’n Mens is nooit te oud om te leer óf jouself en jou talente te ontdek nie. Elena Farao van Bredasdorp word in Oktober 76 en is ’n sprekende voorbeeld hiervan, skryf Maryke Roberts. Lees meer oor Elena in ons 5 Augustus-uitgawe. Sy beantwoord nog vrae hier:
Nege vrae aan Elena Farao, ’n skilder, digter, toneelspeler en inspirasie vir ander, wat op Bredasdorp woon:
Jy het swaar grootgeword. Watter raad het jy aan skoolgaande kinders?
Waardeer die voorregte wat julle het. Gryp geleenthede aan wat vir julle geskep word.
Watter hoop het jy vir die jeug van vandag?
Dat ons almal met ons positiewe voorbeeld iets in ’n kind se hart kan opwek. Ons weet nie watter verborge talente in daardie kind gelê is nie.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Dat ons almal mekaar met liefde en vrede kan oorlaai.
Wat is jou lewensleuse?
Harde werk en liefde oorwin alles. Waar daar liefde is, is daar vrede.
Na wie kyk jy op?
Die kerk se mense sien almal na my om en is daar as ek hulp nodig het. Verder veg ek self en leun op my Skepper.
Watter een van jou gedigte is vir jou die kosbaarsste?
Hulle lê my almal na aan die hart, want hulle kom almal uit my hart. Ek lees soms van my vorige gedigte en kan regtig glo dis ek wat dit geskryf het nie.
Wanneer het jy begin skilder?
Ek hou van altyd af van inkleur en verf. Ek was 13 toe my ma vir my ’n inkleurboek, Jingle Dingle-inkleurboek, gekoop het. Ek het dit vandag nog.
Waar kom jou verf en skilderdoeke vandaan?
Die verf koop ek, maar dis baie duur. Ek gebruik optelstukke bord of hout om op te verf. Die vullisgat is ’n groot bron vir my.
Waar kry jy al die goed waarmee jy jou werf versier – die motorbande, ou wasbakke, toiletbakke en klippe?
Ek gebruik net ander se weggooigoed. Geld het ek nie om goed te koop nie. Die vullisgat hier om die draai is my Pep Stores, my Build It, my Foschini. Ek laai al my tuinvullis op my rug en gooi dit by die vullisgat af; dan sleep of dra ek weer my nuwe inspirasies terug huis toe. As ek iets optel, het ek klaar ’n prentjie in my kop wat dit sal word.
SOURCES
CLIFFORD ROBERTS