Tate Modern in Londen bied tans ? uitstalling aan van dié kunstenaar wat beskou word as die moeder van Amerikaanse modernisme
Johan Myburg
In November 2014 het ? skildery van Georgia O’Keeffe ? rekordprys op ? veiling van Sotheby’s in New York behaal. Jimson Weed, White Flower No 1 is vir 44,4 miljoen Amerikaanse dollar verkoop, drie keer meer as die vorige rekord vir ? werk van ? vrouekunstenaar.
Dié skildery is aangekoop deur die Amerikaanse miljardêr Alice Walton en word vertoon in die Arkansas-kunsmuseum, wat sy op die been gebring het. Walton het die skildery gekoop toe die Georgia O’Keeffe-museum in Nieu-Mexiko dit te koop aangebied het om geld in te samel vir sy aankoopfonds.
Tate Modern in Londen bied tans ? uitstalling aan van dié kunstenaar wat beskou word as die moeder van Amerikaanse modernisme. Benewens Jimson Weed, White Flower No 1 sluit die uitstalling, Georgia O’Keeffe, van haar bekendste skilderye in, doeke van oorgroot-blomme, diereskedels en landskappe van Nieu-Mexiko. Meer as 100 skilderye uit die jare 1915 tot die laat-1960’s is ingesluit. Die uitstalling duur tot Oktober.
O’Keeffe (1887-1986) se eerste uitstalling is 100 jaar gelede in New York se Galery 291 aangebied. Dit het bestaan uit abstrakte werke in houtskool wat sy in 1915 gemaak het toe sy in Suid-Carolina gewoon en werk het. Dié werk het gevolg op ? periode waarin sy ná haar kunsstudie aan die kunsskool van die Art Institute of Chicago (AIC) geen kuns gemaak het nie.
Die eienaar van 291 was die kunshandelaar en bekende fotograaf Alfred Stieglitz, die man met wie sy later getroud is.
Hoewel O’Keeffe in daardie stadium nog nie in Europa was nie, het sy kennis gemaak met modernisme deur middel van uitstallings wat Stieglitz aangebied het. Sy het veral aanklank gevind by Vasily Kandinsky se siening oor spiritualiteit in kuns, en spesifiek sy opmerking dat kunstenaars musiek moet kan verbeeld om suiwer uitdrukking, vry van literêre verwysings, tot stand te kan bring. ? Vroeë werk wat hierdie siening weerspieël is O’Keeffe se Blue and Green Music van 1919/21 wat in die versameling van die AIC is.
In 1929 het O’Keeffe die eerste van vele besoeke gebring aan die noordelike dele van Nieu-Mexiko. Dit was veral die landskap, die inheemse kuns en die streeksargitektuur wat haar werk in ? nuwe rigting gestuur het. Ná Stieglitz se dood in 1946 het sy haar in 1949 in Abiquiu, Nieu-Mexiko, gevestig.
Haar skilderye van dié streek het saamgeval met ? groeiende waardering en beklemtoning deur die Amerikaanse modernisme van landskappe eie aan dié land. Maar bowenal is dit persoonlike band met die landskap wat seëvier in haar eenvoudige dog verfynde voorstellings van Nieu-Mexiko.
Kort daarna het sy wyer begin reis – ook na plekke soos die gebergtes van Peru en Berg Foedji in Japan. In haar 70’s het sy begin met ? nuwe reeks skilderye oor wolke en riviere.
Jimson Weed, White Flower No 1 word allerweë beskou as ? voorbeeld van O’Keeffe se verkenning van die stillewe as dissipline – en boonop dan met blomme, waarvoor sy so bekend is, as tema. Dié onkruid, bekend as gewone stinkblaar, was een van haar gunstelinge en het geil gegroei op haar Abiquiu-patio.
Die laaste skildery wat sy op eie stoom voltooi het, was in 1972 toe sy 85 was. Op 90 en met slegs periferale sig oor het sy gesê: “Ek kan steeds sien wat ek wil verf. Ek het steeds daardie ding wat ? mens iets wil laat maak.”
Georgia O’Keeffe is op 6 Maart 1986 dood in Santa Fe. Sy was 98.
Georgia O’Keeffe se Jimson Weed / White Flower No 1, 1932, olie op doek (121,9 by 101,6 cm).
Georgia O’Keeffe se Blue and Green Music, 1919/21, olie op doek (58,4 x 48,3 cm). Dié werk is in die besit van die Art Institute of Chicago.
Georgia O’Keeffe en Alfred Stieglitz in New York, 1944
? Kort dokumentêre prent, Georgia O’Keeffe: A Life in Art, met Gene Hackman as die aanbieder.