Die talentvolle sanger André Venter is veral bekend vir sy musiek met die groep Romanz. Hy deel sy resep vir ’n braaivleismielietert
“Ek is mal oor vleis en sal elke dag ’n steak wil eet,” vertel hy. “In die kombuis vaar ek nie aldag te goed nie, maar hierdie mielietert is so maklik, selfs ek kan dit maak en dis heerlik daarby. My kookkortpad is dat ’n warm vuur die beste werk! Gelukkig kan my vrou lekker kosmaak, want van wegneemetes sou ek beslis nie kon leef nie.“’n Mens se ma se kos bly ook mos maar altyd bo-aan die lysie en my ma se vrugteslaai met vla as nagereg sal ek altyd onthou.”
Bestanddele
6 tot 8 porsies
840 g (2 x 420 g-blikke) geroomde mielies
4 ekstragroot eiers
60 ml (4 e) botter, gesmelt
60 ml (4 e) suiker
60 ml (4 e) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
LEES OOK: Jan Braai se braaibroodjie
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Meng al die bestanddele saam.
- Giet mengsel in ronde tertbord of blikbord van 24 cm, wat met kossproei gespuit is.
- Bak vir 1 uur of tot ligbruin.
- Sit warm of koud voor.