Willie Burger kyk na die betekenis van nostalgie
Willie Burger
Een van die gewildste rubriekskrywers in ons tyd is ongetwyfeld Dana Snyman. Daar is min rubriekskrywers in Afrikaans wat dit kan regkry om lesers só emosioneel te betrek as Snyman. Hy slaag telkens daarin om (veral dalk ’n sekere generasie Afrikaanse) lesers deur sy besonder sterk sintuiglike beskrywings van vervloë dae emosioneel te roer.
Deur die noem van enkele handelsname (’n Valiant, ’n Datsun-bakkie, ’n Tempestradio) of ’n reuk (politoer, vars brood, pannekoek), of klanke (Jim Reeves, Robin Alexander se deurnagradioprogram), of deur die verwysing na volkstradisies (huisgodsdiens, Kersdienste, basaars), of deur die noem van ’n kenmerkende periodestyl (haarstyl, kleredrag, ducktails), slaag hy telkens daarin om ’n vergange era nie bloot op te roep nie, maar om die leser as ‘t ware in ’n ander era te plaas, sodat die leser dit nóú kan ruik, hoor en proe. Hierdie herinneringe aan ’n vorige era, ’n ander tydperk, word in skerp kontras teenoor die hede gestel.
Teenoor die herinneringsknoppies wat Snyman so bedrewe kan druk om ’n bekende verlede by die leser op te roep – saam met die bekendheid ’n gevoel van vreedsaamheid, heelheid, geborgenheid, eenvoud en verstaanbaarheid – word die hede as ’n tyd wat deurmekaar is, ’n tydperk van anargie en ingewikkeldheid, van konflik en konfrontasie ervaar. In Snyman se kortverhale soos “Anderkant die scrap” en “’n Nuwe waarheid uit die ou-ou woorde”, word byvoorbeeld gewys op die NG Kerk wat telkens van mening verander en nie meer leiding bied nie. Mense in leiersposisies kan nie vertrou word nie en daar is voortdurende konflik en agterdog tussen mense van verskillende rasse en klasse en geslagte. Die hede word in altwee hierdie verhale as ingewikkeld en onseker ervaar. Mense weet nie hoe hulle behoort op te tree nie – nie teenoor hul eie verlede, hul ouers en hul eie mense se tradisies nie en ook nie teenoor ander mense met ander tradisies nie.
Deesdae, so blyk uit hierdie verhale, is identiteit ingewikkeld weens skuldgevoelens en talle onsekerhede en ontmaskerde leuens oor godsdiens, tradisionele gebruike en politieke assosiasies. Hierteenoor word ’n vervloë era opgetower toe al hierdie goed nog eenvoudig was; toe alles verstaanbaar was. Hierdie teenwoordigstelling van ’n vergange era van eenvoud en die kontrastering daarvan met ’n ingewikkelde en onaangename hede, word nostalgie genoem. In Grieks dui die woord nostalgie op ’n pynlike verlange na die huis (homesickness). Die groot probleem van nostalgie is dat dit nie soseer ’n verlange na ’n huis, na ’n plek, is nie. Baie mense ondervind dat ’n terugkeer na die plek van hul geboorte, hul huis, meestal teleurstellend is, omdat die plek nie meer dieselfde is as wat hulle dit onthou het nie. Eers dan besef jy dat jy eintlik nie na ’n plek verlang het nie, maar na ’n tyd.
Daarom is die “huis” waarna jy verlang, altyd onbereikbaar. Tydreise bestaan slegs in fiksie. Nostalgie is eintlik ’n reaksie op die hede, eerder as wat dit bloot die onthou van die verlede is. Die verlede word immers op ’n baie spesifieke manier onthou – baie onaangename aspekte word vergeet sodat ’n ideale verlede onthou word. Nostalgie het ’n kragtige werking – veral in die hande van ’n meesterverteller soos Snyman – juis omdat dit die leser emosioneel by die verlore (ideale) verlede betrokke kry en terselfdertyd ’n emosionele weerstand teen die deurmekaar hede wek.
Hierdie kragtige wapen, nostalgie, kan deur enigeen ingespan word, ongeag politieke oortuiging. Onder sommige oudstrugglelede sien ’n mens die verlange na die goeie ou dae van die stryd teen apartheid toe almal so lekker saamgewerk het. Talle witmense verlang dikwels na die dae toe hulle met oop deure kon slaap. Hierdie herinnerings is natuurlik telkens selektief en sê eintlik meer oor ’n onvergenoegdheid met huidige tweespalt en onveiligheid.
Die gewildheid van reistydskrifte, van 4×4-safari’s en van groeiende wildsplase dui ook op ’n soort nostalgie. Kyk gerus hoe die advertensies en artikels lesers laat verlang na ’n era toe Afrika nog ’n wilde, leë en eenvoudige plek was – onbegrens en vol wilde diere wat vrylik getrek het. Natuurlik berus hierdie “ideale” voormalige era op die “vergeet” van die mense in Afrika (ook van al die mense wat van plase af na dorpe geskuif word om plek te maak vir lodges). Nostalgie kan gevaarlik wees, juis omdat dit so ’n kragtige emosionele appèl maak, en ’n mens behoort krities na ’n Bok van Blerk-land-van-melk-en-heuning te kyk wat aanloklik lyk vir mense wie se huidige situasie as ’n posisie van onreg en miskenning aan hulle voorgehou word.