Bestanddele
VIR DIE LEPELTJIES
500 g brooddeeg, uitgerys
VIR DIE VINKEL
1 bos vinkel
15 ml (1 e) botter
15 ml (1 e) olyfolie
15 ml (1 e) bruinsuiker
VIR DIE PUREE
1 blik Italiaanse wit boontjies (cannellinibone)
sap van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) olyfolie
klein hand vol vars Italiaanse pietersielie
sout en swartpeper
VIR OPDIENING
skil van 1 nartjie wat in dun, lang repies gesny is
klein Italiaanse pietersielietakkies
ontpitte swart olywe
Metode
Stel die oond op 200 °C.
1 Vir die lepeltjies Knyp telkens ’n stuk brooddeeg so groot soos jou vuis af om te gebruik. Sprinkel meel op jou werkoppervlak. Druk die deeg plat en sprinkel meel oor. Rol dit deur ’n pastamaker se wydste verstelling. Sprinkel nog meel oor en rol dan om fettuccini te maak. Jy het nou repies deeg wat jy 15 cm lank kan sny. Jy kan die deeg ook met ’n koekroller uitrol en dan met die hand in repies sny.
2 Gebruik een repie op ’n slag en maak eers ’n ronding vir die teelepelgedeelte (daar is nie ’n onderkant nie) voor jy die twee punte deeg vleg om die steel te vorm. Druk die twee punte stewig vas. Plaas dit op ’n gesmeerde bakplaat.
3 Bak lepeltjies vir 10 minute. Maak ongeveer drie lepeltjies per persoon en ’n paar ekstra vir ’n noodgeval.
4 Vir die vinkel Begin deur die bolgedeelte van die vinkel in blokkies van ongeveer 2 cm te sny. Sny ook twee van die dun stingels in klein stukkies. Die klein stukkies vinkel sal eerste begin karamelliseer en aan die groter stukke klou. Verhit ’n braaipan met die olie en botter en braai die vinkel oor ’n lae hitte vir ongeveer 5 minute. Voeg die suiker by, verhoog die hitte en braai tot die vinkel begin karamelliseer. Geur met sout en swartpeper.
5 Vir die puree Gooi die witboontjies in ’n vergiettes en spoel onder lopende kraanwater af. Verwerk dit saam met die suurlemoensap, olyfolie, pietersielie, sout en peper in ’n voedselverwerker tot glad. Voeg nog geurmiddels na smaak by en hou eenkant.
6 Vir opdiening Plaas op elke broodlepeltjie ’n stukkie vinkel soos ’n bakkie, spuit of skep puree op, gevolg deur ’n olyf, ’n klein stukkie Italiaanse pietersielie en nartjieskil.