Die James Sedgwick Distilleerdery buite Wellington het op 3 September sy splinternuwe proelokaal vir die publiek geopen.
Maryke Roberts
Dié langverwagte geleentheid is met groot ywer deur ‘n groep joernaliste en whiskyliefhebbers meegemaak. Die distilleerdery is die enigste kommersiële distilleerdery op die Afrika-kontinent en tuiste van Three Ships-whiskies en Bain’s Cape Mountain Whisky, wat albei internasionaal bekroon is.
Die distilleerdery, reeds gewoond aan vele lofbetuigings en toekennings, is as die Best Brand Innovator aangewys in Whisky Magazine se 2011- Icons of Whisky, asook as die Best International Whisky Distillery op die New York International Spirits Competition van 2015.
By die verouderingskelder staan die vate regop en lê nie plat soos by wyn of brandewyn nie – bloot net om plek te bespaar en word ses lae hoog gepak.
Jaarliks verdamp daar 4 persent per vat, wat die engeltjies se deel genoem word. Die vate mag nie opgevul word nie, want aksyns word betaal op die hoeveelheid in die vat waarvan die verdamping in berekening gebring word.
In die proelokaal kan elke gas sy eie botteltjie whisky versny, met behulp van ‘n tablet wat kommentaar van Andy insluit.
Die toer – wat ‘n verwelkomingsdrankie, keldertoer en kos en whisky pasmaat insluit – kos R350 per persoon. Dit word aanvanklik net Vrydae en Saterdae om 10:00 en 12:00 onderneem, met 10 mense per groep, maar sal later moontlik uitgebrei word. Simon Dicks, handelsmerk-tuiste bestuurder vertel dat die toer ook in Duits en Xhosa aangebied kan word.
Terug in die proekamer sal die gids ‘n proe van drie whiskies gepaar met vyf disse aanbied wat die gaste in staat sal stel om in hul eie tyd te verken hoe die geure van sekere disse die aromas van elke whisky komplementeer.
Alle toere en proeë is vir mense oor 18 jaar en voorafbespreking is noodsaaklik. Dit kan by www.webtickets.co.za gedoen word. Geen bespreking kan by die distilleerdery self gedoen word nie.
Die reeks Suid-Afrikaanse whiskies sal aan die einde van die toer en proe gekoop kan word.
Vir meer inligting kontak die James Sedgwick-distilleerdery by 072 415 3440 of [email protected], of besoek www.bains.co.za en www.threeshipswhisky.co.za.
Die James Sedgwick Distilleerdery buite Wellington.
Masibulele Soko en Limpho Ranamane verwelkom ons by die deur met ‘n whisky-mengeldrankie.
Die pragtige koper stookketels waar die whisky gestook word.
Die verouderingskelder waar die vate ses rye hoog gestapel word.
Gaste kan hul eie klein botteltjie whisky meng met behulp van ‘n tablet en kommentaar van Andy Watts, meesterdistilleerder.
Terug in die proekamer kan jy drie whiskies proe wat saam met vyf disse gepasmaat is, wat jou in staat sal stel om op jou eie tyd te verken hoe die geure van sekere disse die aromas van elke whisky komplementeer.
SOURCES
Clifford Roberts