Dink jy jou kind gaan slaap op die regte tyd? Dit verskil moontlik van hierdie slaaptabel …
Zerelda Esterhuizen
Ek onthou as kind moes ons teen agtuur in die bed gewees het. My sewejarige gaan slaap ook agtuur en sy’s binne minute aan die slaap, maar met my vierjarige vat dit veel langer. Hy kan nog maklik tot ná nege op en af paradeer en dis ‘n stryd om hom in die bed te kry.
‘n Amerikaanse onderwyseres, Stacy Karlsen van Wilson Elementary in Kenosha, Wisconsin, het ‘n slaaptydtabel aanlyn geplaas wat “viral” gegaan het en meer as 380 000 keer gedeel is.
Wat dink jy van die tabel?
Slaapprobleme
Die webwerf Sleep Sisters sê ‘n te laat bedtyd kan tot die volgende probleme lei:
1. ‘n Gesukkel om aan die slaap te raak. As jou kind eers verby die natuurlike slaaptyd is, sal die liggaam meer kortisol en selfs adrenalien vervaardig wat hom of haar sal wakker hou.
2. Hy of sy word in die aand wakker. Kinders wat te laat gaan slaap, word dikwels in die nag wakker. Kortisol lei tot swak slaapgehalte.
3. Word te vroeg wakker. Dikwels as kinders te laat gaan slaap, word hulle te vroeg wakker.
4. Min slaap in die algemeen. ‘n Mens kan nie verlore slaap inhaal nie en kinders wat te laat gaan slaap, slaap eenvoudig minder as hul maatjies.
Hier is Sleep Sisters se riglyne van hoe lank kinders behoort te slaap:
Ouderdom Ure
Pasgebore 15–18
1–4 maande 14–15
4–8 maande 14–15
8–10 maande 12–15
10–15 maande 12–14
15 maande–3 jaar 12–14
3–6 jaar 11–13
7–12 jaar 10–11
BRONNE: www.sleepsisters.com