Verslankers volg meermale ’ n dieet wat die huidige gier is en besin nie altyd of dit vir hulle sal werk nie. Ons neem ’n klompie bekende diëte onder die loep.
MARIE LINDEQUE-REINECKE
Die dieet waarop jy besluit, hang gewoonlik af van hoe vinnig jy resultate wil sien en dan ’n dieet kies bloot op grond van die aansprake wat ’n dieet maak. Of jy volg ’n dieet “omdat almal dit volg”. Die Atkinsdieet was byvoorbeeld in die vroeë jare 2000 op almal se lippe, hoofsaaklik omdat dit so gewild onder Hollywood se bekendes was. Sulke ekstreme diëte kan op die duur gevaarlik wees. Hier is ’n kykie na ’n paar alombekende diëte. Ons kyk hoe hulle werk, of hulle werk en of hulle hoegenaamd veilig en geskik is.
DIE KOOLSOPDIEET
Mense wat tot vyf kilogram in ’n week wil verloor, volg graag dié dieet. Dis maklik en goedkoop. Jy eet net sewe dae lank koolsop.
Wat jy mag eet?
Soveel koolsop as wat jy wil.
Wat mag jy nie eet nie?
Alles benewens koolsop.
Wat is die risiko’s?
Die dieet is nie gebalanseerd nie. Dit bevat geen proteïen en koolhidrate nie. Jy kan soveel koolsop eet as wat jy wil, maar jy sal nietemin baie honger raak. As jy die dieet langer as ’n week volg, sal jou liggaam ’n tekort aan vitamiene en minerale hê, wat noodsaaklik vir liggaamfunksies is.
Hoe werk die dieet?
Jy verloor gewig omdat die koolsop min vet en kilojoules bevat. Die gewig is hoofsaaklik in die vorm van water en sal terugkeer sodra jy na jou gewone kos en eetgewoontes terugkeer.
Werk die dieet?
Die skaal sê só, maar die dieet druis teen die riglyne vir gesonde en doeltreffende gewigsverlies in en dui op ’n verkeerde houding ten opsigte van dieet. Jy sal nooit op hierdie dieet blywend maer word nie. Die GI-dieet Hierdie bekende en gewilde dieet sny nie een van die noodsaaklike voedselgroepe uit nie en bevat net die beste vette, proteïene en koolhidrate. Dis veilig en doeltreffend en slaan knaende hongerdrange hok. Selfs die invloedryke Amerikaanse nuustydskrif Time het in 2003 dié dieet aanbeveel.
DIE GI-DIEET
Wat mag jy eet?
Uiteraard net kos met ’n lae glukemiese indeks (GI). Die tempo waarteen koolhidrate in die bloedstroom opgeneem word, word die glukemiese indeks genoem. Dit meet hoe vinnig kosse die bloedsuikervlakke laat styg. Alle kosse word met suiwer glukose vergelyk wat ’n glukemiese indeks van 100 het. Op dié dieet is die meeste vrugte geskik, behalwe piesangs en gedroogde vrugte. Amper alle groente het ’n lae GI behalwe aartappels, wortels, mielies en beet.
Wat mag jy nie eet nie?
Kosse met ’n hoë GI, dit wil sê kos met ’n hoë suiker- en styselinhoud.
Wat is die voordele?
Die GI-dieet stabiliseer jou bloedsuikervlakke en beheer die oortollige afskeiding van insulien, die liggaam se vetbergingshormoon. Jy raak op dié dieet dus nie maklik honger en prikkelbaar nie. Voorts verbeter en stabiliseer die dieet jou energievlakke, want kosse met ’n lae GI stel deur die dag ’n konstante stroom energie vry.
Wat is die risiko’s?
Die dieet hou geen risiko’s in nie. Die verslanker moet net goed onderlê wees in die GI-waarde van elke soort kos wat hy of sy eet. Skaf ’n GI-tabel aan en plak dit teen die yskas op.
Hoe werk die dieet?
Die GI-dieet werk deurdat jy kos met ’n hoë suiker- en styselinhoud vermy wat jou pankreas prikkel om insulien vry te stel. Die vrystelling van insulien lei tot ’n styging van jou bloedglukosevlakke. Wanneer jy meer kilojoules inneem as wat jou liggaam vir energie benodig, berg insulien dit in jou vetselle en kort voor lank kan almal sien jy eet te veel.
Werk die dieet?
Die dieet werk goed en word aanbeveel vir mense wat erg oorgewig is en ’n langtermyndieet moet volg om slegte eetgewoontes af te leer en vir die res van hul lewe ’n nuwe, gesonde eetplan te vestig. Dit werk ook goed vir mense wat gewig verloor het en hul gewig nou wil handhaaf.
DIE LAEKOOLHIDRAATDIEET
Wat mag jy eet?
Rooivleis, eiers, olyfolie, kaas, hoender, ensovoorts.
Wat mag jy nie eet nie?
Vrugte, pasta, rys, brood, suikerkos en -drankies en styselkos.
Wat is die voordele?
Jy mag vleis, kaas en vette eet – alles wat die meeste diëte verbied.
Wat is die risiko’s?
Hierdie dieet stel jou aan die gevaar van hoë bloeddruk en ’n tekort aan vitamiene bloot omdat die dieet so min vrugte en groente toelaat.
Hoe werk die dieet?
Omdat die dieet komplekse suikers en stysel uitskakel, word die verfynde kosse wat jy inneem dadelik deur die liggaam verwerk en gebruik.
Werk die dieet?
Dit werk, maar hou risiko’s in weens die streng kosbeperking. Dis nie ’n gesonde dieet om oor ’n lang tydperk te volg nie.
MAALVERVANGING
Die maalvervangingsplan is daarop bereken om jou inname van kilojoules te beheer deur twee maaltye per dag, gewoonlik ontbyt en middagete, met skommeldrankies, dieetstafies of sop te vervang.
Wat mag jy eet?
’n Skommeldrankie vir ontbyt en middag ete, ’n gewone aandete en twee of drie peuselhappies per dag. Die meeste maalvervangingsdiëte beveel aan dat jy baie water of laekilojouledrankies moet drink. Volgens die dieetriglyne, mag jou aandete ook nie meer as 2 400 kJ bevat nie.
Wat mag jy nie eet nie?
Versnaperings met ’n hoë kilojouleinhoud, geprosesseerde kosse en lekkergoed.
Wat is die voordele?
Jy hoef elke dag vir twee maaltye nie kilojoules te tel nie. Voorts bevat ’n maalvervangingsdrankie gewoonlik die voedingstowwe, kilojoules, proteïen en minerale wat ’n gesonde dieet behoort te hê.
Wat is die risiko’s?
Dié soort dieet help bitter min om die gewoonte en waarde van ’n gesonde, langdurige eetplan te vestig en sonder so ’n plan is die kanse goed dat die verslanker nie die gewigsverlies sal handhaaf nie.
Hoe werk die dieet?
Die maalvervangingsmanier van gewig verloor, is daarop gemik om die kilojoule-inname versigtig te beheer sodat die liggaam daagliks minder kilojoules inkry as wat dit nodig het en dit vir energie dus na sy gestoorde vetbronne moet wend.
Werk die dieet?
Enige laekilojouledieet sal die gewig stadig maar seker laat afkom. Dit hang egter van hoeveel kilojoules jy daagliks inneem en jou oefenprogram af. Dis baie belangrik om nie van jou oefenprogam te vergeet nie. ’N
VEGETARIESE DIEET
Die uitskakeling van alle vleis en diereprodukte uit jou eetplan hou talle gesondheidsvoordele in. Jy moet net seker maak dat jy die vleis en vis met proteïënryke kos soos sojabone vervang sodat jy steeds die noodsaaklike voedingstowwe wat in vleis en vis is, kan inneem.
Wat jy mag eet?
Brood, rys, pasta, tofoe, vrugte en groente.
Wat mag jy nie eet nie?
Geen diere- en suiwelprodukte nie.
Wat is die voordele?
Jou kos bevat minder onversadigde vet en jy kry meer vitamiene in.
Wat is die risiko’s?
Die grootste risiko is dat die verslanker nie genoeg proteïen sal inkry nie. Die dieet moet versigtig beplan word om genoeg proteïen te verskaf en gebalanseerd te wees.
Hoe werk die dieet?
Deur vleis en alle diereprodukte uit te skakel, neem jy minder vette in. Vet is vol kilojoules en ’n vermindering daarvan beteken minder kilojoules.
Werk die dieet?
’n Vegetariese dieet kan jou help om gewig te verloor en gesonder te wees. Jy kry meer heilsame vitamiene en vesel as ’n vleiseter in. ’n Dieet met ’n lae vetinhoud en baie vesel sal ongetwyfeld gewigsverlies bevorder.
DIE LAEVET-DIEET
Vet bevat meer kilojoules as enigiets anders wat oor jou lippe gaan. ’n Kortkop agter vet is alkohol. Een van die eenvoudigste maniere om gewig te verloor, is om vet en alkohol in jou dieet te verminder. Net verminder, want ons het steeds heilsame vet vir gesonde selle en hormoonproduksie in ons liggaam nodig. ’n Laevetdieet verminder onversadigde vette en cholesterol en snoei jou kilojoule-inname terug.
Wat mag jy eet?
Vrugte, groente en olierige vis. Olierige vis se vetinhoud is hoog, maar een porsie per week word deur kenners aanbeveel om hartaanvalle te voorkom.
Wat mag jy nie eet nie?
Geprosesseerde kosse, olierige wegneemetes, vetterige vleis en volvetsuiwelprodukte. Pasop vir dieetkos. Dieetversnaperings met ’n laevetinhoud bevat meermale baie suiker om dit smaak te gee.
Wat is die voordele?
Minder vet beteken minder kilojoules en minder kilojoules beteken gewigsverlies.
Wat is die risiko’s?
Dis gevaarlik om te veel vet uit te sny. ’n Gesonde dieet benodig goeie vet.
Hoe werk die dieet?
Omdat vet meer kilojoules as feitlik elke ander kossoort bevat, is dit logies dat ’n streng ogie oor ’n dieet se vetinhoud noodsaaklik is sodat die dieet se voorgeskrewe daaglikse kilojoule-inname nie oorskry word nie.
Werk die dieet?
Kenners is dit eens dat ’n dieet met ’n lae vetinhoud en baie vesel gewigsverlies sal bevorder.