Kom bederf jouself met ‘n kleurvolle kersfees nagereg!
8 Porsies
Bestanddele
160 g (80g x 2) framboosjellie poeier
500 ml (2 k) kookwater
250 ml (1 k) kouewater
5 mini rolkoekies (Woolworths)
250 g (1 bakkie) geroomde maaskaas
125 ml (½ k) kondensmelk
20 tot 30 ml suurlemoensap
500 g (1 groot pak) aarbeie, ontstingel en gehalveer
250 ml (1 k) bloubessies of enige ander vars bessies
24 gekoopte klein meringues
Tuisgemaakte vla
750 ml (3 k) warm volroommelk
187 ml (¾ k) suiker
90 ml (6 e) vlapoeier
90 ml (6 e) water
knypie sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Afronding
handvol vars frambose
handvol pistasieneute, grof gekap
mintblaartjies (opsioneel)
Die tuisgemaakte vla gaan ook baie goed saam met Malvapoeding
Metode
- Maak jelliepoeier met kookwater aan en roer tot opgelos is.
- Voeg kouewater by, meng en giet in triffelbak. Plaas in yskas vir vier ure tot gestol.
- Sny mini koekrolletjies in vyf skyfies elk. Pak dit regop langs kante van trifflebak.
- Meng roomkaas, kondensmelk en suurlemoensap tot goed gemeng.
- Skep roomkaasmengsel oor koekrolletjies wat langs kante van trifflebak gepak is.
- Plaas in yskas om te stol.
- Skep aarbeie en bloubessies bo-op gevolg deur meringues.
- Tuisgemaakte vla Verhit melk en suiker tot kookpunt terwyl af en toe geroer word.
- Meng vlapoeier met water tot gladde pasta en voeg by kokende melkmengsel.
- Roer sodat daar nie klonte in vla vorm nie.
- Kook tot vla verdik. Verwyder van hitte. Roer sout by.
- Laat vla bietjie afkoel en roer dan vanieljegeursel by.
- Laat vla heeltemal afkoel en skep dit bo-oor aarbeie.
- Afronding Sprinkel frambose, pisatsieneute en mint (opsioneel) bo-oor indien verkies.
Wenk: Jy kan gekoopte boksvla gebruik , maar ek verkies die dik tuisgemaakte vla.
Foto’s Elmarie Knapton. Foto’s geneem by Green Leaves, Hartbeespoort 012 207 1987/ 012 207 1521 of [email protected]