Die dag ná die opening het Verdi aan ? vriend geskrywe: “La traviata was gisteraand ? mislukking. Was die fout myne of dié van die sangers? Die tyd sal leer
Johan Myburgh
Met die dood van Giuseppe Verdi in 1901 was Italië in rou gedompel. Winkels in Milaan was vir drie dae toe en La Scala het al sy teaters gesluit. Verdi se wense vir sy begrafnis was: vroegoggend, geen blomme, geen musiek. En daarby is gehou.
Maar toe die kis by die begraafplaas aankom, was daar ? skare wat die prosessie spontaan gevolg het en “Va, pensiero, sull’ali dorate” (Gaan, gedagtes, op vlerke van goud), die slawekoor uit Nabucco, gesing het.
? Maand later is Verdi en sy vrou, langs wie hy begrawe is, herbegrawe, tydens ? seremonie wat in wese ? staatsbegrafnis was, by die pasvoltooide tehuis vir afgetrede musici in Milaan.
Die stoet met politieke leiers en hoogwaardigheidsbekleërs het die lykswa en ses koetse met kranse en gerwe blomme gevolg. En weer het ? koor van 800 stemme “Va, pensiero” gesing. Met Arturo Toscanini as die dirigent.
Dié eerbetoon het oor meer gegaan as net Verdi se musiek. Teen die draai van die eeu was “Va, pensiero” as’t ware die nasionale lied van die verenigde Italië. In die slawekoor van die Jode in ballingskap wat treur oor hulle verlore vaderland het die Italianers hul eie verlange na vryheid van oorheersing gehoor.
Verdi se musiek was as’t ware die klankbaan vir die stormagtige politieke landskap van die tweede helfte van die 19de eeu. Met die première van Nabucco in La Scala in 1842 was Italië niks meer nie as ? klomp weerbarstige koninkrykies en prinsdomme met kwalik meer as Italiaans wat hulle gebind het.
Benewens die nasionalistiese strewe wat direk of indirek uit Verdi se musiek gespreek het, het hy daarin geslaag om die alledaagse en dikwels minder lofwaardige avonture van menswees met empatie en patos te verbeeld in dramatiese omstandighede. Al hierdie elemente gekombineer het bygedra tot Verdi se sukses as komponis.
Dink maar aan die verhaal van La traviata (Die gevalle vrou) waarin ? prostituut ? morele oorwinning oor ? edelman behaal.
Dié opera in drie bedrywe met ? libretto deur Francesco Maria Piave is geskoei op Alexandre Dumas se verhoogweergawe van sy roman La dame aux camélias (1852). Oorspronklik het Verdi se opera “Violetta”, genoem na die hoofkarakter, geheet, maar dit het as La traviata sy première gehad in Venesië se La Fenice op 6 Maart 1853.
Hoewel Verdi en Piave se oogmerk was om die opera ta laat afspeel “in ons tyd”, het die bestuur van die operahuis aangedring dat dit verplaas moet word na die 1700’s. Dit was eers in die 1880’s dat daar aan die komponis en librettis se eise voldoen is.
Die première in La Fenice was nie ? groot sukses nie, deels omdat die sangers in die hoofrolle, dié van die courtisane Violetta Valéry, haar minnaar Alfredo Germont en dié se pa, Giorgio Germont, nie die pyp kon rook nie.
Die dag ná die opening het Verdi aan ? vriend geskrywe: “La traviata was gisteraand ? mislukking. Was die fout myne of dié van die sangers? Die tyd sal leer.”
Die tyd hét geleer en dié opera het nie net een van die bekendste operas van alle tye en deel van die standaard repertorium geword nie, maar verskeie rolprentweergawes is deur die jare gemaak.
In 1967 het die regisseur Mario Lanfranchi ? weergawe gemaak met Anna Moffo as Violetta, Franco Bonisolli as Alfredo en Gino Bechi as Giorgio Germont. Die koor en orkes van die Teatro dell’Opera di Roma is gedirigeer deur Giuseppe Patanè.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/M57PfVGRR78″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
In 2005 is Willy Decker se produksie van La traviata vir daardie jaar se Salzburg-fees op DVD verfilm en dié weergawe is een van die bekoorlikstes wat beskikbaar is. In die rol van Violetta is die Russiese sopraan Anna Netrebko te sien hoewel die sterre in dié opname Rolando Villazon as Alfredo en Thomas Hampson as Germont is. Die dirigent is Carlo Rizzi en die regisseur is Brian Large.
Oorweeg dié opname op CD
In dié 1955-opname in La Scala het die rolverdeling ingesluit Maria Callas, Giuseppe di Stefano en Ettore Bastianini. Die dirigent is Carlo Maria Giulini. EMI Classics