet betaal om in opstand te kom, en dit is ’n verhaal wat ook ondersoek wat vryheid regtig beteken. Hierdie vryheid is nie sonder meer te vind – soos te maklik deur iemand van buite ’n bepaalde kultuur of godsdiens gedink kan word – deur sommer net daardie godsdiens of kultuur vaarwel toe te roep nie. Uiteindelik is dit duidelik dat selfkennis nie sonder moeite verwerf word nie; dat dit ’n proses is waarmee ’n mens voortdurend besig bly.