Ek weet nie van julle nie, maar begrippe soos “ouerskapstyl” en dies meer maak my senuweeagtig.
Zerelda Esterhuizen
Ek is immers Ma van die Jaar en as sulks voel ek nie altyd te goed oor my ouerskapsvaardighede (of gebrek daaraan) nie.
‘n Mens kry mos nie ‘n manual vir mawees nie. Jy vertrou jou instink en doen wat jy dink is reg. Soms is jy verkeerd. Soms is jy reg.
Tog is dit goed om nou en dan objektief na jou manier van doen te kyk en reg te stel wat reggemaak moet word of jouself ‘n kloppie op die skouer te gee as jy dinge reg doen.
Ek het myself ‘n denkbeeldige kloppie op die skouer gegee hierdie week toe ek die perfekte klei vir my oudste gemaak het (‘n skoolopdrag op ‘n Donderdagaand).
En toe ek een middag met ‘n stokkie deur die grond gewoel het op soek na ‘n gogga (in die winter) vir my jongste se goggadag.
Ek kon wel in daai uur nie ‘n enkele lewende gogga opgespoor het nie terwyl Pa van die Jaar in drie sekondes ‘n erdwurm gekry het, maar ek het darem probeer. Ek het iets reg gedoen.
Die volgende aand het ek weer ellendig gevoel omdat ek my oudste verskree het toe sy oor ‘n knoop van alle dinge gekerm het. Al weer ‘n verkeerde merkie.
Ek vergeet al weer oor wat ek eintlik moes skryf: Ons kyk hierdie week na ouerskapstyle.
Toets ‘n bietjie jouself hieronder en kyk of jy saamstem. Loer na die ander style en kyk waar jy eintlik wil wees.
Ek het die vraelys gedoen en ek val genadiglik in die demokratiese boksie.
In alle eerlikheid, moet ek bieg dat daar dae is wat ek meer in die gesaghebbende of outoritêre boksie val, maar ek hoop tog my telgies voel dat Ma vir hulle grense stel, maar vir hulle keuses bied. Hulle laat veilig voel en bowenal geliefd laat voel.
Doen die toets saam met my. Kry ‘n papier en pen en skryf die syfers 1 tot 11 en jou keuse (a, b, c, d, e) neer:
1. Wat is ouers se rol?
a. Om seker te maak dat kinders hulle gedra en reëls gehoorsaam.
b. Om kinders te versorg en die regte reëls in te stel sodat kinders reg sal optree en die regte keuses sal maak.
c. Om kinders die regte lewensvaardighede te leer sodat hulle selfgedissiplineerde, verantwoordelike volwassenes sal word.
d. Om te sorg dat kinders ‘n gelukkige en sorgvrye kinderlewe het.
e. Om kinders die nodige vaardighede op hul eie te laat leer sodat hulle kan weet hoe om hulle te gedra.
2. Wie moet kinders se gedrag beheer?
a. Ouers moet in beheer wees en kinders moet die reëls volg.
b. Kinders moet doen wat hul meer ervare ouers sê.
c. Ouers moet hul kinders die regte gedrag en vaardighede vir selfbeheer leer.
d. Ouers moet aan hul kinders verduidelik hoekom hulle hulle moet gedra en vir hul samewerking vra.
e. Kinders kan self hul eie grense vasstel.
3. Wie het regte?
a. Die ouers het as volwassenes al die regte en kinders het ‘n paar of geen regte.
b. Ouers het meer kennis en ervaring en geniet daarom meer regte.
c. Ouers en kinders het albei die reg om met respek en waardigheid behandel te word.
d. Kinders se regte en behoeftes is belangriker as hul ouers s’n.
e. Kinders het regte solank as dit nie hul ouers verontrief nie.
4. Wie verdien respek?
a. Kinders moet hul ouers respekteer, maar ouers hoef nie hul kinders te respekteer nie.
b. Kinders moet hul ouers se respek verdien voor hulle dit kry.
c. Alle mense verdien om met respek behandel te word, ongeag van hul ouderdom of posisie.
d. Ouers moet hul kinders respekteer sodat kinders gelukkig kan wees.
e. Kinders tree nou en dan oneerbiedig op – dis nie so ‘n groot storie nie.
5. Hoe word foute hanteer?
a. Kinders moet streng gestraf word as hulle die reëls verbreek.
b. Ouers kan hul kinders help deur teleurstelling uit te spreek, kritiek te gee, en kinders te vra hoe om harder te probeer en hul foute reg te maak.
c. Kinders kan lesse uit hul foute leer en kyk hoe om hulle reg te maak of in die toekoms te voorkom.
d. Dis ‘n ouer se verantwoordelikheid om kinders se foute reg te maak of die kinders teen die negatiewe effek daarvan te beskerm.
e. Daar is sekerlik ander mense wat jy eerder vir kinders se foute kan blameer.
6. Hoe word probleme opgelos en besluite gemaak?
a. Keuses word binne grense gemaak wat die regte en behoeftes van ander te respekteer.
b. Die probleme sal op hul eie weggaan, indien nie, sal ouers dit later hanteer.
c. Ouers het die regte antwoorde en kinders moet dus hul advies volg.
d. Ouers moet kinders se aktiwiteite monitor, doelwitte vir hulle stel en belonings gee as dit bereik word.
e. Ouers moet probeer uitvind wat kinders soek en hulle gelukkig hou.
7. Hoe hanteer jy jou kind se negatiwiteit?
a. Ouers moenie probeer om kinders se negatiwiteit te verander nie, maar hulle eerder leer om dit reg uit te druk.
b. Alles sal beter verloop as kinders hul negatiwiteit vir hulself hou.
c. Kinders moenie negatiewe gevoelens uitdruk nie aangesien dit disrespek toon.
d. Kinders moet dink en voel wat hul ouers dink en voel reg is.
e. Ouers moet hul kinders beskerm of van negatiewe gevoelens red.
8. Wie besluit hoe kinders hulle moet gedra, watter doelwitte en belangstellings hulle moet hê?
a. Ouers kan hul kinders positiewe gedragsvaardighede aanleer sodat hulle gesonde doelwitte kan stel en bereik.
b. Kinders kan self uitvind hoe om hulle te gedra en watter belangstellings hulle moet hê.
c. Ouers moet hul kinders vertel wat om te doen en watter drome hulle moet najaag.
d. Ouers moet hoë standaarde vir hul kinders stel en doelwitte kies wat hulle kinders sal help om suksesvolle volwassenes te word.
e. Kinders moet toegelaat word om enige belange/doelwitte te hê.
9. Wie maak die reëls en hoe word dit gehandhaaf?
a. Kinders kan keuses binne redelike grense hê.
b. As ouers die grense instel, sal hul kinders te vasgevang voel en rebelleer.
c. Ouers moet hul kinders vertel wat om te doen en kinders moet sonder vrae dit gehoorsaam.
d. Ouers kan gestruktureerde reëls instel en hul kinders met konstruktiewe kritiek en raad bystaan.
e. As ouers hul kinders hoflik herinner om hulle te gedra, sal hulle dit wel doen.
10. Hoe kan ouers hul kinders motiveer?
a. Ouers kan hul kinders die waarde van takies leer sodat hulle selfgemotiveerd is om dit te bereik.
b. Kinders moet hulself motiveer.
c. Kinders kan dmv dreigemente en bevele gemotiveer word.
d. Kinders kan deur belonings, aanvaarding en lof gemotiveer word.
e. As ouers genoeg vir hul kinders doen, sal hul kinders gelukkig en gemotiveerd wees.
11. Hoe moet ouers hul kinders dissiplineer?
a. Ouers kan hul kinders se gedragskeuses verduidelik en hulle aanspreeklik vir hul besluite hou.
b. Kinders kan hul eie gedrag monitor.
c. Straf moet ongemaklik of ongerieflik wees om wangedrag te stop.
d. Ouers moet hul kinders sleg laat voel oor hul wangedrag en spesiale voorregte wegvat.
e. Ouers moenie hul kinders te dikwels straf nie anders gaan hul kinders hulle nie liefhê nie.
Tel op
Jy gaan vyf totale hê. Jou hoogste telling wys jou dominante ouerskapstyl:
Outoritêr: Tel 1 punt op vir elke a-antwoord op vrae 1 tot 5, en 1 punt vir elke c-antwoord op vrae 6 tot 11.
Gesaghebbend (kombinasie van outoritêr en demokraties): Tel 1 punt op vir elke b-antwoord op vrae 1 tot 5, en 1 punt vir elke d-antwoord op vrae 6 tot 11.
Demokraties: Tel 1 punt op vir elke c-antwoord op vrae 1 tot 5, en 1 punt vir elke a-antwoord op vrae 6 tot 11.
Permissief: Tel 1 punt op vir elke d-antwoord op vrae 1 tot 5, en 1 punt vir elke e-antwoord op vrae 6 tot 11.
Onbetrokke: Tel 1 punt op vir elke e- antwoord op vrae 1 tot 5, en 1 punt vir elke b-antwoord op vrae 6 tot 11.
Die style:
1. Outoritêre ouerskapstyl: Die ouers moet in beheer wees en hul kinders beheer. Hulle verwag dat kinders sonder enige verduideliking streng reëls moet volg. As kinders nie presteer of binne grense bly nie, word hulle summier gestraf. Hul gunsteling-woorde is: “Want ek sê so.” Hulle stel hoë eise aan hul kinders en doen dit gewoonlik sonder warmte. Hierdie ouerskapstyl kan meer demokraties in sekere gevalle wees, wat dan gesaghebbend genoem word.
2. Demokratiese ouerskapstyl: Daar is reëls en riglyne wat die kind moet volg, maar dié ouers sal hul kinders se gevoelens in ag neem. Hulle reageer op die kind se behoeftes en is meer vergewensgesind as die kind misluk. Die ouers se doel is om ‘n selfgeldende, sosiaal verantwoordelike, selfbeheerste en samewerkende kinders te kweek. Hulle fokus eerder op hul kinders se positiewe gedrag as die negatiewe.
3. Permissiewe ouerskapstyl: Die ouers is min gepla oor dissipline. Hulle verwag dat die kinders hulself moet beheer en maak min, indien enige, reëls. Hulle wil hê hul kinders moet vry voel en stel nie duidelike grense oor gedrag nie. Die ouer is baie buigsaam, vermy konflik en dink dat “kinders maar kinders sal wees”. Hulle wil eerder ‘n maat as ‘n “ouer” vir die kind wees.
4. Onbetrokke ouerskapstyl: Die ouer stel nog minder eise aan hul kinders en kommunikeer omtrent glad nie met hul kinders nie. Hulle voorsien slegs in die kind se basiese behoeftes. Die ouerskapstyl kan aan verwaarlosing van die kind se behoeftes grens.
Vraelys deur Jody Pawel en Pam Dillon. The Parent’s Toolshop. Ambris Publishing.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.