Alicia Rechner het vanjaar haar tiende pars by Backsberg voltooi, hoewel sy al sedert 2001 daar wynmaker is.
Maryke Roberts
Sy was vier jaar weg van die plaas, maar het in 2012 teruggekeer. Sy onthou hoe sy as groentjie uit Duitsland op ‘n Saterdagaand Kaap toe gevlieg het vir ‘n werksonderhoud by Michael en Jill Back en by die kombuistafel oor iets te ete haar onderhoud gehad het.
Sy lag nou nog as sy dink hoe Jill haar gevra het: “Is jy bang?” en Alicia haar vol bravade in die oë gekyk het en gevra het: “Lyk ek bang?” Sy vertel dat sy só jonk en onkundig was, dat sy nie eens geweet het wat sy nie weet nie!
Sy glo dit neem ten minste 10 tot 20 jaar voor jy regtig weet wat jy doen en ná 20 jaar maak sy nog steeds foute.
Alicia en haar gesin woon op die plaas. “Ek kan in die middel van die nag in my pajamas kelder toe loop.” Haar man is Simon, is ‘n Australiër wat al 14 jaar in Suid-Afrika woon, en hulle het twee seuns, Enzo, 12 en Levi, 10.
Hoekom wynmaker?
Ek het in die Kaap grootgeword. Net voor my 16de verjaarsdag het ons gesin na Villiersdorp, ‘n klein dorp op die Theewaterskloofdam in die Overberg, verhuis. Daar het ek die eerste maal regtig plattelandse mense leer ken. Ek was versot op die stilte van die plaas, die mense en die ongejaagdheid van alles. Toe dit tyd word vir studeer, was ek vasberade om ‘n plaasboer te word. Dit het my so ‘n paar klasse in veekunde geneem voor ek besef het ek gaan nie ‘n veeboer kan word nie. Gelukkig is die BSc-graad se eerste jaar almal basies dieselfde en ´n mens kan maklik in jou eerste jaar nog rigting verander. Gelukkig kon ek deur ‘n vriendin omgepraat word om saam met haar ‘n Wynkundeklas by te woon en siedaar! Dit was die ware rigting. Ek het dadelik, dadelik geweet dis reg.
Kan jy jou eerste probeerslag onthou?
Ja, as student was ek was so opgewonde, toe ek ‘n naweek huis toe gaan, het ek en my pa wyn probeer maak van die druiwe van ons prieel. Toe die “wyn” na 3 weke nog so vaal in die glas lyk, is ek met ‘n klein botteltjie universiteit toe. Ons dosent kon nie glo wat ek hom vra of wys nie – ek dink daardie dag het hy my as ‘n verlore saak afgeskryf. Maar ons het aangehou en uitgehou en hier is ek vandag. Ek weet darem nou van watter druiwe jy kan wyn maak en wat lyk net mooi!
Waar was jy voor jou huidige pos?
My eerste pars was by Rooiberg Kelder in Robertson, gevolg deur ‘n pars by Stellenzicht in Stellenbosch. Toe twee parse in Australië en twee in Duitsland. Toe sewe parse by Backsberg. In die vier jaar wat ek nie by Backsberg was nie, het ek by DGB in Franschhoek en Wellington, Iona in Elgin en by Seidelberg gewerk, wat toe Fairview in die Paarl geword het, voor ek in 2012 weer by Backsberg ingeval het.
Wat was jou tiener-drome oor jou toekoms en jou beroep?
Ek wou net op ‘n plaas bly. Ek het nie regtig gedink wat ek moet doen om dit te kan regkry en wat dit gaan behels nie, maar daai deel van die droom wou ek hê.
Is jy tevrede met die plaas se beeld onder die publiek?
Ek kan nie sê ek weet wat die publiek van Backsberg dink nie. My susters het op ‘n stadium gedink ek sit heeldag met ‘n glas wyn en uitkyk oor die wingerde! Ek dink Backsberg is ‘n natuurlike, gemaklike plek, met goeie waardes en goeie wyn.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies en neem julle gereeld deel?
Vir my is dit papierwerk en die onthou om die wyn op die regte dag af te laai. Ek het soveel goed om te onthou, dis net nog iets om te moet invul. Maar, ai, as daar iets gouds uitkom, is dit amazing. Dan was dit die moeite werd. Ons neem deel as ek onthou om in te skryf en die wyn op die regte dag by die regte plek te laat aflaai!
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die kleur en helderheid. Ek glo in die energie wat kosse en vloeistowwe in jou lyf skep en ‘n goue glas wyn bring sonskyn in jou siel in. Terwyl ‘n pienk glas jou ondeund laat en ‘n helder rooi, pers, swart glas wyn…en so kan ons aangaan. Veral as jy deur ‘n lig daarna kyk. Dis baie mooi, die kleur van wyn.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
‘n Ou oom het eendag in Australië vir my gesê ek moet ontspan: “You are pumping wine, not blood.” Ek dink nou nog daaraan as ek ‘n klein paniek-aanvalletjie kry.
Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Die duur ingevoerde produkte wat ons gebruik. Meeste van ons chemikalieë kom uit Europa – ons vate, van ons bottels, ons kurke. Dit is skielik bitter duur en ons kan nie die ekstra kostes van ons prys verhaal nie. Ons moet dit absorbeer. Mense gaan kreatief moet word.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Dat ek kon kinders grootmaak, reg langs my werkplek.
Hoe kan wyn beter aan die publiek bemark word?
Ek is nie ‘n groot voorstander van drankbemarking nie. Maar natuurlik is dit baie van ons se enigste inkomste, maar as ons ‘n leemte sien, vul Backsberg hom gewoonlik baie vinnig. Ons het al baie, baie lawwe goed gedoen.
Wat is die grootste fout wat verbruikers maak as hulle wyn tuis bêre?
Baie foute is hier moontlik. Moenie ‘n kurkbottel laat regop staan nie. Die kurk droog uit en die wyn oksideer. Dis vir my baie moeilik om te sien hoe ons goeie gekurkte wyn op die supermarkrakke staan. Koop dit en drink dit! As jy dit wil stoor, kom koop dit op die plaas of in ‘n goeie wynwinkel. Wyn hou nie van temperature bo 25 grade Celsius nie.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
In die ses weke van pars staan niks stil nie. Dit lewe die hele, hele tyd. As jy nie die pas van pars kan uitstaan nie, kan jy nie wynmaak nie. Elke dag nuwe druiwe, nuwe tenke, nuwe informasie… dit kom vinnig en dit kom aanhoudend. Net ses weke. Dit klink kort. Maar dis sewe dae ‘n week en jy sit nie die gistenke af en gaan slaap nie. Hulle gis! Jy het ook net ses weke om die hele pars in jou kelder in te neem en as jy nie kan uithou nie, kan jy ‘n hele kelder vol slegte wyn in ses weke maak. Jy het net eenkeer ‘n jaar tyd om dit presies reg te kry en jy kan dit nie oordoen as jy ‘n fout maak nie.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Dat ek naby die kelder kan bly. Dat ek op ‘n plaas kan bly. Dat ons iets op ‘n plant sien, dit gebruik en later in ‘n bottel verpak. Dat mense daarvan hou en dit weer koop. Dat ek elke jaar weer ‘n kans kry om te kyk of ek minder foute kan maak.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Backsberg MCC Brut. Dit is baie moeilik om vonkelwyn te maak. My senuwees is totaal klaar net voor ons dit vir die tweede keer moet bottel. As dit na ‘n jaar gewerk het, kan ek dit nie glo nie en elke keer as daai kurk skiet, wil ek huil van dankbaarheid! Dan drink ek dit ook graag om myself te herinner dat ek my te veel oor alles bekommer.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Al rede hoekom iemand sal bang wees om ‘n nuwe wyn te drink, is omdat hy bang is hy mors sy geld. Of hoekom anders? Maak dan ‘n wynfonds bymekaar en koop elke maand x hoeveelheid wyn, met 1 nuwe een elke maand.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“No one can whistle a symphony. It takes a whole orchestra to play it.” Wyn is ons simfonie met baie mense in ons orkes wat die storie tot ‘n glas in jou hand kry.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie toe gaan jy vir raad?
Boela Gerber was my goeie vriend wat my Backsberg se wynmaker-werk help kry het, hy maak wonderlike wyn in die mees historiese kelder van ons land; Abrie Beeselaar was my klasmaat en is nou die topwynmaker in ons land; Elzette du Preez, wat tot nou toe by De Grendel MCC Brut gemaak het en dit maklik laat lyk het en die wynmakers by die KWV wat die sjerrie maak… ek wil dit ook eendag nog kan doen.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ek wil ‘n groot hout Wendyhuis vir ‘n padwinkel hê. Hy moet staan waar daar woud en see is. Mense moet my tuisgemaakte goed kom koop. Ek sal heeldag sit en goed maak. As ek myself en vir wie ek verantwoordelik is met die verkoop van my gemaakte produk aan die lewe kan hou en elke dag langs die see en in die woud kan gaan stap, sal ek in die wolke wees.
SOURCES
verskaf