Dié hoendervlerkies se marinade word met mosterd en asyn gemaak soos die marinades van Carolina in Amerika. Dit is baie geurig en is heerlik saam met die
aartappelslaai met gepekelde uiskyfies.
Bestanddele
HOENDERVLERKIES
15 ml (1 e) olie
60 ml (¼ k) geel mosterdsous
5 ml (1 t) mosterdpoeier
30 ml (2 e) appelasyn
15 ml (1 e) bruinsuiker
5 ml (1 t) Worcestersous
2,5 ml (½ t) sout
swartpeper, na smaak
8 hoendervlerkies
Metode
1 Meng al die bestanddele, behalwe die hoendervlerkies, saam in ‘n mengbak. Gooi die mengsel oor die hoendervlerkies en laat dit ongeveer vier uur in die yskas marineer.
2 Haal die hoender ‘n halfuur voor jy dit wil braai uit die yskas.
3 Braai tot goudbruin en gaar.
Bestanddele
AARTAPPELSLAAI
1,2 kg aartappels
2 eiers
piekeluie, sien resep onder
125 ml (½ k) mayonnaise
30 ml (2 e) witwynasyn
1 ml mosterdpoeier
2,5 ml (½ t) heelkorrelmosterd
15 ml (1 e) bruinsuiker
sout na smaak
Metode
1 Skil en sny die aartappels in klein blokkies. Kook tot sag.
2 Kook 2 eiers in water met ‘n skeut asyn in vir ongeveer 8 minute of tot dit hardgekook is. Gooi koue water oor en dop af as dit afgekoel is. Sny dan in blokkies en voeg by die aartappels.
3 Meng al die ander bestanddele saam en gooi oor die aartappels en eiers. Voeg ook piekeluie na smaak by.
Bestanddele
PIEKELUIE
125 ml (½ k) appelasyn
60 ml (¼ k) bruinsuiker
0,5 ml (½ ml) mosterdpoeier
2,5 ml (½ t) sout
1 ui, in skyfies gesny
Metode
1 Verhit die asyn, bruinsuiker, mosterd en sout in ‘n klein kastrol en bring net tot kookpunt.
2 Plaas die uiskyfies in ‘n glashouer met ‘n deksel en gooi die warm asynmengsel daaroor. Laat dit 10 minute staan en roer twee keer.
3 Die uie is nou al reg om te eet, maar jy kan dit nog ‘n bietjie laat afkoel en dan vir ‘n week in die yskas hou.