Dis Dame Maggie Smith se karakter wat in The Best Exotic Marigold Hotel sê: “At my age I don’t plan that far ahead. I don’t even buy green bananas.” Dis juis dié tipe humorsin wat bevestig dat ouderdom inderdaad net ’n getal is.
Dit lyk vir my op 80 is ’n mens se gô nog lank nie uit nie – inteendeel. Maggie se jare lange vriendin Dame Judi Dench, wat ook 81 is, het onlangs vir dié verjaardag haar eerste tatoe laat aanbring met die woorde: “carpe diem”. Dis ook sy wat op 80 gesê het: “It’s the rudest word in my dictionary, ‘retire’. And ‘old’ is another one, I don’t allow that in my house. And being called ‘vintage’. I don’t want any of those old words. I like ‘enthusiastic’.”
Dit laat my dink aan my oupa wat op 96 nog saam met my pa ’n splinternuwe paar skoene gaan koop het en tot kort voor sy dood saam met my ’n bottel wyn by pikante restauranttafeltjies kon kafdraf. Dis waarskynlik hoekom ek nie verbaas was nie toe ek so twee weke gelede met my pa (81) praat en hy my vertel dat hy gelukkig net ’n blou oog en nerf-af knieg het nadat hy daai oggend tydens sy daaglikse draf op die nat sypaadjie gegly en met die aarde kennis gemaak het. Dis hulle, en ander tagtig-plussers met woema, soos Mary-Ann Olivier, (bl 12) wat my opgewonde maak oor dit wat nog voorlê.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.