Wanneer my ma se kant van die familie bymekaarkom, maak my ouma altyd die lekkerste geroosterde aartappels. Dis altyd ‘n geveg om die laaste aartappel te kry. Ek is amptelik aangestel as die niggie wat moes leer hoe om my ouma se goudbruin geroosterde aartappels na te maak. Met trots kan ek sê dat ek sukses behaal het. Wat die familie egter gaan sê as hulle uitvind dat ek hul gesogte goudbruinaartappels in ‘n slaai met roket en aspersies gebruik, wil ek liewer nie weet nie. Onterwing is dalk my voorland.
Bestanddele
2 kg aartappels
250 g vars jong aspersies
100 ml sonneblomolie
10 ml (2 t) sout
1 vars roosmaryntakkie
30 ml (2 e) suurlemoensap
30 ml (2 e) olyfolie
15 ml (1 e) witwynasyn
5 ml (1 t) heelkorrelmosterd
2,5 ml (½ t) suiker
sout en varsgemaalde swartpeper
2 pakkies (120 g) gemengde waterkers, roket en mizuna
Metode
- Sny die aartappels, met die skil aan, in blokkies van 1,5 cm. Gooi in ‘n kastrol met water en bring tot kookpunt. Kook vir 10 minute, dreineer en gooi in ‘n vergiettes.
- Stel die oond op 200 °C. Gooi die olie in ‘n groot oondpan en voeg die aartappelblokkies, sout en roosmaryn by. Rooster vir ongeveer 45 minute of tot goudbruin. Skep met ‘n gaatjieslepel uit die olie en hou eenkant.
- Bring water met ‘n knippie sout in ‘n klein kastrol tot kookpunt. Breek die onderpunte van die aspersies af en kook dit vir 3 minute. Dreineer en spoel onder lopende koue water af. Hou eenkant.
- Meng die suurlemoensap, olyfolie, asyn, mosterd en suiker saam en meng dit met die aspersies. Voeg ook sout en varsgemaalde swartpeper na smaak by.
- Pak die slaaiblare in ‘n opdienbord uit. Skep die aspersies bo-op, maar hou die sous terug. Voeg die warm aartappels by die oorblywende sous en skep dit bo-op die slaai. Bedien dadelik.