Jy raas, jy pleit, jy gesels, jy vertroetel. Ons praat met ons troeteldiere en volgens ‘n nuwe studie lyk dit asof jou hond jou eintlik heel goed verstaan
Zerelda Esterhuizen
‘n Onlangse studie in Hongarye toon dat honde regtig dit wat hul eienaars vir hulle sê, begryp. Die studie is deur navorsers aan die Eötvös Loránd-universiteit in Boedapest gedoen en in die Science-joernaal gepubliseer.
Volgens die verslag is honde meer soos mense as wat daar voorheen gedink is. Hulle prosesseer taal in dieselfde breingedeeltes as mense. Die navorsers het 13 gesinshonde gebruik (meestal golden retrievers en skaaphonde) en hulle geleer om stil te sit in ‘n fMRI-skandeerder wat hul breinaktiwiteit meet. Die honde is nie vasgemaak nie en kon enige tyd uitgeloop het.
‘n Vroulike opleier wat aan die honde bekend is, het dan pryswoordjies wat hul eienaars gewoonlik gebruik, vir hulle gesê. Woorde soos “slim hond”, “baie mooi” en dan ook neutrale woorde soos “of” en “as”, wat die navorsers geglo het betekenisloos vir die diere is. Elke hond het elke woord in ‘n neutrale en ‘n gelukkige intonasie gehoor.
Die navorsers het op die breinaktiwiteitsbeelde gesien dat honde die bekende woorde dieselfde as mense in die linkerhemisfeer van die brein geprosesseer het. Die intonasie is weer in die regterhemisfeer nes mense geprosesseer.
Volgens die verslag, kan mooi woorde werk as ‘n beloning, en dit werk die beste as die woorde en intonasie by mekaar pas. Honde kan dus onderskei tussen wat ons sê en hoe ons dit sê en kan die twee kombineer vir ‘n korrekte interpretasie oor wat daardie woorde beteken.