Tien vrae aan dr. Hanelle Fourie Blair van Stellenbosch wat ’n multimediawoordeboek in gebaretaal ontwikkel:
Wat is jul grootste uitdaging om die woordeboek vir gebaretaal vry te stel?
Die regte span mense en natuurlik baie geld. Ook sal onder meer goeie skrywers, kurrikulum-kenners, programmeerders, inhouds-ontwikkelaars en videograwe benodig.
Wat is die inspirerendste woorde wat jy al ooit gehoor het?
Daar is so baie male wat ek moedeloos voel op hierdie alleen-pad en dan kom daar uit die bloute ’n e-pos of SMS aan. Dit bemoedig my geweldig en dan het ek weer krag om voort te gaan.
Dink jy by dowe-onderrig word daar klem gelê op die verkeerde elemente?
Ja. As jy leer lees en skryf, is dit geskoei op gehoor. Geletterdheid is belangriker as spraakterapie. Opvoeders moet eerder fokus op die verwerwing van taal.
Wat lê op jou bedkassie?
Boeke oor bewus-wees, taal, wetenskap. Ek glo daaraan om teenwoordig te wees in elke oomblik en lees graag hieroor op.
Na wie kyk jy op en wie beskou jy as mentor?
Ek probeer my lewe so outentiek as moontlik leef. Ek is oop vir enige uitkoms. Ek glo as jy so vasklou aan bepaalde idees, kan jy so maklik teleurgestel word. Ek glo ek is op die regte pad en dis deel van die avontuur.
Is daar een universele gebaretaal wat regoor die wêreld gepraat word?
Nee, gebaretaal is nie universeel nie. Daar is natuurlik algemene ooreenkomste, maar taal is ’n lewende ding, dit groei en ontwikkel saam met die gemeenskap waar hy gebruik word en algemene beskrywings wat eie aan daardie streek of land is, word nie elders gevind nie. Gebaretaal is dieselfde.
Wat is jou drome vir hierdie woordeboek?
In hierdie stadium sal ek baie graag ’n voltooide produk met oorspronklike materiaal wil sien. Dan sal ek graag wil sien dat dit in dowe skole gebruik word, en verder ook deur enigiemand wat in SASL (South African Sign Language, of SAGT vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal) belangstel.
Hoe ver van implementering is julle?
Wel, die databasis staan as ’n prototipe, maar ’n programmeerder sal nog bietjie daaraan moet timmer om sekere aspekte daarvan uit te brei. Dan word die hulp van verskeie mense steeds benodig om die inhoud te skep. Pharos het wel belangstelling uitgespreek om die woordeboek uit te gee – ek het nog nie meer spesifiek met hulle oor ’n tydlyn gesels nie (aangesien ek die idee eers binne die dowegemeenskap wou toets) maar ek skat dit sou enigiets tussen ses maande en ’n jaar kon duur om die projek gereed vir gebruik te kry.
As julle hierdie voltooi het, watter ander woordeboek-leemtes vir gestremdes/minderheidsgroepe sien jy raak?
Ek het nog nie heeltemal so ver gedink nie … Maar daar is natuurlik steeds die leemte vir leerders in die intermediêre en senior fases op skool. Ook op universiteitsvlak is daar belangstelling en behoefte aan ’n woordeboek, veral in gevalle waar gebaretaaltolking aangebied word – die dowe studente sowel as die tolke wil die moontlikheid hê om terme na te slaan.